Landbou Boerekos

SPESERYKUN­S

-

Om behoorlik met speserye te kook, is ’n kuns wat die Indiërs en Maleiers van een geslag na die volgende aan mekaar oordra. Om dit onder die knie te kry, moet ’n mens iets verstaan van die sowat vyftien geureiensk­appe waaroor speserye beskik sodat jy met ’n knypie van dit en ’n knypie van dat die regte balans, aroma, smaak, kleur en selfs tekstuur aan jou kos kan verleen. Elke spesery het unieke chemiese samestelli­ngs wat die sinne kan betower. Dié profiel sluit in kenmerke soos soet, warm, koel, aards, blomagtig, vrugtig en neutagtig.

Maar alle speserye het nie dieselfde funksie in die liggaam nie, verduideli­k Wahab Ahmed. Hier is ’n paar van sy gunsteling­gebruike:

Borrie (ook bekend as curcuma of turmeric)

Dit is baie goed vir die vel, daarom word ’n bruid se vel dikwels met borrie gesmeer. Borrie beveg ook griep. En ’n knypie borrie in ’n glas warm melk sal enigiemand droomland toe stuur.

Kardemom (ook bekend as elachi of karamong)

Kardemom, ’n lid van die gemmerfami­lie, word naas swartpeper as een van Indië se edelspeser­ye beskou — dié twee kan beskou word as die koning en koningin van Indiese speserye. Dit is ook baie duur, net ’n kortkop agter saffraan weens die arbeidsint­ensiewe proses om dit te oes en te droog. Fyn kardemom word graag in koek en gebak gebruik. Wahab sê ’n titsel van dié duur spesery verdoesel die eiergeur. Dit word ook in tee gebruik, en hy is baie lief daarvoor om dit in sy koffie te gooi vir ’n heerlike geur (in die Midde-Ooste maak die Arabiere ’n sterk konkoksie van koffie en kardemom wat hulle gahwa noem). Probeer dit gerus!

Fenegrieks­aad

Dié bitter saad word op water getrek en is veral goeie raat vir mense met blaas- of prostaatpr­obleme of suikersiek­te. Naeltjies

Plaas ’n heel naeltjie op ’n tand wat pla, en jou tandpyn sal gou die wyk neem. Vir wit tande, probeer ’n slag jou tande met naeltjie-olie borsel.

Basielsaad (ook genoem tukmaria)

Dit lyk amper soos tapioka, maar dié saad hou die liggaam lekker koel. As dit baie warm is gedurende die vas, is dit ’n goeie idee om hiervan saam met water te drink om af te koel.

Rooswater en roosstroop

Wanneer hulle bid, sal die mans ’n skeut rooswater in hul palms en oor hul gesigte vryf om hulle af te koel. Roosstroop, wat uit Iran kom, word gebruik om falooda, ’n tradisione­le Indiese lekkerny met melk, neute, agar-agar en noedels te maak. Dit word veral gedurende Ramadaan geniet.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa