Landbou Boerekos

GALLIOVA-TOEKENNING VIR LANDBOU BOEREKOS

’n Mens besef dikwels eers die waarde van kosbare oomblikke wanneer dit herinnerin­ge word. Gelukkig het bekende geure die vermoë om tyd en afstand te laat wegkwyn.

-

In Oktober 2020 is die redakteur van Landbou Boerekos, Arina du Plessis, bekroon as kosskrywer van die jaar deur die toonaangew­ende Galliova-toekenning­s – die Oscars van die kosbedryf.

Chris Burgess, redakteur van Landbouwee­kblad, het in reaksie op dié nuus gesê Arina is een van die gevoelvols­te kosskrywer­s wat hy nóg teëgekom het.

“Arina verstaan die siel van platteland­se kos. Sy leef dit, sy is dit, sy is heeltemal outentiek.”

Lucille Botha, assistentr­edakteur wat ook nou by Boerekos betrokke is, sê Arina beweeg naby aan haar lesers en maak altyd tyd om hulle met raad oor resepte of spyskaarte by te staan.

“Dit is hoekom sy presies weet watter resepte haar lesers geniet en waardevol vind. En dit is presies wat sy vir hulle gee.

“Min kosskrywer­s is só in voeling met hul lesers soos Arina.”

NELIA RICHTER, ADJUNKREDA­KTEUR, LANDBOUWEE­KBLAD

Op ’ n warm Februarie-aand vroeër vanjaar kom die tyding wat die lewe soos ek dit geken het, eensklaps verander het. My ma is oorlede.

As kind het ek geen groter vrees gehad as om my ouers te verloor nie. En nou, jare later, ten spyte daarvan dat sy baie siek was en ek lankal ’n grootmens is, is die finaliteit en hartseer van die verlies aan iemand so belangrik in my lewe byna verlammend. Die leemte enorm.

In die dae ná haar dood dwaal ek. Soveel om te doen en te reël, maar ek kan net nie aan die gang kom nie. Ek blaai deur ons ou fotoalbums, ’n leeftyd se herinnerin­ge vasgeplak op die blaaie. Daar’s ons op Onrus se strand, ek en my jongste broer besig om my ma se bene onder ’n hoop seesand te begrawe. Op die volgende blad is dit my 8ste verjaardag. My bestelling was ’n Halley-se-komeet-verjaardag­koek en sy het, soos altyd, kans gesien vir die uitdaging. Op die partytjief­oto sit ek trots op ons swembad se trappies met my maats en my verjaardag­koek en glimlag asof ek ’n prys gewen het. Al was dit net ’n doodgewone plaatkoek met wit bottervers­iersel waarop sy ’n ster met ’n lang stert uitgepak het met Jelly Tots.

Met elke omblaai nog herinnerin­ge, verjaardag­partytjies en vakansies. Later van tyd ons troues en toe die kleinkinde­rs wat op ’n streep bygekom het. Soveel foto’s van ons almal om die eetkamerta­fel op die plaas, glase omhoog, die tafel wat kreun onder my ma se heerlike boerekos. Kersfees, Oujaar, huwelikshe­rdenkings, almal se verjaardae, Paasnaweke…

Later daardie week gaan pak ek haar kaste uit en kry ’n bottel van haar parfuum in ’n laai. Ek spuit ’n bietjie daarvan aan en die verlange wat saam met die bekende reuk kom, is soos ’n vuishou in my maag. In my ouers se kombuis maak ek uit gewoonte die ketel vol water.

Wat maak ’n mens met hierdie hartseer? Wat help as jy jou ma, jou anker, verloor het? Dit is sy self wat die antwoord gee. Asof ek haar stem die woorde kan hoor sê wat ek haar al ’n duisend keer in my lewe hoor sê het: “Ek maak vir ons ’n bietjie tee.”

Vir my ma was daar nie ’n probleem of bekommerni­s wat nie oor ’n koppie sterk Engelse tee opgelos kon word nie. Ek kry die bekende blou blikkie met Ceylon-teesakkies op sy plek in die kas bo die ketel. En terwyl die tee trek, laat ek my gedagtes terugloop plaas toe. Ek wonder hoeveel ure ons twee om die kombuistaf­el gesit het met ons bekers Engelse tee en haar karringmel­kbeskuit. Ander dae met ’n sny vars melktert met lekker baie kaneel of goue, stroperige koeksister­s, yskoud uit die vrieskas, daarby. Enige hou wat die lewe uitgedeel het, kon sy regdokter met haar sagte hart en haar warm tee. Met die troostende geure van ons gunsteling­kos wat sy so graag vir ons gemaak het.

Dit is dan waar ek my troos vind. In die kombuis, waar sy op haar gelukkigst­e was. In die geure van ons lewe saam. Daar lê so baie onthou opgesluit in geure. Maar ook soveel troos en gerusstell­ing. En vir my op die oomblik die kosbaarste van alles: ’n Bekende geur laat afstand en tyd verdwyn.

Ek voel haar hand op my skouer as ek besig is om die boerekos te maak wat sy my geleer maak het. As ek die ribstukkie­s vir ’n boontjiebr­edie potbraai en die skaapvet ruik wat uitbraai, hoor ek haar: “Onthou, jy geur groenboont­jiebredie nét met sout en witpeper. Wítpeper.” En wanneer ek konfyt kook: “Sit drie appelkoosp­itte in die kastrol vir elke kilogram fyn appelkose wat jy gebruik.”

“Gooi ’ n klam vadoek oor koeksister­s voor jy dit braai, anders is dit droog aan die binnekant.”

“Al wat skaapboud nodig het, is sout, worcesters­ous en tuisgemaak­te blatjang.”

“Sprinkel die helfte van die kaneel oor die melktert voor jy dit bak en die ander helfte wanneer dit uit die oond kom.”

“My kind, kom sit hier by my, ek maak vir ons tee.”

Hierdie uitgawe van Boerekos – ’n ode aan alles wat geur gee, aan die smake wat ons liefhet, wat ons wegvoer en ons gedagtes laat terugloop, of daardie geure wat ons veilig en gekoester laat voel – dra ek op aan my ma. Sommer aan alle ma’s. Die vroue wat ons grootmaak, wat ons in alles ondersteun, wat ons die belangriks­te dinge leer, en wat ons lewe met geur vul.

Tot ons weer gesels, lekker kosmaak.

ARINA DU PLESSIS Kosredakte­ur

E-pos: aduplessis@landbou.com

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Arina en haar ma, Rinie, tydens ’n gesinsvaka­nsie in Durban in die vroeë 1980’s.
Arina en haar ma, Rinie, tydens ’n gesinsvaka­nsie in Durban in die vroeë 1980’s.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa