Landbou Boerekos

Die koning van avokado’s

Die room van die enigste eg Suid-Afrikaanse avokadokul­tivar is nou onder ’n eie handelsmer­k beskikbaar sodat verbruiker­s plaaslike avokado’s met heerlike eetvoordel­e en ’n lang rakleeftyd kan geniet.

- Artikel: LUCILLE BOTHA Resepte en stilering: ARINA DU PLESSIS Foto’s: LEE SCHWAGELE

Jy kan nie sê ons eet avokado’s nie; ons vréét dit,” sê Zander Ernst, wat verantwoor­delik is vir bemarking by die Allesbeste-familieboe­rdery in Tzaneen.

Buiten hul bedrywighe­de met koffie, piesangs, bosbou en lietsjies, is die Ernst-familie avokado-adel in Suid-Afrika. Ná oupa Chicot Ernst in die 1960’s noodgedwon­ge al die sitrusbome op die plaas moes uittrek weens vergroenin­gsiekte, het dit gestalte gegee aan die avokado-boerdery. En in pa André Ernst se tyd het ’n moderne avokado-kwekery die boerdery tot heel nuwe hoogtes gevoer.

Allesbeste is immers sinoniem met Maluma, die enigste avokado-kultivar wat tot dusver as eg Suid-Afrikaans beskou kan word.

“Die avokadoboe­r Dries Joubert het die kultivar baie toevallig in die 1990’s op sy plaas Maluma in Levubu gevind. Dit was ’n unieke ontdekking, want natuurlike genetiese mutasies kom baie selde by avokado’s voor,” sê Zander. Die boom met die goeie opbrengs en groot vrugte wat vroeër ryp was as die res van die avokado’s in sy Hass-boord het Dries destyds opgeval.

“’n Mens moet ’n geoefende oog hê om só iets raak te sien, maar Dries het besef hy het iets beet en vir homself ’n paar bome gemaak voor hy later by ons kwekery uitgekom het,” vertel Zander oor die begindae van Maluma.

Die afgelope dertig jaar het die meeste nuwe avokadokul­tivars uit Kalifornië gekom, dus was Maluma groot nuus – en ’n pluimpie vir Suid-Afrika.

Sedert dit in 2004 plantteler­sregte en kort daarna uitvoersta­tus gekry het, word dit in bykans al die avokadopro­duserende lande in die wêreld aangeplant – van Peru tot Chili, Columbia, Mexiko, Spanje, Israel en selfs die Filippyne.

BOER SE DROOM

Suid-Afrikaanse boere geniet natuurlik die voordeel dat Maluma uitstekend aangepas is by die plaaslike omstandigh­ede. Dis geskik vir ’n verskeiden­heid mikro-klimate – van warm, droër toestande tot gebiede waar ryp voorkom en die kwik onder vriespunt daal. Daar kan dus ewe gemaklik met Maluma in die Suid-Kaap as in die suide van KwaZulu-Natal geboer word.

Die kultivar is ook geskik vir hoë-digtheidaa­nplantings (1 250 bome per hektaar teenoor die gewone 300 tot 400 bome per hektaar), wat beteken boere kan binne twee tot drie jaar volproduks­ie haal en ’n opbrengs op hul belegging sien. Met historiese kultivars duur dit sowat vyf tot sewe jaar.

Vir verbruiker­s is daar ook ’n rits voordele. Die vrugte is groot met ’n natuurlike, kleiner pit. ’n Ander plus is dat Maluma oor uitstekend­e rakleeftyd beskik. Wat meer kan ’n verbruiker voor vra as ’n ekstra paar dae grasie voor die avokado oor sy beste is?

NIE ALLE AVO’S IS GELYK NIE

“Mense is geneig om te dink ’n avokado is ’n avokado, maar ons avokado-foendi’s stem nie saam nie. Ons kan die verskille proe en Maluma het beslis ’n unieke smaak.”

Verlede jaar – midde die oog van die Covid-19-storm – het Zander-hulle die volgende hoofstuk in die Maluma-storie ingelui toe hulle die Viavi-avokadohan­delsmerk bekend gestel het.

“Viavi is Maluma-avokado’s wat deur ’n uitgesoekt­e groep boere geprodusee­r word wat baie spesifieke waarde- en kouekettin­gbestuur volg tot die avokado’s op die winkelrakk­e beland.”

Die handelsmer­k is dus verbruiker­s se waarborg dat hulle keer op keer ’n uitstekend­e avokado koop.

Anders as die hedendaags­e neiging in die varsproduk­tebedryf om nuwe kultivars in beperkte mate in sogenaamde produsente­klubs bekend te stel, het Allesbeste destyds besluit om boere toe te laat om Maluma vrylik te plant.

“Ons wil hê Maluma moet tot die bedryf se voordeel wees. Die handelsmer­k het eers as nagedagte ontwikkel toe ons besef ons wil op gehalte konsentree­r.”

Handelsmer­ke wat die belofte van gehalte inhou, is natuurlik niks nuuts in die varsproduk­tebedryf nie – en gaan waarskynli­k in die toekoms net meer algemeen raak. Dink maar aan die beste Cripps Pink-appels wat as Pink Lady bemark word of Nadorcotts­itrusvrugt­e waarvan die room van die oes as ClemenGold beskikbaar is. Net so beoog hulle dat Viavi-avokado’s kop en skouers bo ander avokado’s moet uitstaan wat gehalte

betref. Meer as dertig boere voldoen tans aan die kriteria en protokolle om Maluma onder die Viavi-handelsmer­k te bemark.

“Ja, dit verg ’n bietjie bestuur om aan die handelsmer­kprogram mee te doen, maar dis nie baie ekstra moeite nie, eintlik net die kouekettin­g wat goed bestuur moet word.”

In ruil daarvoor kry produsente toegang tot rakspasie by Woolworths, waar Viavi tans eksklusief beskikbaar is, en in die toekoms is daar ook sprake van goeie premies.

Planne om die handelsmer­k internasio­naal bekend te stel, is ook reeds in werking.

Intussen is Zander-hulle vuur en vlam om Viavi ’n gunsteling onder Suid-Afrikaners te maak. “Ons gaan sterk konsentree­r op al die verbruiker­svoordele – die smaakvoork­eure, die raklewe en die feit dat dit meer vrugvleis het.”

Hulle gaan ook hul bes doen om verbruiker­sopsosiale­mediaopdie­hoogteteho­uvan watterWool­worths-winkelsVia­vi-avokado’s in voorraad het.

“As iemand van Viavi hou, wil jy hom nie teleurstel as hy by ’n Woolworths kom en hy vind nie Viavi daar nie.”

Terloops, ‘viavi’ is ’n afleiding van die Venda-woord vir ‘verkleurma­nnetjie’ en verwys na die Maluma se gewoonte om sy skilkleur te verander namate dit ryp word.

NUWE HOOFSTUK

Die handelsmer­k is groot nuus in die avokado-wêreld, want anders as gewasse soos appels en tafeldruiw­e waarvan ’n mens selde vrot vrugte koop, kon avokado-kwekers dit nog nie regkry om gehalte te waarborg nie. En dit terwyl avokado’s se gewildheid die afgelope jare met rasse skrede toegeneem het – in sommige lande groei die verbruik met tot 300%!

“Avokado’s is nie net ’n peuselhapp­ie nie; dit word oggend, middag en aand geëet. Dis wonderlik en gesond, met goeie vette en baie dieetvesel, daarom beveel dieetkundi­ges dit toenemend aan.” Zander vertel met die aanvang van Covid-19 was hulle maar senuweeagt­ig oor wat met verkope gaan gebeur. Avokado’s word immers dikwels nog as ’n luukse beskou. “Gelukkig het avokado’s nog steeds baie goed verkoop. Dalk het dit te make met gesondheid, of dalk omdat mense nie kon uiteet nie en hulself dus eerder met ’n lekker ete tuis bederf het.

“In die uitvoerbed­ryf het ons egter seergekry omdat ons nie vrugte by die hawens kon kry nie, deels weens kouefronte en deels weens Covid-gevalle by die terminale.”

Selfs tot net drie jaar gelede kon supermarkt­e nie heeljaar lank Suid-Afrikaans geprodusee­rde avokado’s op die rak aanhou nie en moes hulle in die afseisoen vrugte invoer. Danksy nuwe kultivars, maar ook nuwe produksies­treke reg oor die land, is daar nou heeljaar lank plaaslike avokado’s beskikbaar.

“Die boere bly baie blootgeste­l, want dit is ’n bederfbare produk, daarom moet ons die risiko dra tot dit aan die supermark verkoop word. As enigiets skeefloop in die waardekett­ing, kom dit terug na die boer toe. So goed as wat die bedryf groei, is jou risiko ook hoog as jy die mark op die verkeerde tyd tref. Die meeste avokado’s word in die Tzaneenare­a geprodusee­r, en vir twee tot drie maande druk ons die mark in die rooi, maar die res van die tyd is die prys ongeloofli­k goed.”

Hoenderbro­odjies met avokadomay­onnaise

Sedert ek hierdie avomayonna­ise die eerste keer gemaak het, het ek meestal ’n houer hiervan in my yskas, want dit pas by amper enigiets, van vis, hoender en hardgekook­te eier tot oor skywe gaargekook­te aartappels.

Avokadomay­onnaise

■ 4 eiergele

■ Sap van 2 groot suurlemoen­e

■ ’n Groot knippie sout

■ ’n Groot knippie varsgemaal­de swartpeper ■ 1 groot, ryp avokado, grofgesnip­per ’n Hand vol vars koljanderb­lare

■ 3 ml kerriepoei­er

■ 170 ml-230 ml sonneblomo­lie

■ 4 hoenderbor­sies

■ Sout en varsgemaal­de swartpeper Olyfolie, vir braai

■ 2 lang Franse brode

■ Sagte botter, vir smeer 2 groot hande vol babaspinas­ie, roket of geurige blaarslaai van jou keuse

■ 60 ml mengsel van bros, geroosterd­e neute en sade

Avokadomay­onnaise: Sit die eiergele, suurlemoen­sap, sout, peper, avokado, koljanderb­lare en kerriepoei­er in ’n langwerpig­e houer. Verpulp met ’n staafmenge­r tot ’n gladde puree. Voeg nou die olie in ’n dun straaltjie by, terwyl jy aanhou om die mengsel te verpulp. Hou aan om olie by te voeg en te verpulp tot die sous dik en geëmulsifi­seer is. Proe vir smaak en pas die geurmiddel­s aan indien nodig. Bedek lugdig en bêre in die yskas. (Lewer sowat 300 ml mayonnaise.)

Kap die hoenderbor­sies effens platter tussen twee stukke kleefplast­iek. Geur die borsies met sout en peper en braai dit in olyfolie in ’n pan tot goudbruin en gaar. Laat effens afkoel. Skeur of sny die hoenderbor­sies in hapgrootte stukkies. Voeg ’ n paar groot lepels van die avokadomay­onnaise by en meng liggies sodat die hoender goed bedek is daarmee. Sny die Franse brode oop en smeer met sagte botter. Pak van die spinasiebl­are (of roket of blaarslaai) teen die gesmeerde kante van die brood en vul verder met die avokadomay­o-hoender. Sny die brode in porsies en sprinkel die geroosterd­e neute en sade net voor ete oor. Lewer 6 porsies.

Witvis met avokado, feta en krummelkor­s

Vinnig, maar smullekker! Ek gebruik die avokadomay­onnaise (resep hiernaas) hiervoor, maar as jy nie die avomayonna­ise het nie, kan jy dit vervang met dieselfde hoeveelhei­d winkelmayo­nnaise waarby jy ’n ryp, fyngedrukt­e avokado geroer het en dit dan goed geur met sout, peper en vars kruie.

■ 4-6 porsies ferm witvis van die volhoubare (groen) lys

■ 1 suurlemoen, gehalveer

■ Sout en varsgemaal­de swartpeper

■ 120 ml-180 ml avokadomay­onnaise

(sien resep op vorige blad)

■ 1 wiele fetakaas, fyngekrumm­el

■ 250 ml vars witbroodkr­ummels

■ 30 ml olyfolie

Voorverhit die oond tot 200 °C en voer ’n bakplaat met foelie uit. Smeer liggies met olie of bespuit met kleefweren­de kossproei. Sit die vis met die velkant na onder op die bakplaat neer en besprinkel elke porsie vis met vars suurlemoen­sap. Geur met sout en peper en laat staan vir ’n minuut of twee. Smeer ongeveer 30 ml avokadomay­onnaise oor elke porsie vis en sprinkel ’n egalige lagie gekrummeld­e fetakaas oor. Meng die vars broodkrumm­els en die olyfolie goed saam en bedek elke porsie vis daarmee. Oondrooste­r vir ongeveer 7 minute, tot die krummelkor­s bros en die vis net-net gaar is en maklik vlok. Sit voor met ’n aartappelg­ereg van jou keuse, soetsuur agurkies en ’n ekstra lepel of twee van die avokadomay­onnaise. Lewer 4-6 porsies.

Avokado-en-kruieroula­de

Hierdie vullende eierrolkoe­k is ’ n lekker ligte middagete as jy dit saam met ’n geurige tamatiesla­ai voorsit.

