Geurige hart van die plaas!
Eens op ’n tyd het al wat ’n plaas was ’n kweperlaning of minstens ’n boom in die tuin gehad. Deesdae kry ’n mens dié geurige vrugte nie meer so maklik nie, maar op Tierhoek sorg die ou boord steeds vir heerlike vrugte om op allerlei maniere in te span.
Die ou kweperboord is die ware siel van dié plaas. Só vertel Alison Gilson ná ons ’n draai gemaak het by die hektaargrootte boord, wat al in 1970 op Tierhoek by Robertson aangeplant is.
Die ou bome se takke hang behoorlik onder die gewig van die songeel vrugte wat binnekort gepluk gaan word. Vanjaar se oes lyk fantasties, reken Bruce Gilson.
“Wanneer die kwepers ryp en gereed is om te pluk, hang die heerlike geur swaar in die lug. Jy ruik dit sommer as jy hier verbyry,” vertel hy. Hierdie heerlike “kweperparfuum” herinner aan die reuk van appels, maar met effense sitrusnote.
Kwepers, wat nes appelbome lid is van die roosfamilie, behoort deesdae tot iets “outyds”, iets wat nostalgiese herinneringe aan ouma se agtertuin of ’n laning langs die plaaspad oproep. Om vandag jou hande op ’n vars kweper te lê, is nie ’n maklike taak nie. Jy skop ook nie ’n kweperboer agter elke bos uit nie.
“Ek weet eintlik net van ons en nog iemand in die Agterkliphoogte-omgewing wat daarmee boer,” vertel Bruce. “Kwepers maak ook maar ’ n klein deeltjie van ons boerdery uit, hoewel ons ’n hele klomp produkte daarvan maak – veral jellie en konfyt, maar ook inmaakte kwepers as die mark daarvoor vra,” sê Bruce.
Daar is selfs ’n kweperjellie met ’n koljandergeurtjie. Die Gilson-gesin is self baie lief vir kwepers en geniet elke jaar die oorvloed uit hul boorde. Dit vries uitstekend, en wanneer vriende kom kuier, vra hulle graag na Alison se dekadente gebakte kweperpoeding – ideaal vir ’ n koue wintersdag. En somertyd maak sy ’n lepel vol van die kweperjellie warm om as ’n sousie oor roomys te skep. Dan is daar ook die delikate kweperblatjang wat Marianna Esterhuyzen van Stanford altyd gemaak het waarvan veral Alison nie genoeg kon kry nie.
“Ons geniet kwepers ook saam met kaas of vleis. Dit pas by amper enigiets! Ons werkers hou daarvan om kwepers in skyfies te sny, sout oor te strooi om die tanniene te versag en dit rou te eet ná hulle die sout afgespoel het. Dit klink vreemd, maar dit smaak glad nie sleg nie.”
Toe die Gilsons sowat 24 jaar gelede die plaas Spaarkloof in Robertson se Noreevallei gekoop het, het die ou kweperboord, wat deesdae bo een van die gewilde gaste-kothuise op die plaas uittroon, al ’n klomp somers agter die blad gehad.
In 2007 het die Gilsons nog ’n boord (ook een hektaar) aangeplant. Maar dis die ouer boord wat ’n spesiale plek in almal op die plaas se harte het.
“Die kultivar staan bloot bekend as die Portuguese kweper en ek dink nie daar het deur die jare al nuwe of beter kultivars die lig gesien nie. Die probleem met kwepers is om ’n mark vir die vrugte te vind. Ons het geen idee waarom die vorige eienaars dié boord gevestig het nie, maar ons is hulle baie dankbaar!” vertel Bruce.
ORGANIESE BOERDERY
In 2001 het die egpaar ook hul buurplaas, Tierhoek, gekoop. Hul grond strek nou oor sowat 1 500 ha, maar net sowat 30 ha daarvan is geskik vir vrugteboerdery.
“Om dit te laat werk, het ons besluit om aan die voorpunt te wees en die organiese roete in te slaan. Ek is seker baie van ons bure het agter ons rug gelag oor ons besluit! Dit het drie jaar geduur om die sertifisering in plek te kry en die boerderymetodes oor te skakel.”
Buiten hul beperkte boerderygrond is organiese boorde se produksie dikwels ook laer omdat boere nie baie stikstof kan toedien nie. Hulle moes dus maniere vind om waarde toe te voeg tot die appelkose, pruime, kwepers, mango’s en tamaties waarmee hulle boer.
In hul kombuis en drogingsaanleg word die vrugte wat hulle nie vars verkoop nie, tot die allerlekkerste produkte verwerk. Die gedroogde produkte word gedehidreer en is dus swaelvry.
“Ons moet alles wat ons op die plaas het, kan gebruik of verkoop – of minstens as kos vir die varke kan gee,” glo hulle.
Die plaas is onlangs as bewaringskampioen deur die Wêreldnatuurlewefonds aangewys. Dit wys hul toewyding om natuurlike areas, diere, plante en waterbronne op die plaas te bewaar, en indringerspesies te verwyder.
As konvensionele boer het dit Bruce ook ’n ruk gekos om sy kop rondom organiese produksie te kry, maar dit het op soveel maniere sin gemaak dat hy nie meer anders kan dink oor die landbou nie.
“Oor die jare het ek besef my probleme is nie veel anders as ander boere s’n nie – ek beveg dit net met ander gereedskap. Dis egter verblydend om te sien hoeveel van die beginsels van organiese boerdery deesdae hul plek vind in konvensionele boerdery – dink maar aan snoeisels wat fyngekap en in boorde gestrooi word om te help om die vog te bewaar.”
Boere wat glo ’n plaas moet “netjies” wees, sal waarskynlik effens gril vir Bruce en Alison se kweperboord, waar die natuurlike plantegroei net so lustig saamgroei. Op hierdie plaas vorm alles deel van ’n groter ketting waar al die skakels in harmonie met mekaar saamleef en toegelaat word om hul natuurlike funksie te vervul. Ná oestyd kry die skape ’n beurt
‘Dis baie harde werk, maar ons dink glad nie só daar aan nie. Ons geniet dit net te veel!’
Die ouer kweperboord op Spaarkloof by Robertson het ’n spesiale plek in almal op die plaas se harte, sê Bruce Gilson.
om in die boord te kom smul om die dekgewasse in toom te hou.
“Ons meng so min as moontlik in met die kweperboord. Die kweperbome wil spoorelemente hê, daarom dien ons vulkaniese as, kompos en kompostee en hoendermis toe en snoei die bome ’n bietjie in die winter om nuwe groei te stimuleer.”
AARD BYKANS ORAL
Kwepers aard goed in Mediterreense klimaatstreke, met koue winters en warm, droë somers. Maar te oordeel na die feit dat jy eens op ’n tyd kweperbome gekry het op al wat ’n plaas in die land is – veral in die dorre Karoo – meen Bruce die bome is nie té vol fiemies oor waar hulle groei nie. Solank die grond net nie té nat is nie en daar moet verkieslik ook nie ryp voorkom nie.
“Kwepers is bekend daarvoor dat dit alles wat steek, vlieg of byt, lok! Dit is dus eintlik vir moeilikheid soek om organies daarmee te boer. Veral vrugtevlieg, valskodlingmot en Oosterse vrugtemot kan ’n probleem wees, maar gelukkig is ons in ’n vallei geleë. Dis dus nie ’n reuseprobleem nie. Ons gebruik wel organies gesertifseerde middels, soos koper, neemolie, sitronella, knoffel- en rissiesous – basies ’n lekker steaksous! – om voorkomend op te tree. Maar daar is altyd genoeg mooi kwepers vir die vars mark en as ’n vrug deur ’n insek bygekom is, is dit nie ’n probleem as jy dit droog nie,” vertel Bruce.
“Die oes is werklik uitstekend vanjaar,” sê hy weer opgewonde. Oestyd breek einde Maart aan, maar die vrugte hoef nie dadelik gepluk te word nie (hoewel die risiko van insekskade groter raak hoe langer dit aan die bome hang).
“Wanneer die vrugte lekker ryp is en die heerlike geur oor die boord uitsak, pluk ons dit en berg dit dan in die koelkamer op tot ons gereed is om dit te gebruik. Kwepers kneus ongelooflik m aklik, dus plaas ons dit op sponse in ’n enkellaag in klein kissies wanneer ons oes.”
Hulle verkoop sowat 10% van die vrugte aan organiese varsproduktewinkels en verwerk die res. ’n Maatskappy wat vrugtegebaseerde tee maak, koop ook heelwat van die kwepers om ’n geurige kwepertee te maak.
Van buite gesien, lyk dit asof die Gilsons ’n idilliese lewe het, hoewel die boerdery, soos enige ander, maar sy gewone vraggie probleme bring.