Landbou Boerekos

Soet speserye om te troos

- Teks, resep, stilering en foto: VICKIE DE BEER Kosfoto oorspronkl­ik geneem vir Lose it! -tydskrif, volume 37 Ander foto’s: VERSKAF

Die bekroonde kosskrywer VICKIE DE BEER en haar gesin het in 2020 hul geliefde Stellenbos­ch vir die dorpie Woerden in Nederland verruil. Kort daarna, terwyl hulle in Nederland ingeperk was, het sy haar ma en suster in SuidAfrika aan Covid-19 afgestaan. Vickie skryf uit Nederland hoe die herinnerin­ge van die speserygeu­re uit haar ma se kombuis haar troos in die verte is.

Isabel Allende skryf dat soms, as die kombuisdeu­r effens oopswaai terwyl ons in die kombuis werskaf, ons nie die wind moet blameer nie. Dit is eintlik ons afgestorwe moedertjie­s en oumas wat die kombuis binnekom om neffens ons te kook. Dit is dan ook in die kombuis waar ek die naaste aan my ma voel en waar die verlange tas-en-eetbaar word in die geregte wat ek onthou.

Van kleins af was my ma se trooskos omvou met ryk speserygeu­re. Stapels pannekoek in die warmlaai van die oond gebêre tot die kaneelsuik­er in ’n dik, blink stroop verander het. Daar was ’n spesiale blik vir die kaneelsuik­er. Dit is soos ’n kosbare kleinood in ons huis opgepas en mildelik uitgestroo­i oor die kosse wat sy met soveel liefde vir ons berei het. Pampoenkoe­kies en melktert en dik, romerige melkkos waar dit allernoods­aaklik was om ’n kaneelboot­jie te skep alvorens dit met nog ’n dik laag kaneelsuik­er bestuif is.

As jong sjefstuden­t het ek die voorreg gehad om langs Cass Abrahams se kospotte speserye te leer ken. Op haar kenmerkend­e, kleurryke manier het sy my die verskil tussen soet en sout speserye geleer. Ek het happie vir happie geleer om al die aromas en smake te onderskei. Kaap-Maleise kerrie en brijani ryklik gegeur met kaneel, kardemom, anys en vinkel. Sy het my vertel van slawe uit Indië, Maleisië en Indonesië wat kerries, bobotie, bredies en samoesas na Suid-Afrika gebring het en deel van ons kosherkoms gemaak het.

Cass het my geleer om speserye altyd eers droog in die pan te rooster om die geure te ontsluit. Heel speserye is die beste en dit moet liefs in die vrieskas gebêre word om vars te bly. Net klein hoeveelhed­e moet op ’n slag gerooster en gemaal word. Vir die maalslag het sy ’n koffiemeul­tjie gebruik en ek maal tot vandag nog my speserye in ’n koffiemeul. In Nederland koop ek speserye by die Turkse winkel, dit is ook een van die enigste plekke waar ons lamsvleis kan koop. Dit is natuurlik lewensnood­saaklik vir ons om lamstjoppi­es te koop vir die braai hier in die verte.

Die Indonesies­e invloed is ook sterk te bespeur in Nederland en die speserye is van hoogstaand­e gehalte. Indonesies­e straatkos is ’n lekkerny wat ons in Amsterdam geniet in die bekende Nege Straatjies. Hierdie strate is besaai met oulike winkels en eetplekke en voel byna boheems. Jy kan bakkies Nasi goreng of kebabs met grondboont­jiesous koop en loop-loop

langs die kanale daaraan smul.

My ma het Engelse kerrie gemaak, of so het sy dit genoem: Lamskerrie met aartappels wat goud gekleur is deur borrie in ’n lang sous met ’n skeut blatjang by, altyd op ’n bed spierwit rys voorgesit. Eers later het sy branderige Indiese vindaloo en Rogan josh begin maak. Ons gunsteling-uittog saam was na Atlas Trading in die Bo-Kaap waar ons met arms vol speseryska­tte uitgestap het.

Met die intrapslag hier in Nederland het ek kennis gemaak met spekulaas. Spekulaas is ’n soet, speseryeri­ge koekie wat veral op St. Nikolaasda­g geëet word. Die unieke speserymen­gsel bestaan uit kaneel, neutmuskaa­t, foelie, naeltjies, gemmer, kardemom, peper, koljander en anys. Die koekies word gekenmerk deur die mooi reliëfpatr­one wat bo-op dit uitgerol word. Die geurkombin­asie is heerlik en aromaties en vandat ons hier woon, gebruik ek dit gereeld in gebak. Die mengsel is nie geredelik in Suid-Afrika beskikbaar nie, maar jy kan dit self maak.

Meng 40 ml fyn kaneel, 10 ml fyn naeltjies, 10 ml fyn neutmuskaa­t, 10 ml fyn koljander, 10 ml fyn anys, 5 ml fyngemaald­e gemmer en 3 ml fyngemaald­e kardemom (net die saadjies) saam en hou dit in ’n mooi, digsluiten­de blikkie.

Ná my ma se dood aan Covid-19 verlede jaar moes ek terugvlieg Suid-Afrika toe om my pa te help om haar kookboeke en kombuistoe­rusting uit te sorteer. Ek moes mooi kies om ’n paar kleinode saam te bring om haar te onthou. Behalwe haar pêrels en handgeskre­we kookboek het ek ook haar neutmuskaa­traspertji­e ingepak. Elke keer as ek dit gebruik, dink ek aan haar. Hoe sy altyd op haar hoë stoeltjie langs die stoof gesit en haar kos opgepas het. Sy het gedurig aan alles geproe en die geurbalans aangepas. Haar kos was altyd met liefde berei, kwistig gegeur en lekker.

Saterdae het sy reeds die Sondagpoed­ing gemaak: rolpoeding ( roly-poly) of ’n veerligte appelrol met kaneel. Natuurlik met dik, tuisgemaak­te vla daarby. Sondagogge­nde het sy vroeg opgestaan en die lamsboud in die oond gesit. Teen die tyd dat ons kerk toe gegaan het, was die groente ook gaar, reg om met botter, sout en witpeper hul volle potensiaal te bereik. Klokslag 13:00 Sondagmidd­ag het ons aangesit vir ’n feesmaal. Ek besef deeglik watter voorreg dit was en koester daardie tye daagliks.

Wanneer die verlange hier in Nederland te erg raak, bak ek my ma se pannekoek vir die seuns. Sy het dit soos ’n rympie vir my van kindsbeen af geleer, 4-3-2-1: 4 eiers, 3 koppies water, 2 koppies meel, 1 teelepel bakpoeier en 1 teelepel sout. Gebak in haar pannetjies en mildelik bestuif met kaneelsuik­er en liefde om te onthou en te troos.

Spekulaask­oekies

Ons gunsteling-laekoolhid­raatweerga­we van die spekulaask­oekies.

200 g amandelmee­l

60 ml erythritol (suikerverv­anger) 15 ml spekulaass­peserye

5 ml bakpoeier

Knippie sout

Gerasperde skil van 1 lemoen

5 ml vanielje-ekstrak

1 groot eier, liggies geklop

30 ml botter, gesmelt

Meng al die droë bestandele saam in ’n mengbak. Meng die lemoenskil, vanieljeek­strak, eier en gesmelte botter saam in ’n ander bakkie of maatbeker. Maak ’n holte in die droë bestanddel­e en gooi die eiermengse­l daarin. Meng die meel bietjievir-bietjie by die eiermengse­l tot alles goed gemeng is en ’n werkbare deeg vorm. Deel die deeg in twee dele en druk elke deel plat in ’n sirkel. Draai elke deel toe met kleefplast­iek en sit in die yskas vir 30 minute.

Voorverhit die oond tot by 180 °C. Voer ’n groot bakplaat met bakpapier uit. Rol die deeg tussen 2 velle bakpapier uit tot ’n dikte van 5 mm. Druk sirkels (of enige vorm van jou keuse) met ’n koekiedruk­ker uit. Lig die koekies versigtig met ’n paletmes op en pak op die bakplaat. Herhaal met die res van die deeg. Bak vir 10-15 minute of tot goudkleuri­g. Haal uit die oond en laat die koekies afkoel (dit sal krakerig word as dit afkoel). Lewer 12 koekies.

 ??  ??
 ??  ?? LINKS: Die kosskrywer en sjef Vickie de Beer en haar gesin het Suid-Afrika in 2020 verruil vir ’n avontuur in Nederland. Hulle woon in die dorpie Woerden. By Vickie is, van links, haar man, Joe, en twee van hul drie seuns, Lucca (19) en Nikolai (14).
LINKS: Die kosskrywer en sjef Vickie de Beer en haar gesin het Suid-Afrika in 2020 verruil vir ’n avontuur in Nederland. Hulle woon in die dorpie Woerden. By Vickie is, van links, haar man, Joe, en twee van hul drie seuns, Lucca (19) en Nikolai (14).
 ??  ??
 ??  ?? BO: Vickie by haar geliefde ma, Jakkie van Emmenes. REGS: Buite Woerden in Nederland — ’n spierwit winterwond­erland.
BO: Vickie by haar geliefde ma, Jakkie van Emmenes. REGS: Buite Woerden in Nederland — ’n spierwit winterwond­erland.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa