Vuurwarm!
Wat sy reg doen, is sy self nie van seker nie, maar Anita Morar van Kadipore Farms is een van Suid-Afrika se voorste rissieboere. Dié gedrewe vrou het ’n indrukwekkende familiebesigheid opgebou wat ook aan minderbevoorregte gemeenskappe geleenthede in die rissiebedryf bied.
Toe haar man, Dilip, eendag ná ’ n gemeenskapsvergadering met driehonderd rissieplantjies by die huis aankom, het Anita Morar se lewe onverwags ’n nuwe koers ingeslaan.
“Jy kan maar sê ons het per toeval met rissies begin boer,” sê die vriendelike, gedrewe vrou wat die afgelope 25 jaar Kadipore Farms tot ’n volwaardige besigheid uitgebou het.
Dilip het altyd begeer om op ’n kleinhoewe te woon en in 1994, twee jaar ná die Morars getroud is, het hulle na ’n stukkie grond in die Midvaal-omgewing in Gauteng getrek.
“Ons het nooit beoog om te boer nie, maar inwoners van die gebied het begin gesels oor moontlikhede om kleinhoewes winsgewend te maak. Op een van dié vergaderings het hulle rissie-saailinge gehad, en aangesien my man die enigste Indiër teenwoordig was, het hulle sommer aangeneem hy wil dit hê,” sê sy laggend.
Dit was reeds laat in die somer, maar Anita, in daardie stadium ’n tuisteskepper wat swanger was met haar jongste seun, Bhavesh, het die plantjies in die grond gesteek.
“Ons het nie eens geweet watter kultivar dit is nie en het ook nie ’n afsetgebied gehad vir die rissies nie, maar het dit aan vriende en familie verkoop. Die daaropvolgende jaar het mense ons gedurig gevra wanneer ons dan weer rissies het, wat ons laat besluit het om weer 2 000 saailinge te plant. Oor die jare het dit só uitgebrei dat ons nou sowat 80 000 saailinge op 2 ha plant,” vertel sy.
Die een vraag wat Anita dikwels kry, is waarom hulle só vooruitstrewend is met hierdie gewas, wat nogal geneig is om boere hoofbrekens te besorg.
“Ek weet eerlikwaar nie! Ons doen duidelik iets reg waarvan ons self nie eens bewus is nie. Ek het geen boerderyagtergrond nie, behalwe dat ek tydens my kinderjare in Lenasia hand bygesit het in my ouers se groentetuin. Al wat ek kan sê, is dat dit deur harde werk, deursettingsvermoë en God se genade is dat ons suksesvol is.
“Ek het rissies geplant toe ek my seun verwag het, en soos hy gegroei het, het die besigheid gegroei. Dalk het hy vir my geluk gebring!” sê sy vrolik.
“Al wat ek weet, is dat ek nie vir een dag spyt was oor die boerdery nie. Ja, daar was baie struikelblokke en verantwoordelikhede, maar ek het werklik ’n passie vir die onderneming.
“Hulle sê mos altyd as die lewe vir jou suurlemoene gee, moet jy limonade maak. Nou ek glo as die lewe vir jou rissies gee, moet jy rissiepasta maak!”
Die kleinhoewe het nie net vir Anita ’n lewe geskep nie, maar ook vir haar seuns, wat ná hul skoolopleiding en studies aan die Weston-landboukollege op Mooirivier by die onderneming aangesluit het. Jasveer en Bhavesh doen albei aflewerings, maar Jasveer is ook verantwoordelik vir bemarking (hy is besig om vir die onderneming ’n groeiende aanlyn teenwoordigheid te skep) en Bhavesh sien om na produksie. Anita hou die leisels in die pakhuis, terwyl Dilip die een is “wat ons in die regte rigting lei”.
Kadipore Farms is genoem na die familie se voorouerlike dorp in Indië.
Die Morars boer met sowat 2 ha Thairissies, wat vroeg in Oktober op oop landerye aangeplant en van Desember tot April weekliks geoes word.
“Ons haal sowat 15 ton rissies van ons 2 ha af. Dis ’n groot klomp rissies as jy in ag neem dat elke rissie maar ongeveer 5 g weeg! Dis ook baie harde werk. Dit duur omtrent 20 minute om 1 kg te pluk – vra my maar, ek het dit lank self gedoen!”
In die somermaande koop hulle ook rissies aan by ’n nabygeleë gemeenskap wat haar seuns “aangeneem het”. Die gemeenskap het genoeg grond, maar kan nie bekostig om boerdery-insette te koop nie. Die Morars help hulle dus met saailinge en bemesting om op sowat 1 ha rissies te verbou, en koop dan die oes by hulle.
Wanneer Kadipore Farms se eie produksie einde se kant toe begin staan, koop hulle ook rissies aan van buite-boere met wie hulle kontrakte gesluit het. Dit stel hulle in staat om heeljaar lank rissies aan onafhanklike winkels, onder meer verskeie Food Lovers’ Market-winkels, en varsproduktemarkte te voorsien. Sommige van hul klante koop al van reg van die begin af by hulle rissies.
“Ons konsentreer hoofsaaklik op die Thai-rissiekultivars, want verbruikers wil nie ’n matige rissie hê nie. Hulle sê dit smaak soos ’n soetrissie. Daar moet darem ’n byt wees. Thai-rissies is lang, dun rissies met ’n skerp punt – ’n aanduiding dat dit hittig is! Dié met die ronder punte is nie só warm nie,” vertel Anita.
Die Thai-rissies het gewoonlik 50 000 tot 100 000 scoville-eenhede (die eenhede waarin rissies se hitte gemeet word), wat as “warm” beskou word op hierdie skaal.
Hoewel hulle nie heeltemal organies boer nie, sê Anita hulle vermy chemiese plaagbekamping sover moontlik.
“Ons spuit slegs as ons ’n besmetting van die een of ander aard het, maar ons probeer oor die algemeen om so natuurlik as moontlik te boer.”
Rissieplante aard goed in areas waar die kwik tussen 18 ˚C en 32 ˚C draai. Die Midvaal se sanderige grond is ook ideaal.
“Ons kan ons rissies op oop landerye verbou omdat ons nie uiterste temperature in die Gautengse somer ervaar nie. Ons toets gereeld ons grond en ’n nabygeleë maatskappy ontwikkel dan vir ons
‘Ons haal sowat 15 ton rissies van ons 2 ha af. Dis ’n groot klomp rissies as jy in ag neem dat elke rissie maar ongeveer 5 g weeg!’
Anita Morar van Kadipore Farms is een van die land se voorste rissieboere.
’n bemestingsprogram. Ek glo enigiets wat jy behoorlik voed en water gee, sal beter groei. Ons gebruik drupbesproeiing om op water en onkruidbestryding te bespaar,” vertel Anita oor die geskiktheid van hul klimaat en hul produksiepraktyke.
Die eindproduk word óf verpak en na winkels versprei – ’n mark wat hulle graag wil uitbrei – óf in groot maat aan varsproduktemarkte verkoop.
“Die rissieprys is die afgelope tien jaar al nie baie hoog nie. Soms regverdig dit nie eens ons uitgawes nie. Dis ook ’n kwessie om te sorg dat jou produkte op winkelrakke bly, selfs al is jou gehalte goed. Sommige supermarkte vereis ook dat ons aan ouditvereistes moet voldoen wat ’n mens eintlik in ’n ontwikkelde land sal verwag. Al hierdie hekkies maak dit moeilik vir opkomende en kleiner boere om vooruitgang te maak.”
Sy sê dit was juis die wisselvallige mark en die voortdurende stryd om hul inkomste te laat groei, wat oor die jare hul grootste struikelblok was.
“Veral noudat vier van ons uit die besigheid moet leef en ons boonop werk gee aan 15 mense. Maar ek is ’n sakevrou, en daarom glo ek ons moet elke jaar nuwe geleenthede soek en dit aangryp sodat jy seker maak jy’s in ’n beter posisie as die vorige jaar,” sê sy vasbeslote.
Iets wat haar frustreer, is mense wat sommer net botweg weier om kos te eet waarin rissies voorkom, want hulle neem dadelik aan dit gaan brand.
“Rissies maak kos geuriger, en boonop bevat dit baie vitamien C. Rissies is stapelkos in die Indiese kultuur en die hoofbestanddeel in die meeste Indiese huishoudings, maar, snaaks genoeg, ons gesin verkies ook nie báie warm kos nie. Dis waarom ek graag met die Thai-rissies – vir ’n bietjie warmte – in kombinasie met die matiger rooirissies kook.”
Hulle eet minstens een keer per week ’n gereg met groenlensies, rissies, tamaties en wortels (dit staan bekend as “murg”) en is waarskynlik die gesin se gunsteling. Dit word met rys of roti’s bedien.
“Ons maak ook graag pizzas en ek maak seker om altyd rissies by my tuisgemaakte tamatiebasis te voeg. Dis só lekker, mense het al vir my gesê ek moet ’n pizzawinkel oopmaak!” vertel dié bekwame vrou wat al verskeie eerbewyse vir haar sake- en boerderyvernuf ingepalm het.