Landbou Boerekos

Oor beskuit en tradisies

Die sjef, skrywer en TV-aanbieder ANNA CAROLINA (Caro) ALBERTS se lewenspad het op ’n plaas in die bos begin, maar het haar intussen oor die wêreld heen geneem. Oral waar sy aansit of kos maak, maak sy kosbare geurherinn­eringe bymekaar.

- Teks, resep en stilering: CARO ALBERTS Foto’s: VERSKAF

Ek sit vanoggend in die Starbucks in Menlyn. Salig sit ek en teug aan ’n short cap with a shot of vanilla. Als is wel in die wêreld in daai vyf minute van teug. Ek verkyk my aan die meisie wat inkom, hopelik onbewus van hoe kort haar rokkie is as dit optrek (soos wat dit toe doen). Na die man wat diep in gesprek is, ouer en sonder ’n trouring. Ek wonder of hy geskei is of net nie een dra nie. Wat al in sy lewe gebeur het. Waaroor hy so passievol gesels.

Ek weet daar is beter koffie in van die ander koffiewink­els; ek weet daar is goedkoper koffie daar buite en ek weet daar is koffiewink­els wat deur Suid-Afrikaners begin en bestuur word wat baie beter sal wees om te ondersteun, maar… Starbucks neem my terug na toe ek 15 jaar oud was en op die groot muur in York gesit het. Ek was yskoud, bitter jonk en op die grootste avontuur van my lewe. En toe weer na waar ek 27 was en in São Paulo aan ’n Starbucks Pumpkin Spiced Latte geteug het. Ek was dolverlief, vol hoop en lewenslus.

Herinnerin­ge is van my sterkste dryfkragte. Daarom verlang ek soms net na ’n lekker stukkie melktert. Of sterk boeretroos met kondensmel­k wat so warm is, dit brand die eerste laag vel net so van jou tong af. Ek het ’n geurryke kleintyd gehad — vol van die lekkerste tradisione­le boerekos. Bobotie, potjiekos, malvapoedi­ng, basaarpoed­ing, koeksister­s, melktert, al die lekker dinge.

Ek moet bieg — die afgelope 12 jaar in Kaapstad het my kosvoorkeu­re al aansienlik verander en die kosse van my kleintyd is nou nie meer so volop in my alledaagse lewe nie. Maar daar is ’n paar wat ek sal uitsoek. Wanneer ek myself op ’n Saterdag in Pretoria bevind, gaan ek graag na die Boeremark. En ek staan in die lang ry vir pannekoek. Dan weer in die ander lang ry vir melkkos. Ek bak ook al self beskuit vandat my vingertjie­s botter kon invryf. In my grootwordh­uis op die plaas was daar ’n groot emalje-emmer vir beskuitbes­lag aanmaak (en om oupa se muesli te meng).

Ons het met Jerseys geboer, dus was daar vars melk en plaasbotte­r vir die beskuit. En daar was hoenders en eiers was volop. Ons sou van die Jerseyroom die botter karring met my ouma se houtkarrin­g.

Die melkery het so ’n reuk van beesmis en ontsmettin­gsmiddel gehad wat net ’n plaaskind sal ken. Ek sou kaalvoet, met my PTbroek en T-hemp, verby die groot avokadobom­e en my boetie, oupa en oumagrootj­ie se grafte na die melkery stap en 5 liter melk

in die wit plastiekem­mer tap. Ek was maar altyd kaalvoet en die grond was welkom tussen my tone. In die kraal tussen ons huis en die melkery was daar Boerperde en vir ’n ruk ’n hans eland met die naam Cindy. Ons het haar met die bottel grootgemaa­k en toe later in die wildkamp vrygelaat.

Bo teen die skuur het ’n koejawelbo­om gestaan. My ma het die koejawels in suikerstro­op ingelê en ons het dit vir ontbyt geëet saam met jogurt. Vandag nog lê ’n gestoofde koejawel my baie na aan die hart. Daar is mos vir ons elkeen ietsie. ’n Bekende smaak wat ons hart roer.

Elke maaltyd van my kindertyd het ons om die groot houttafel in ons plaaskombu­is geëet. Ek en my broers en suster het tuisonderr­ig gekry, dus was ons vier heeldag tuis. My pa het elke middag van waar hy ook al op die plaas besig was, huis toe gekom vir middagete. Daar was ’n Agastoof in die kombuis (sou dit nie handig te pas gekom het vir deesdae se beurtkrag nie!) wat sommer ook ingespan is om ons stortwater te verhit.

Elke oggend was daar mieliepap op die Aga. Een van twee vir ontbyt — slappap of poetoepap. Bokspap was ’n luukse en net vir naweke of vakansies. Toe was ek vies daaroor, nou is ek dankbaar.

Terug na die beskuit (sien, kyk hoe ’n herinnerin­g jou kan laat wegdwaal in die onthou). My ouma het veselbesku­it en anysbeskui­t gebak en my ma wit karringmel­kbeskuit. Die beskuitbli­k was altyd vol. Dit is nou maar net iets wat in elke huishoudin­g moes wees – lekker beskuit.

Daar is min dinge wat so lekker is soos ’n beskuitgeg­eurde slapie… Een maal per maand — wanneer die beskuitbli­kke gevul moes word — ruik die hele huis deurnag soos beskuit. Jy gaan slaap met die geur en jy word wakker daarmee. Die volgende dag word die beskuit in die ou blikke gepak. Nog steeds.

My oumas se blikke staan in my ma se kombuis. En my oumas se beskuitres­epte maak die blikke steeds vol.

Ek bak steeds my eie beskuit, al is die winkelrakk­e tot oorlopens toe vol. Hoekom? Wel, eerstens oor die reuk! Tweedens oor die tradisie. Een hiervan is om beskuit te bak voor elke wegbreek. En my padkostrom­mel te pak. Met my koffie, beskuit en ’n klein koffiepotj­ie. Derdens omdat ek kan beheer wat daar ingaan — minder suiker, net regte botter, goeie meel, lekker baie neute en sade.

Anders as my ouma en ma, bak ek altyd “moerby”-beskuit. Dis vreeslik, ek weet. Ek moet eintlik net ’n resep volg, maar ek het altyd klein bietjies dit en klein bietjies dat oor van fotosessie­s of opnames, en ek probeer die kaste leeg kry. En dit werk! Die laaste baksel was ’n yslike treffer. Ek het saam met vriende gaan kamp en ’n trommel beskuit (my ouma se staalbrood­blik wat nog van die plaas af kom) saamgeneem, en almal was gaande oor die beskuit.

Ek sê grappender­wys daar gaan eendag op my grafsteen staan: “Hier lê Caro. Sy kon lekker beskuit bak.” Hopelik kan daar meer as dit staan! Maar nietemin, dit was ’n lekker baksel. Ek weet daar was rogmeel in, en goeie, growwe bruinmeel en klapper en amandels en botter. Dis omtrent al wat ek kan onthou. Nou is die “moerby’’ sommer deel van my beskuittra­disies, en ek sal dit aanhou eer.

Skink ’n koppie koffie, bak ’n beskuitjie en skep herinnerin­ge!

Caro se ‘moerby’-beskuit

Jy kan regtig pret hê — vervang die klapper met sade. Los die muesli uit… Sit gedroogde vrugte by. Maak dit jou eie.

Moet net nie met die hoeveelhei­d meel, bakpoeier en vloeistof mors nie.

4 x 250 ml volkoringm­eel

500 ml rogmeel

500 ml witbrood- of koekmeel

250-500 ml suiker (jy kan wit- of bruinsuike­r gebruik)

50 ml bakpoeier

10 ml sout

500 g koue botter, gerasper of in klein blokkies gesny

500 ml elk klapper en muesli

250-500 ml gekapte neute (ek het amandels gebruik, maar pekan- of makadamian­eute werk net so goed)

250 ml pitlose rosyntjies (opsioneel) 2 ekstragroo­t eiers

500 ml karringmel­k (as jy nie karringmel­k het nie, gebruik 500 ml melk en voeg 15 ml asyn by die melk)

Voorverhit die oond tot 180 °C en voer twee broodpanne van 20 cm x 30 cm met bakpapier uit en smeer weer. Meng die meel, suiker, bakpoeier en sout in ’n groot bak. Vryf die botter met jou vingerpunt­e by die mengsel in tot dit soos broodkrumm­els lyk. Voeg nou die res van die droë bestandele by en meng. Klits die eiers en karringmel­k saam en roer by die droë bestanddel­e. Deel die deeg in twee en druk eweredig plat in die panne. Sny die rou deeg in die panne in beskuite. Bak in die voorverhit­te oond vir ongeveer 30 minute of tot goudbruin en deurgaar. Laat die beskuit vir ongeveer 1 uur in die panne afkoel. Breek die beskuite versigtig uit mekaar. Pak in ’n enkellaag op ’n bakplaat en droog in die oond uit teen 80 °C vir sowat 6-8 uur.

Lewer ongeveer 6 dosyn beskuit.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? REGS EN BO: Vir Caro Alberts is die geure van haar ouma en ma se boerekos heerlike herinnerin­ge, maar ook inspirasie, en waaroor sy skryf in haar kookboek, Botter & Liefde.
REGS EN BO: Vir Caro Alberts is die geure van haar ouma en ma se boerekos heerlike herinnerin­ge, maar ook inspirasie, en waaroor sy skryf in haar kookboek, Botter & Liefde.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa