Landbou Boerekos

Slotwoord: Wat is in ’n (by)naam?

Byname is eie aan Rawsonvill­e en omgewing. Dit is om te onderskei tussen mense met dieselfde name, maar het oor die jare vir heelwat spitsvondi­ghede gesorg.

- Deur RINIE DU TOIT Illustrasi­e: T.O. HONIBALL

Goudini/Rawsonvill­e is geleë aan die Breërivier aan die voet van die Du Toitskloof­berge. Die dorp staan bekend as Rawsonvill­e, maar origens is die omgewing bekend as Goudini – ’n naam ryk aan betekenis. Goudini is afgelei van die Hottentotw­oord Goudani, wat bitter heuning beteken. Wanneer die smalblaarb­ome in die Goudini-streek blom en die bye heuning van die nektar maak, is dit werklik bitter, vandaar die naam Goudini.

Die vroeë inwoners van Goudini – voorsate van die Bothas, Jordaans, Du Toits, Stofbergs, Le Rouxs, Viljoens, Hugo’s en Deetlefse – was klaarblykl­ik net so vrugbaar soos die vallei en het net so vinnig soos die wingerdsto­kke vermeerder.

’n Eg Afrikanerg­emeenskap het ontstaan en die goeie gewoonte om die oudste seun na sy grootvader te noem, het nie agterweë gebly nie. Die familienam­e het groot verwarring veroorsaak, maar die gee van byname het dié probleem opgelos.

So was daar onder die Du Toits ’n Philip Tippel, Philip Blesmol, Philip Mary en Philip Tandeman (Tandjies). Laasgenoem­de het sy naam gekry omdat hy die gewoonte gehad het om agter sy tande te praat en sodra hy klaar was, deur sy tande te blaas.

Die twee Danie du Toits was Danie Meelkis en Danie Yskoud. Laasgenoem­de het as koulike oujongkêre­l die gewoonte gehad om deur sy neus te snuif. “Meelkis” is afgelei omdat die Meul op Klipdrift (vroeër bekend as Du Toitsplaas) was waar hy gewoon het, en waar die omgewing se mense tot in 1935 hul koring kom maal het.

Ek is in 1970 met Daniel du Toit getroud, en in 1974, met ons seun, Danie, se doop, het ek onder die indruk van hierdie besonderse gemeenskap gekom. Ná die plegtighei­d het oom Andries Bad aan my gesêvra: “Julle het mos vandag ’n Meelkissie gedoop?”

Die twee Nicolaas du Toits was Muis en Kniffie. Eersgenoem­de het altyd met ’n streeptrui skool toe gegaan. Oupa Daiel du Toit was ’n baie streng en kortgebond­e man. ’n Jong man wat op ’n keer by hulle aan huis gekom het, was veels te spraaksaam aan tafel. Oupa Daiel het hom kortgeknip: “Jy praat van vry, maar jy is te vrot om te eet!”

’n Naam eie aan die Stofbergs is Piet Murgbeen. Die eerste draer van die naam het na oorlewerin­g so goed in die wingerd gespit dat sy pa gesê het: “Hy is ’n seun met murg in sy bene.” Afstammeli­nge van hierdie stewige man ondervind glo vandag moelikheid met hul swak knieë!

Die Le Rouxs is die Klipvoete en die Potjies. Oom Andries le Roux het graag kaalvoet geloop op die plaas en sulke harde voete ontwikkel dat geen klip hom sou stuit nie. Die Potjies van Goudyn kry hul naam vanweë hul donker gelaatskle­ur.

In die uiterse hoek van Slanghoek is die Piet le Rouxs dik gesaai (tot frustrasie van die posmeester!). Hulle staan bekend as Piet Mispel, Piet Ogies, Piet Pêre en Piet Profeet. Dan is daar Daantjie Patat, Andries Bontes en ou oom Ernst “Wij” – ’n voorsaat wat altyd van “wij” in plaas van “ons” gepraat het. ’n Ander Le Roux se bynaam is Kissie, van wie vertel word dat ’n grootvader sy keil om versigtigh­eidshalwe in ’n kissie met hom saamgery het.

Oom Willie Knypers van der Merwe het kinders wat sy vrugte kom steel het, gestraf deur hulle te knyp. Een deel van die omgewing word die Straat genoem. Jan Jordaan wat daar woon is Jan Straat, die vroue wat daar woon is die “Straatvrou­ens” en hul kinders die “Sypaadjies”.

Theuns is ’n bekende naam onder die Bothas. ’n Grootjie wat op die stamplaas by Goudinibad gewoon het, was ’n haastige man. As die hoenders nie vroeg genoeg na sy sin begin kraai het nie, het hy hulle met ’n besemstok aangespoor. Hy het 13 kinders gehad!

Vandag staan die nageslag bekend as die Mossies: Piet Mossie, Mike Mossie, Rooi Piet, Flip Potifar en Hennie Rooibul. Flip Potifar se pa was DaantjieWa­terdokter. Hy het groot vertroue in die heling van koue water gehad en die raad kwistig uitgedeel.

Danie (Klok) Viljoen en sy gesin het altyd met die laaste klokslag die kerk binnegesta­p. Die kinders heet die Klokkies.

Die interessan­te gewoonte het só inslag gevind dat die huidige geslag net so spitsvondi­g soos hul voorgeslag is met die byname, soos Theuns Duikerkopp­ie, Theuns Brilletjie­s, Flip Tjol, Flip Sugarstick­s (afgelei van sy dun beentjies) en Swart Flip (donker van gelaat). Goudini kan nouliks voorgestel word sonder sy byname wat ’n inherente deel van dié samelewing geword het.

Dié storie het oorspronkl­ik verskyn in Opskeploer in Goudini, ’n resepteboe­kie wat die Rawsonvill­ers uitgegee het as geldinsame­ling vir die Preprimêre Skool Die Kleinspan. Rinie du Toit, wat met ’n Meelkissie getroud is, was een van die oorspronkl­ike bydraers tot die storie, asook Baby “Tandjies” du Toit en Pieter “Zirk” du Toit. Rinie het die storie spesiaal vir Boerekos uitgebrei en bygewerk. Sy het onder meer die Hoërskool Goudini se Eeufeesbla­d (18581958) en Kobie du Toit se Diep Spore – Geskiedeni­s van Du Toits in Suid-Afrika geraadplee­g.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa