Waterblommetjies uit die Boland
Wanneer die temperature daal en die winterwolke sagte Kaapse reën begin gooi, verskyn daar saam met die kaggelvure groot potte bredies op Kaapse stowe. Nie sommer enige bredie nie, maar waterblommetjiebredie, gewoonlik met ’n lekker stukkie vet skaapvleis
Mense wat mal is oor waterblommetjies, sal ongelooflik baie moeite doen om dit in die hande te kry,” vertel Chrizelle Everson, wat op die plaasWelgemeend nabyWolseley met waterblommetjies boer.
Sy is dikwels verbaas waar mense haar nommer in die hande kry op soek na dié lekkernye. Dis gewoonlik nog nie eens behoorlik winter nie, dan begin lui haar foon al.
“Verlede jaar het ’n vrou al die pad van Mosselbaai af gery om gou te kom waterblomme haal, want sy móét net blomme kry. En daar is iemand van Fochville – dis bitter ver van hier – wat elke jaar hul vakansie só reël sodat hulle kan kom waterblomme haal.”
Waterblommetjies is al van die HantamHottentotte se tyd ’n gunstelingkos aan die Kaap. “Dit verteenwoordig ’n ingebore trots in elke Bolander. In die ou dae is waterblommetjies as ’n goedkoop groentesoort beskou, veral as geld maar skaars was.
“Deesdae is dit ’n eksotiese gereg wat saam met tradisionele boerekos bedien word,” staan in ’n ou dokument oor waterblomme wat Chrizelle aangestuur het.
Wanneer die somer op sy rug lê, begin al wat Bolander is uitsien daarna dat die welriekende blommetjies in ligpienk glorie hul verskyning op damme en slote maak.
“Mense wat lief is vir waterblommetjies het almal ’n spesifieke resep, hulle weet presies wat om daarmee te maak en hoe om dit in die vrieskas te sit,” sê Chrizelle.
BO: Charlene Jumat, Leana Rooi, Riaan Rooi en Jean Manies oes waterblommetjies op Welgemeend. Die blomme word aan die lang stingels uitgetrek en dan afgebreek. Só produseer die knolle gouer weer blomme.
Sy het op Ceres grootgeword, en hulle het ook ’n waterblommetjiedam op die plaas gehad. Om die blommetjies te oes, moet iemand natuurlik die ysige water trotseer.
“Dit was my boetie en sy plaasmaatjies se werk om met ’n bootjie in te roei en ’n paar blommetjies te pluk,” onthou sy.
Haar ma het geglo waterblommetjies moet papsag gekook word, maar haar man, Johan, verkies weer dat die blommetjies ferm bly.
“Ons sal graag op Sondae wanneer ons kuiermense kry vir hulle waterblommetjiebredie maak, sommer in ’n pot oor die vuur.
“Soms maak ek ’n waterblommetjiesop. Ons maak dit met skaapvleis – dit moet vet skaap wees. ’n Man met ’n restaurant het eendag vir my gesê daar móét ’n bietjie spek ook in wees,” vertel sy.
Die ander belangrike ding is ’n surigheidjie. “Die outydse ding is mos om surings – wat wintertyd oral in die veld staan – in te gooi, maar ons gooi sommer ’n suurlemoen by.”
Chrizelle vertel sy het al van die lekkerste én eienaardigste waterblommetjieresepte gehoor. “Daar is mense wat ’n degie maak en dit bak in ’n olie. Ander sê weer hulle gooi tuna in, wat vir my nogal vreemd klink.”
INHEEMS AAN WES-KAAP
Waterblommetjies ( Aponogeton distachyos) kom voor in skoon varswaterdamme en vleie wat gewoonlik tydens die warm somers opdroog en volloop danksy winterreënval.
Die knolle oorleef die dorre somermaande in die droë beddings (dikwels word dit yster
vark- of molkos). Binne drie weke ná die eerste reën verskyn die waterblomme.
Lang stele (600 mm tot 2 m lank) groei uit die knolle en die plant se blare en blomme dryf bo-op die water. Die blomme word met die lang steel en al gepluk, want dit stimuleer nuwe groei.
As jy net die waterblommetjie afbreek, moet die steel eers afvrot voor ’n nuwe stingel verskyn en ’n blommetjie maak.
Welgemeend se waterblommetjiedamme is al baie oud.
“’n Vorige eienaar het graag gesê sy het haar kinders laat leer met waterblommetjiegeld – en dis meer as 24 jaar gelede. Die plaas is aan iemand anders verkoop en die damme is toegestoot.
“Johan is ’n ingenieur, maar hy het nog sowat vyf ure per week gehad wat hy niks gedoen het nie, en het besluit om met pere
en sitrus te boer. Toe ons die plaas koop, het ons weer die ses damme oopgemaak.”
Intussen is die damme aan die staat verkoop en Chrizelle tree op as mentor en behartig verkope vir die waterblommetjieboerdery.
“Dis ’n wonderlike werkskeppingsprojek, want hier werk omtrent ses mense in die winter by die damme. In die somer, tydens die vrugteseisoen, werk hulle in die boorde, maar in die winter het hulle nie eintlik ander werk nie. Die plaasvroue hou ook daarvan om met die waterblomme te werk, want hulle kuier heerlik rondom die dam. Hulle sit daar en breek blomme en jy hoor van ver af hoe hulle lag en gesels.”
Die vroue pluk tussen 100 en 200 kg elke week vir 10 weke lank.
DROOGTE BRING UITDAGINGS
Gewoonlik het Chrizelle-hulle hul damme teen einde Maart, April volgemaak, maar weens die droogte in die Wes-Kaap doen hulle dit nou later.
“Baie mense het met die droogte opgehou om met waterblomme te boer. Op ’n tyd was ek regtig die enigste plaas met waterblomme. Omdat daar so min water in die Wes-Kaap was, het elke eendjie in die provinsie op ons damme toegesak toe ons dit volmaak.
“Hulle vreet graag die blommetjies. Nou wag ons eers dat dit ’n bietjie gereën het sodat daar ander damme vir die voëls is voor ons ons damme volmaak.”
Dit beteken sy kan eers van Junie af begin oes – al soebat mense ook hóé dat sy vroeër blomme moet gereed hê.
“Dis sleg, want sodra dit koud raak, hier begin Mei, wil almal waterblomme hê. Teen Augustus, wanneer jy baie blomme het, is die mense half klaar geëet daaraan. Op die oomblik begin ons Junie oes, en dit hou aan tot omtrent middel Oktober.”
Gewoonlik is mense só gretig om blomme in die hande te kry, dat hulle nie eens omgee of dit gewas word of nie.
“Ons damme se water sirkuleer voortdurend. Ons blomme is dus skoon en glad nie sanderig nie. Jy moet dit egter in ’n bietjie soutwater laat lê ingeval daar ’n goggatjie op voorkom.”
Hul waterblommetjies is organies en vry van plaagdoders.
Chrizelle verpak dit in 1 kg-sakkies en dit wat nie van die plaas af verkoop word nie, versprei sy aan padstalle, tot so ver as Kleinmond.
“Waterblomme kan baie lank in jou yskas hou; maklik tot twee weke. Dit vries ook baie goed. Gewoonlik blansjeer jy dit voor die tyd, maar verskeie van die restaurante wat by my koop, sê hulle vat die sak net so en vries dit. Hulle blansjeer dit glad nie.”
Diefstal – gewoonlik om die blommetjies teen die pad te verkoop – is een van haar groot hoofbrekens. Dikwels pak hulle ook die sakke vol klippe sodat swaarder voel.
“Tog haal ek my hoed af vir iemand wat kans sien om waterblommetjies te steel. Onthou, dis die middel van die winter en hulle gaan dikwels kaal in die damme in om die blomme te steel.
“As ons werkers hulle vang, hardloop hulle kaal weg ook. Ongelukkig is diefstal baie erg en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie.”
Sy waarsku juis dat die diewe dikwels die wit blomme verkoop, terwyl mens eintlik agter die groen deel aan is.
“Jy gebruik nie die wit blommetjie nie, maar die groen deel. Die plaasmense noem dit die ‘kos’. Ons breek die wit stukkie af voor ons dit verpak, want dit is nie ‘kos’ nie.”
Oor die voedingswaarde van dié kos is nie veel bekend nie, maar wanneer dit by smaak kom, hou min vas by die kontreikos. So maak gerus soos die bekende liedjie sê: “Waterblommetjies in die Boland, waterblommetjies in die Kaap. Maak die bredie net soos in die wynland . . .”
‘Die plaasvroue hou ook daarvan ommet diewaterblomme te werk, wanthulle kuier heerlik rondom die dam. Hulle sit daar en breek blomme en jyhoorvanveraf hoe hulle lag en gesels.’