DIE GEURVAN MENSWEES
Vergeet diamante of goud, die wonderlike kombinasie van speserye in daardie bobotie voor jou op die tafel is eintlik die rede hoekom ons almal onsself vandag hier aan die suidpunt van Afrika bevind.
Al duisende jare lank is die unieke geure van speserye só gesog dat smouse en handelaars hul lewe sou waag om die veeleisende landreis vanaf Europa met pakdiere na die Ooste aan te durf. Oor vlaktes, berge en woestyne, en dan weer al die pad terug. Net omdat die wonderlike eienskappe van speserye so hoog geag is.
Daar word beweer die mens se fassinasie met speserye het aanvanklik met die antieke Egiptenare begin. Hul behoefte aan speserye om hul afgestorwenes te mummifiseer, is blykbaar die vonk wat die vraag na speserye in die vroeë beskawings van die Midde-Ooste laat vlamvat het.
Só lees ’n mens in die Bybel van Josef wat deur sy broers aan speseryhandelaars op pad Egipte toe verkoop is, en teen die tyd dat koning Salomo sy Hooglied geskryf het, was die verruklike geure van speserye genoeg van ’n verskynsel in die destydse samelewings dat dit as ’n heel gepaste metafoor vir die skoonheid van sy twyfelagtige geliefde kon dien. Honderde jare lank was die Egiptiese hawestad Alexandria een van die hoofhandelsentrums vir speserye. Namate die kern van die politieke mag al hoe verder noord geskuif het – eers met die opkoms en invloed van die ontsagwekkende, duisendjarige Romeinse Ryk en later met die opgang van die Katolieke Kerk – was dit toenemend die skrander smouse van Venesië wat geld uit Europa se onversadigbare vraag na speserye gemaak het.
Met die verloop van tyd het die Turke van die invloedryke Ottomaanse ryk, soos enige vetgevrete, burokratiese staat, besluit dat dit ’n goeie idee sal wees om die hoogs winsgewende speseryhandelsroete na Asië swaar te belas. Skielik moesdaar ander planne gemaak word.
Die Portugees Vasco da Gama het uiteindelik in 1497 die Turke gepypkan en suksesvol om die Kaap tot by Indië geseil vir dié land se speserye. Van daar het dinge lekker verloop. Binne net meer as honderd jaar het die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie se seilskepe speserye só bedrywig om die Kaap terug Europa toe van Asië af gekarwei dat hy die Google van sy tyd geword het. Die wêreld se eerste ware internasionale maatskappy.
Die Kaap het alles moontlik gemaak. Daar kon skepe op pad Europa toe op die halfpadmerk vleis, vars water en vars groente en vrugte kry, wat die gevreesde skeurbuik teenwerk wat matrose op die destydse lang seereise geteister het. Die Kaap het só gegroei dat slawe toenemend uit die Ooste ingevoer moes word om op die plase en in die huise van die bultende nedersettings te werk. Hul speserybelaaide kostradisie het saamgekom. Die hitte moes wel ’n bietjie afgeskaal word vir die onderontwikkelde palet van Hollanders en later Franse wat rof genoeg was om na die uithoeke van die handelsryk te kom. ’n Komplekse kookkuns het ontwikkel wat vandag voortleef in die wonderlike, subtiele brijani’s van die stoere tannies van die Kaapse Vlakte wat op hul gelukkigste is wanneer hulle kook.
Later, namate die nuwe nasie in die vasteland ingegroei het, is goedkoop arbeid weer gesoek. Dié keer was dit die Britse Ryk wat ’n uitsonderlike, speserybelaaide toevoeging tot Suid-Afrika se kostradisie gemaak het. Vanaf 1860 is 200 000 Indiese werkers van een hoek van die ryk na ’n ander geskuif om op Natal se suikerplase te werk. Hulle was brandarm en nie veel beter af as slawe nie. Die geurige sous van ’n hedendaagse Durbanse bunny chow is die uiteinde van die “lang souse” wat destyds ontwikkel is om baie mense goedkoop te kan voer. Vandag is Durban waarskynlik die grootste Indiese stad buite Indië, met die suiwerste hoogtepunt van sy kooktradisie wat heel moontlik in die gepas genoemde Britannia Hotel, ’n Victoriaanse oorblyfsel in Springfield, Durban, geproe kan word.
Met anysbeskuit op Alldays in die Bosveld en speserykoekies in Nelspruit se subtropiese eden, het die Groot Trek gesorg dat speserye dit uiteindelik tot in die verste uithoeke van Suid-Afrika gemaak het. ’n Wonderlike kostradisie wat van ver oor die see kom.
Dit is ’n tradisie wat mooi vasgevang word deur redakteur Arina du Plessis se respekvolle interpretasie van eeue-oue resepte, skrywer Lucille Botha se verheldering van kosgeskiedenis deur ’n blote brokkie oor ’n Indiese rissieboer, en uitlegkunstenaar Lynn Campbell se sielvolle uitlegte.
Dít alles leer net: Vind die regte kombinasie speserye in daardie wonderlike kerrie, en reis deur die eeue! Lekker lees.
CHRIS BURGESS
Hoofredakteur