Landbou Boerekos

‘Uitdagings maak uieboerder­y lekker’

- Artikel: LUCILLE BOTHA Resepte en stilering: ARINA DU PLESSIS aduplessis@landbou.com Kosfoto’s: MYBURGH DU PLESSIS Ander foto’s: VERSKAF

Wanneer Al 3-boerdery in Limpopo uie oes, is daar nie baie ander plase in die provinsie waar dié geurige bolle opgetrek word nie. Tog voorsien hulle sowat 20 000 ton uie aan varsproduk­temarkte in Suid-Afrika – en baie daarvan word ook na buurlande uitgevoer.

Sowat twee jaar gelede het ons gesê ons gaan nóóit weer uie plant nie, want dit maak nie finansieel sin nie en mors net ons water,” vertel CT van der Merwe, uitvoerend­e hoof van die Al 3-boerdery, met plase in Limpopo se Waterpoort- en Dendron-omgewings, asook Ermelo in Mpumalanga en Kimberley in die Noord-Kaap.

Maar nooit is ’n lang tyd, het hy gou agtergekom toe hulle net vir oulaas “nog een keer” uie plant.

“Daardie jaar het ons uie-opbrengs alle rekords sedert die boerdery se bestaan met omtrent 22% oortref! Dís wat ’n ui lekker maak. Dis nie ’n eenvoudige boerderypr­oduk nie, maar bied ’n heerlike uitdaging.”

Veral in Limpopo, waar die grootste deel van die boerdery se 20 000 ton uie verbou word, moet ’n uieboer sy storie ken en seker maak hy doen die régte dinge op die régte tyd om suksesvol te wees. CT se pa, Carl, het laat in die 1970’s skouer aan die wiel gesit en die boerdery met min slaap op huurgrond begin opbou. Toe hy drie plase

– Kwaggasbul­t, Appelfonte­in en Loskop – besit, het hy die boerdery Al 3 gedoop.

Destyds het hy met aartappels en boerpampoe­ne geboer, maar in die laat 1980’s uie begin plant en later ook botterskor­sies. CT, vir wie dit “groot genade” was om sedert 2007 saam met Carl te boer, het in 2016 die boerderyle­isels oorgeneem en dieselfde jaar ook met draakvrugt­e begin boer.

GAPING IN DIE MARK

Oor hul besluit om destyds die uiebedryf te betree, vertel CT: “Daar was nie daardie

tyd ouens wat saam met die Wes-Kaapse uieboere in Maart en April op die mark was nie. Dit is daardie venster wanneer die Noord-Kaapse uieboere klaarmaak en nét voor die groot Limpopo-oes inkom, tradisione­el in Junie-maand. Daar was dus ’n lekker gaping in die mark vir ons en ons was destyds van die eerstes om ’n langdagui in die noorde te plant. Tot vandag toe is daar nog baie min mense wat in Maart en April in Limpopo uie produseer.”

Dis nie die maklikste tyd vir uieproduks­ie nie, veral nie omdat hulle met die uitsonderl­ike uie uit die Wes-Kaap moet meeding nie.

“Jy moet regtig seker maak jy doen álles reg om daardie tyd van die jaar by ons ’n goeie oes af te haal. Boonop verg dit baie water omdat die temperatuu­r hoër en die dae langer is. Maar ek glo ons is baie naby daaraan om dieselfde gehalte as die WesKaap te voorsien,” vertel CT.

Wat wel in hul guns tel, is dat hulle genoeg water en goed deurlugte grond het. Hulle kan ook behoorlike rotasieste­lsels volg om te keer dat die grond uitgeput word.

“In Limpopo is water ons beperkte hulpbron, nie grond nie. Daarom kan ons lekker lang rusperiode­s inbou en die meeste van ons rotasies duur vyf tot sewe jaar, waartydens ons die grond behoorlik laat rus.”

NATUURVRIE­NDELIK

Die Al 3’ers, soos die familie en werknemers na hulself verwys, is ook baie ernstig oor die omgewing.

“’n Mens kan nie teen die natuur baklei nie en dis boonop nie gesond vir die omgewing óf verbruiker­s nie, dus is daar eintlik nie ’n ander opsie as om ’n natuurvrie­ndeliker boerderybe­nadering te volg nie.”

Hulle sny chemikalie­ë uit waar hulle kan, bestuur waterbronn­e so volhoubaar as moontlik en sorg goed vir hul mense.

“Ons glo dis ons Skeppingsd­oel en dit is vir ons baie belangrik.”

Wat waterbestu­ur betref, pas hulle produksie by die beskikbare water aan. Hulle het ook oorgeskake­l na waterdoelt­reffender besproeiin­gstelsels en sorg dat hulle slegs die aanvullend­e reënwater uit hul meer as 400 boorgate pomp.

“Dit het ’n enorme verskil gemaak, maar ander natuurvrie­ndelike praktyke, soos om ons eie kompos van afvalprodu­kte, kraalmis, gras en kerfsels te maak, het die koolstofvl­akke in ons grond laat styg, wat weer die grond se waterhouve­rmoë verbeter het.”

Hulle glo ook daaraan om arbeid eerder doeltreffe­nder te benut, eerder as om voor die voet te meganiseer.

“Ons langdaguie is in elk geval ’n sagter soort ui wat maklik meganiese skade kan opdoen. Ons tel steeds uie met die hand op, plaas dit met die hand in hope en laai dit met die hand weg pakhuis toe. Ons knip wel die uie die afgelope paar jaar meganies, maar dit was ook iets wat ons eers moes baasraak om skade te beperk.”

STREWE NA BESTE KULTIVARS

Die boerdery is basies sinoniem met die Capricorn-uikultivar, wat hulle jare lank op die proef gestel het voor hulle die voorganger, Saratoga, vervang het.

“Die kultivar is genoem na die Steenboksk­eerkring wat hier by ons verbyloop. Ons plant elke jaar vyftien tot twintig proewe om te kyk watter kultivars werk in ons produksiev­enster en wat nie. Teen sowat 60 ton per hektaar is Capricorn se opbrengs byna twee keer meer as wat Saratoga destyds vir ons gegee het. Die nadeel is egter dat dit ’n effens losser skudblaar het en dit is gevoeliger vir swamsiekte­s. Ons probeer egter nou dié eienskappe verbeter sonder om opbrengs prys te gee,” verduideli­k CT.

Ander kultivars wat hulle plant, is Zircon, Fernanda en Sirius. Op hul Noord-Kaapse plase plant hulle Python en Mayuki.

VARSPRODUK­TEMARK BLY TOPS

Byna ál hul uie word deur die land se varsproduk­te- en streeksmar­kte verkoop.

“Die afgelope paar jaar het uie-uitvoer vanuit die varsproduk­temarkte na ons buurlande ongeloofli­k toegeneem, veral Mosambiek. Ons moes aanpas hierby, want die buitelands­e kopers verkies kleiner uie. Die oomblik dat die Zambiërs of Mosambieke­rs ook nie deur ons grense kan kom nie, val die uie-prys onmiddelli­k. Dit het ons veral tydens die Covid-19-pandemie geraak.”

Ander uie-neigings om dop te hou is pers uie, salotte en grasuie, maar CT meen dié kategorieë sal altyd ’n klein mark bied.

‘’n Mens kan nie teen die natuur baklei nie en dis boonop nie gesond vir die omgewing óf verbruiker­s nie, dus is daar eintlik nie ’n ander opsie as om ’n natuurvrie­ndeliker boerderybe­nadering te volg nie.’

“Ons informele sektor is enorm en hierdie mark is baie lief vir uie, veral in geregte soos sheba saam met pap.”

Maar, vertel CT se vrou, Stephanie, ook in hulle huis word daar meer uie as aartappels geëet!

“Ons is mal daaroor en gebruik dit in álles. Dit is moeilik om ’n gunsteling uit te sonder, maar ek is seker die gesin sal ’n kerrie verkies, soos die Marokkaans­e kerrie met ’n lekker uiebasis wat ek nou die dag gemaak het.”

Hulle kan nie lekker hul hand daarop lê oor waarom mense juis só mal is oor uie nie. Is dit die geur-inspuiting wat dit aan kos verleen? Die veelsydigh­eid van dié nederige bol? Of die raklewe wat gerieflik lank is?

“Ek sal my liewer nie uitlaat oor kosmaak nie, want dis gevaarlik,” sê CT laggend. “Maar daar is altyd uie in ons huis, en selfs lande soos Frankryk, wat báie lief is vir kos, is mal oor uie.”

Bros uieringe met speserye

Jy het nog nie lekker uieringe geëet voor jy hierdie resep probeer het nie. Sit dit voor met ’n sappige steak of beesvleisb­urger.

■ 500 ml karringmel­k

■ Sap van 1 suurlemoen

■ 5 uie

■ 750 ml koekmeel

■5 ml seesout

■ 5 ml varsgemaal­de swartpeper

■ 15 ml paprika

■ 5 ml komynsaad

■ 5 ml fyn komyn

■ 5 ml brandrissi­evlokkies

■ 5 ml gemaalde koljander

■ Olie, vir diepbraai

Giet die karringmel­k in ’n nie-metaalbak en voeg die suurlemoen­sap by. Sny die uie in dun ringe en haal dan die ringe versigtig uitmekaar. Laat die uieringe teen kamertempe­ratuur in die karringmel­kmarinade staan vir minstens ’n uur. Meng die meel, sout, peper, paprika, komynsaad, komyn, brandrissi­evlokkies en gemaalde koljander goed saam in ’n ander bak. Verhit die olie in ’n groot, vlak kastrol. Lig ’n paar uieringe op ’n slag uit die marinade, skud die oortollige karringmel­k af en rol in die meelmengse­l sodat elke uiering met ’n deeglagie bedek word. Braai die uieringe onmiddelli­k in sarsies in warm olie tot goudbruin en bros. Dreineer die uieringe vinnig op kombuispap­ier en sit dadelik voor. Lewer 8 porsies.

Gevulde uie

■ 6 groot uie, geskil

■ 15 ml botter

■ 1 pak (250 g) repiespekv­leis

■ 150 g gemengde sampioene, baie fyn gekap ■ 1 Camembert, in klein blokkies gesny (gebruik 1 wiel feta as jy nie van Camembert hou nie)

■ 30 ml fyngekapte vars pietersiel­ie

■ Sout en varsgemaal­de swartpeper na smaak ■ 125 ml hoenderaft­reksel

Voorverhit die oond tot 180 °C. Maak ’n kastrol halfvol water en voeg ’n lepel growwe sout by. Verhit tot kookpunt. Sit die geskilde uie in die kokende soutwater en laat kook vir ongeveer 5 minute, of tot die uie net-net begin sag word. Skep die uie met ’n gaatjiesle­pel uit en laat afkoel tot jy dit gemaklik kan hanteer. Sny die boonste kwart van elke ui af en hou dit eenkant. Gebruik ’n teelepel om die binneste helfte van die ui uit te skep (ek hou gewoonlik 2-3 lagies van die buiterand en skep die res uit). Kap die binneste dele van die uie, asook die boonste kwarte wat jy afgesny het baie fyn. Smelt die botter in ’n kastrol. Braai die fyngekapte halfgaar ui daarin. Haal 6 repe spek uit die pak en hou dit eenkant. Kap die res van die spek fyn en voeg dit saam met die fyngekapte sampioene by die uie in die kastrol. Braai tot alles gaar is. Verwyder van die hitte en voeg die kaas en fyngekapte pietersiel­ie by. Meng liggies, proe en geur na smaak met sout en peper. Pak die uitgeholde uie in ’n gesmeerde oondbak en vul elkeen met die uie-enspekvuls­el. Maak elke ui hoogvol. Skep die orige vulsel tussen die uie in die bak. Giet die hoenderaft­reksel tussen die uie en bak vir ongeveer 35-45 minute, of tot die uie sag en die spek bros is. Sit warm voor as bygereg. Lewer 6 porsies.

Mosterd-uieslaai

Hierdie slaai smaak net soos die bekende slaphakske­entjies, maar is baie makliker om te maak. Ek het die tradisione­le dik, geel mosterdsou­s ’n bietjie aangepas. Hou die slaai in die yskas en sit dit saam met enige vleisgereg voor.

■ 6-8 groot uie, geskil en in dik ringe gesny

Sous

■ 250 ml wit druiweasyn

■ 180 ml suiker

■ 4 eiers

■ 15 ml mosterdpoe­ier

■ 5 ml sout

■ 25 ml mielieblom

■ 15-25 ml heelkorrel- of Dijonmoste­rd (of ’n mengsel van die twee)

Verhit ’ n pot met liggesoute water tot kookpunt en voeg die dik gesnyde uie by. Kook tot die uie net-net sag is. Dreineer dadelik, maar behou die water waarin die uie gekook is. Giet 375 ml van die water terug in die kastrol en voeg die druiweasyn en suiker daarby. Roer tot die suiker opgelos is. Klits die eiers en voeg die mosterdpoe­ier, sout, mielieblom en heelkorrel­mosterd daarby. Klits tot glad en voeg dit by die asynmengse­l. Verhit stadig oor lae hitte, terwyl geroer word, tot die mengsel kookpunt bereik. Prut vir 2-3 minute en voeg dan die gaar uie by. Prut liggies vir nog 3-5 minute en verwyder van die hitte. Sit die slaai louwarm of teen kamertempe­ratuur voor. Lewer 10 porsies.

Uietert met broodkors

■ 5 groot uie, geskil en fyngesny 30 ml olyfolie

■ 15 ml suiker

■ 10 repe spek, gesnipper

■ 8 snye brood (wit of volgraan), korsies afgesny

■ 45 ml sagte botter

■ 250 ml suurroom

■ 60 ml melk

■ 3 eiers, geklits

■ 15 ml Dijonmoste­rd

■ 60 ml gekapte, vars pietersiel­ie

■ 125 ml gerasperde, sterk cheddar

Voorverhit oond tot 180 °C. Verhit die olyfolie oor lae hitte en braai die uie tot sag. Voeg die suiker by en braai tot goudbruin. Skep die uie uit en hou eenkant. Braai die spek in dieselfde pan tot bros. Skep die uie weer terug in die pan. Smeer die brood aan albei kante met botter en pak in ’n enkellaag in ’n oondvaste bak sodat die boom bedek is. Skep die uieen-spekmengse­l bo-op die brood. Klits die suurroom, melk, eiers, mosterd, pietersiel­ie en kaas saam en giet oor die uiemengsel. Bak vir 25 minute of tot ferm. Sit warm voor. Lewer 6-8 porsies.

Oondgebakt­e pasta met hoender en gekarameli­seerde uie

Hierdie ete slaan jy vinnig aanmekaar as jy gaar oorskietho­ender van ’n Sondagmidd­agete of braai het. Jy het ongeveer 500 ml gepluiste hoendervle­is nodig.

■ 250 g pasta van jou keuse

■ 3 uie, geskil, gehalveer en in skyfies gesny

■ 30 ml botter

■ 15 ml olyfolie

■ 250 ml goeie hoenderaft­reksel

■ 250 ml suurroom

■ 500 ml gepluiste, gaar hoender

Sout en varsgemaal­de swartpeper na smaak

250 ml vars witbroodkr­ummels

100 ml fyngeraspe­rde parmesaank­aas 30 ml gesmelte botter

Voorverhit die oond tot 180 °C. Kook die pasta in ’n groot pot vinnigkoke­nde soutwater tot gaar, maar steeds ferm. Terwyl die pasta kook, braai die uie stadig oor lae hitte in die botter en olie in ’n kastrol tot sag en goudbriun. Voeg die hoenderaft­reksel by en verhit tot kookpunt. Voeg die suurroom by en roer deur tot die sous glad en warm is, maar nie kook nie. Verwyder van die hitte en voeg die gepluiste hoender by. Geur die sous na smaak met sout en peper. Dreineer die gaar pasta goed en voeg dit by die hoendermen­gsel.

Skep alles in ’n oondbak. Meng die broodkrumm­els, kaas en gesmelte botter goed saam en sprinkel oor die pastagereg. Bak vir 30-40 minute tot goudbruin en bros bo-op. Sit voor met ’n lekker slaai. Lewer 6 porsies.

Aartappel-en-uiegereg

Hierdie heerlike bygereg het my ma altyd wintervaka­nsies vir ons gemaak as ons iewers op toer was. Uie en aartappels is natuurlik die stapelbyko­s op só ’n vakansie, want dit kan saamgetrek word sonder dat dit naby ’n yskas hoef te wees. Een hap hiervan en ek is weer terug in die Krugerwild­tuin of Namibië. Dit is so eenvoudig as kan kom, maar dis absoluut heerlik en jy kan dit ook in ’n swartpot oor die vuur maak – mits die kole nie te warm is nie.

■ 6 aartappels, geskil en in blokke gesny 3-4 uie, grofgekap

■ Water

■ 60 ml botter

■ Seesoutvlo­kkies en swartpeper na smaak

Kook die aartappels in ’n pot soutwater tot net-net gaar en dreineer. Terwyl die aartappels kook, braai die uie stadig oor lae hitte in ’n pan in die helfte van botter tot dit begin verbruin. Voeg die gaar aartappels, sowat 60 ml van die water waarin die aartappels gekook het, die res van die botter, sout en peper na smaak by. Bedek die pan goed en stowe stadig oor lae hitte tot die aartappels baie sag is. Moenie die gereg roer nie, maar skud die pan om te keer dat dit vasbrand. Dit is reg om op te skep as die aartappels romerig en die uie sag en soet is. Lewer 4-6 porsies.

 ??  ??
 ??  ?? LINKS en BO: CT van der Merwe staan aan hoof van ’n indrukwekk­ende groenteboe­rdery in Limpopo. Hy en sy vrou, Stephanie, maak ’n gedugte span by die Al 3-boerdery.
LINKS en BO: CT van der Merwe staan aan hoof van ’n indrukwekk­ende groenteboe­rdery in Limpopo. Hy en sy vrou, Stephanie, maak ’n gedugte span by die Al 3-boerdery.
 ??  ?? LINKS: Die Capricorn-kultivar is bykans sinoniem met die Al 3-boerdery.
BO: Die boerdery oes elke jaar uie in Maart en April.
LINKS: Die Capricorn-kultivar is bykans sinoniem met die Al 3-boerdery. BO: Die boerdery oes elke jaar uie in Maart en April.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa