’n Belofte aan my pa
Sy sal teruggaan na die land van hul voorvaders, na Libanon, het SOPHIA LINDOP haar pa op sy sterfbed in Suid-Afrika belowe. In haar pragtige kos-en-reisboek Going home deel Sophia die storie van haar hartroerende reis en vertel hoe sy in die proses haarself gevind het.
Ek was nog altyd bewus van twee dele, twee fasette van myself. ’ n Soort tweespalt. Die een deel is Suid-Afrikaans. Ek hoort hier. Op ons plaas in Douglas, Suid-Afrika. Ek praat die taal, ek voel tuis hier.
Maar dan was daar die ander deel. ’n Intense bewustheid, diep in my siel, dat ek ook iewers anders hoort. Wat my wou laat rebelleer en alles laat bevraagteken. Wie was ek? Waar kom ons vandaan? ’n Wete in my dat daar meer is, wat die honger na antwoorde bly aanvuur het.
Toe terminale kanker in Augustus 2017 by my pa gediagnoseer is, het ek in alle erns begin soek. Ek het daarna gesmag om saam met my pa terug te keer na waar sy familie vandaan kom. Om met daardie deel van hom in verbinding te tree. ’n Ander deel van hom, van my, van ons. Ek het geweet, die oomblik toe die kanker gediagnoseer is, dat ons tyd min is. Maar net agt maande later moes ek die droom groet. My pa was weg.
“Ek belowe jou, Pa, ek sal huis toe gaan na Libanon.”
Dit was die laaste sin wat ek met hom gepraat het, daardie nag toe hy die aarde gegroet het. Ek glo hy het my gehoor. En hy het verstaan, want in daardie oomblik het hy so effens gedraai en na my gekyk. ’n Uur later was alles verby.
Die laaste skakel, die man wie se gene altyd vir my ’n geheimenis was, was weg. Is ’n deel van my saam met hom dood? Sal ek ooit van aangesig tot aangesig kom met die ander deel van my herkoms? Ek het paniekerig gevoel, want ek het geweet ek kan nie vrede
daarmee maak om nié te weet nie.
Nou meer as ooit moes ek teruggaan en op die spore gaan loop van my oupagrootjie en sy jong vrou meer as ’n eeu gelede. Ek moet weet hoekom hulle weg is uit Libanon. Wat omtrent die droom was so aanloklik dat ’n jong man en sy vrou hul familie, alles wat vir hulle bekend was, gelos en die onbekende ingeseil het? Weg van alles wat hulle staangemaak het, om van voor af te begin in ’n vreemde land? Wat het daartoe gelei dat hulle hul familienaam opgegee het? Was dit om te probeer inskakel? Ten spyte van hul beste pogings het hulle altyd uitgestaan, was hulle altyd buitestanders. Om afsluiting te kry, moes ek gaan. Ek moes my pa se nagedagtenis huis toe neem.
5 JUNIE 2018
Op die vliegtuig dwing ek myself om in Frans te dink — die taal wat ek die afgelope drie jaar bestudeer het. Aanvanklik was my doel net om ’n nuwe taal aan te leer, ’n taal waarvoor ek instinktief lief was sedert my kinderdae.
As dogtertjie het ek dikwels gemaak of ek Frans praat as ek op my eie was. Dit was asof die sagte musikaliteit van die taal iets dieps in my onderbewussyn geroer het, al het ek dit nog nooit gepraat nie. Nou is die taal die enigste skakel tussen my en Libanon, die enigste manier waarop ons in verbinding kan tree.
Die vliegtuig skud liggies soos dit deur ’n wolkbank beur, asof dit alle bekendheid afskud. Vir die volgende paar weke gaan ek die land verken wat tot nou toe net in die uithoeke van my gedagtes bestaan het. Ek weet nie wat om te verwag nie. Al wat ek het, is die stories wat my oupa my vertel het. Stories van ’n dorpie hoog in die berge en van ’n huis met ’n wit marmertrap. Vir my is dit ’n reis terug in tyd.
Uiteindelik, die stem van die vlieënier oor die luidspreker en ek kan voel hoe die vliegtuig begin daal. Deur die klein vliegtuigvenster kry ek die eerste kykie van my “vaderland” in die verte en ek voel hoe die emosie oor my wange loop ...