LIBANESE KOSKULTUUR
Die Libanese koskultuur van vandag is ’n delikate balans tussen die Europese kookkuns en Oosterse speserye met ’n stewige Arabiese invloed en ’n goeie porsie van sy Levantynse verlede.
Die Libanese dieet is grootliks plantgebaseer en lê klem op vars bestanddele. Dit sluit nie swaar en ryk souse in nie, dis laag in vet en maak gebruik van baie vars vrugte en groente, goeie olyfolie en vars kruie. Die meerderheid van die geregte is vegetaries. Diereproteïen word dikwels net bygevoeg om geur te gee. Die algemeenste geurgewers in die Libanese kookkuns is vars kruisement, pietersielie, oreganum, koljander, knoffel, wonderpeper, sumak, neutmuskaat, anys, komyn en kaneel. Ook gegeurde water, soos roos- en lemoenbloeiselwater, is prominent.
Twee speserymengsels word die meeste in die Libanese kookkuns gebruik: Za’atar en Baharat. Za’atar is eintlik ’n vars krui wat wild in Libanon groei. Om dit met ’n mengsel van droë kruie te maak, is tegnies verkeerd, maar dis die naaste wat jy aan die geur gaan kom. Die woord Baharat beteken speserye in Arabies. Za’atar: Maal 15 ml geroosterde sesamsaaad in ’n voedselverwerker fyn. Voeg 30 ml elk droë marjolein, oreganum en tiemie met 60 ml sumak en 5 ml seesoutvlokkies by en meng goed. Skep in ’n lugdigte houer en bêre op ’n koel, droë, donker plek.
Baharat: Rooster die volgende droog in ’n pan tot geurig: 15 ml swartpeperkorrels, 15 ml komynsaad, 10 ml koljandersaad, 5 ml heel naeltjies en 3 ml kardemompeule. Skud die pan om te keer dat dit brand. Skep uit in ’n bakkie. Laat die heel speserye heeltemal afkoel voor jy dit in ’n koffiemeul maal saam met 20 ml paprika, 5 ml fyn kaneel en 1 ml gemaalde neutmuskaat. Bêre in ’n lugdigte houer op ’n koel, droë, donker plek.