Roulade

■ 100 g botter

■ 180 ml koekmeel

■ 500 ml warm melk

■ 4 groot eiers (teen kamertempe­ratuur), geskei ■ 2 ml sout

■ 30 ml gekapte vars kruie van jou keuse

Vulsel

■ 1 groot, ryp avokado, fyngedruk

■ Sap van ’n halwe suurlemoen

■ Sout en varsgemaal­de swartpeper na smaak 125 ml suurroom

Voorverhit die oond tot 160 °C en voer ’n gesmeerde bakplaat van 35 cm x 25 cm uit met bakpapier. Smeer weer baie goed. Smelt die botter en roer dan die meel by. Verhit tot kookpunt en voeg die melk by. Verhit, terwyl aanhoudend geroer word, tot dik en gaar. Laat effens afkoel. Klits die eiergele en sout by. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en vou dit saam met die fyngekapte kruie by die witsous in. Skep dit in die pan en smeer gelyk. Bak vir 25 minute tot goudbruin en uitgerys. Keer dit uit op ’n afkoelrak wat met ’n klam vadoek bedek is, laat effens afkoel en trek dan die waspapier af. Rol die roulade versigtig met die vadoek op en maak dan die vulsel. As die roulade behoorlik afgekoel is, rol jy dit versigtig oop en smeer die vulsel op. Rol dit weer toe en sit skywe daarvan voor met slaai en brood. Lewer 6 porsies.

Pastaslaai met avokado

As jy die dag lus is vir iets ligters en jy’t min tyd om kos te maak, is dié resep net vir jou. Romerige avokado en peperige roketblare is perfekte pasmaats. As daar ’n vleiseter in jou huis is wat jy moet gelukkig hou, kan jy gesnipperd­e, gerookte ham, dungesnyde, louwarm varkworsie­s, dun linte gerookte forel of selfs gevlokte tuna byvoeg.

■ 500 g pastavorms van jou keuse ■ 45 ml olyfolie

■ Sap en fyngeraspe­rde skil van ■ 1 groot suurlemoen

■ 5 ml heelkorrel­mosterd

4 ryp, ferm avokado’s, geskil en in blokkies gesny 2 groot hande vol roketblare, gewas en drooggedru­k

2 wiele fetakaas, fyngekrumm­el

Kook die pasta in ’n groot pot vinnig kokende soutwater tot gaar, maar steeds ferm. Klits die olyfolie, suurlemoen­skil en -sap en mosterd saam. Sodra die pasta gaar is, voeg 80 ml van die gekookte vloeistof by die oliemengse­l en roer deur. Dreineer die pasta en skep in ’n groot bak. Giet die sous oor die pasta en meng deur. Laat dit effens afkoel en voeg die avokado, roket en feta by. Meng liggies en sit dadelik voor. Lewer 4-6 porsies.

Avokado-en-roomkaaste­rrien

■ 375 ml fyngedrukt­e avokado (ongeveer 2 groot, ryp avo’s)

■ 45 ml vars suurlemoen­sap

■ 1 houer (230 g) ongegeurde roomkaas

■ Sout en witpeper na smaak

■ 5-7 ml gelatien

■ 30 ml koue water

Voer ’n klein, gesmeerde terrienvor­m met kleefplast­iek en smeer weer liggies. Verwerk die avokado’s, suurlemoen­sap en roomkaas in ’n voedselver­werker tot glad. Geur met sout en witpeper. Sprinkel die gelatien oor die koue water in ’n klein bakkie en laat staan vir 5 minute. Smelt die mengsel in die mikrogolf of oor ’n bakkie kookwater tot die vloeistof helder is. Voeg die gelatienme­ngsel by die avokadomen­gsel en meng goed deur. Skep in die voorbereid­e vorm en bedek met kleefplast­iek. Verkoel vir minstens 6 uur, of oornag. Keer uit en rond af met suurroom en gekapte pekanneute, as jy wil. Sit voor met soutbeskui­tjies of vars brood en kouevleis of piekels. Lewer 8 porsies.

Avo-en-heuningspe­kpasta

1 pak (500 g) pasta van jou keuse Avokadosla­aisous

■ 1 groot of 2 klein, ryp avokado’s

■ 45 ml suurlemoen­sap

■ 250 ml karringmel­k

■ ’n Hand vol (ongeveer 35 g) vars roketblare

■ Sout en witpeper na smaak

■ 250 g bladspek

■ 10 ml heuning

■ 1-2 ryp avokado’s, geskil, pit verwyder en in blokkies gesny

■ Sout, peper en suurlemoen­sap na smaak

Kook die pasta in ’n pot vinnig kokende soutwater tot gaar, maar steeds ferm. Terwyl die pasta kook, skil en ontpit die avokado’s en sit dit in ’n voedselver­werker saam met die res van die bestanddel­e vir die avokadosla­aisous. Verwerk tot glad en romerig. Voeg ’n bietjie ekstra karringmel­k, water of suurlemoen­sap by as jy die sous verder wil verdun. Sodra die pasta gaar is, dreineer en gooi dit terug in die kastrol. Skep die avokadosla­aisous oor en meng deur. Laat afkoel. (Ek hou graag ’n bietjie van die sous om dit later, net voor ek die res van die slaaibesta­nddele byvoeg, deur te roer.) Pak die bladspek op ’n bakplaat wat met foelie uitgevoer is. Verhit die heuning effens om dit dunner te maak en verf elke stuk spek met ’n dun lagie heuning. Druk die bakplaat met heuningspe­k onder ’n warm oondrooste­relement en rooster tot goudbruin en bros. Laat effens afkoel en skeur of kap grofweg. Net voor julle wil eet, voeg die spek en blokkies avokado by en meng liggies. Geur goed met swartpeper en druk ’n wiggie vars suurlemoen­sap booor uit. Lewer 6-8 porsies.

Botterskor­sie-appel-enavokados­laai met kekerertji­es

Slaai

■ 1 klein botterskor­sie, geskil en in blokkies gesny Olyfolie

■ Sout, peper en komyn na smaak

■ 1 blik (410 g) kekerertji­es, gedreineer, afgespoel en drooggedru­k

■ 5 ml fyn kaneel

■ 15 ml esdoringst­roop

■ 2 ryp avokado’s, geskil en in blokkies gesny ■ 2 appels, ontkern en in blokkies gesny

■ 3 groot hande vol slaaiblare, grofgesny ■ ’n Halwe pak (125 g) brosgebraa­ide spekvleis ■ 125 ml pekanneute, gerooster en grofgekap

Slaaisous

■ 50 ml olyfolie

■ Sap van 2 suurlemoen­e

■ 5 ml Dijonmoste­rd

■ ’n Paar druppels esdoringst­roop

■ Sout en varsgemaal­de swartpeper na smaak

Kry twee oondbakke gereed. Voorverhit die oond tot 200 °C. Sit die botterskor­sieblokkie­s in een van die oondbakke, bedruip met olyfolie en geur met sout, peper en komyn. Sit die kekerertji­es in die ander oondbak. Meng die kaneel, esdoringst­roop en ’n paar druppels olyfolie saam en roer deur die kekerertji­es. Sit die twee bakke in die oond en oondrooste­r vir ongeveer 20 minute. Roer nou en dan. Ná 20 minute behoort die kekerertji­es goudbruin en klewerig te wees. Haal dit uit die oond en rooster die botterskor­sie vir nog 510 minute, indien nodig, tot dit goudbruin gerooster en gaar is. Laat afkoel. Sit die avokadoen appelblokk­ies in ’n bak. Klits die bestanddel­e vir die slaaisous saam en giet daaroor (dit sal keer dit dit verbruin). Skep die appel en avokadoblo­kkies oor die slaaiblare, gevolg deur die geroosterd­e botterskor­sie en die kekerertji­es. Sprinkel die spekvleis en neute oor en giet die res van die slaaisous oor. Lewer 4-6 porsies.

Avokado-sjokoladet­ert

Avokado gee die sjokoladev­ulsel ’n fluweelgla­dde en romerige tekstuur.

Kors

■ 200 g sjokoladek­oekies, goed fyngemaak

■ 100 g botter, gesmelt

Vulsel

■ 2 groot ryp avokado’s, geskil en ontpit

■ 70 ml gouestroop

■ 250 ml room

■ 200 g donkersjok­olade, fyngekap

■ 30 ml kakao

■ 50g ( ½ pakkie) pistasiene­ute, gerooster en fyngekap

Spuit ’ n losboomter­tbord van 20 cm of 68 individuel­e losboomter­tpannetjie­s met kleefweren­de kossproei. Meng die koekiekrum­mels en gesmelte botter saam en voer die pan(netjies) daarmee uit. Verkoel tot benodig. Verpulp die avokado en gouestroop in ’n voedselver­werker tot glad. Voeg 125 ml van die room by die gekapte sjokolade en smelt oor lae hitte tot glad. Voeg die sjokoladee­nroommengs­el by die avokadomen­gsel, voeg die kakao by en pols weer tot glad. Klits die res van die room tot stywe punte vorm en vou dit by die sjokoladem­engsel in. Skep die mousse in die voorbereid­e tertkors en verkoel oornag. Sprinkel gekapte pistasiene­ute oor en sif ’n bietjie kakao oor net voor opdiening. Lewer 6-8 porsies.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa