PETER LEPPAN SELDERYBOER VINNIGE VRAE
Jy is ’n dieselwerktuigkundige van nering.
Hoe het die boerderygogga gebyt?
Dit was altyd die plan dat ek gaan boer, maar my ma het my aangemoedig om my as dieselwerktuigkundige te bekwaam. Sy het geglo dit sou waardevolle vaardighede wees, want meganisasie sal altyd met ons wees. Ek het egter al trekker bestuur voor ek ses jaar oud was en boer was al wat ek ooit wou doen! My pa het in 1956 na die plaas getrek en eers met skaap en later suiwelbeeste geboer. Nog later het hy groente aan Table Top, wat bevrore groente vervaardig het, verskaf. Vroeg in die 1970’s het hy blaarslaai begin kweek wat hy aan ’n maatskappy voorsien het wat uiteindelik Freshmark geword het. Dit was die begin van ons verhouding met Freshmark.
Waarmee boer jy vandag alles?
Buiten seldery, Brusselse spruite en peperwortel, plant ons ook weidings en beesvoer vir die plaaslike suiwelboere om ons grondgesondheid te bevorder. My grond is beperk, en daarom boer ek met spesialiteits- en nisprodukte.
Vertel meer oor selderyproduksie. Die mark vir seldery is baie klein en ons is net ’n handvol boere
in Suid-Afrika wat dit produseer. Ons plant en oes regdeur die jaar.
Speel tegnologie ’n groot rol in jou boerdery?
Nie regtig nie. Ons gebruik baie arbeid en ons arbeidskoste beloop sowat ’n derde van ons omset. Dit pas my, want dit stel my in staat om een van ons familiewaardes uit te leef en dit is om na ons gemeenskap om te sien. Tydens die apartheidsjare was my pa baie betrokke om dialoog tussen rasse aan te wakker en seker te maak almal kry ’n goeie opvoeding. In die 1980’s het hy op televisie gesien hoe kinders in die plaaslike township (Thembalethu) onder ’n boom moet skool gaan. Binne ’n jaar het hy genoeg geld ingesamel om ’n skool met 22 klaskamers te bou. Ek en twee ander wou voortbou op my pa se nalatenskap en het ’n liefdadigheidsorganisasie genaamd 7 Passes Initiative begin. Dit is een van my grootste prestasies.