Landbou Boerekos

KAAPSE KOSONTHOU

-

Ek soek-soek deur die tydskrifra­k in Checkers op ’n Sondag. Ek soek die Boerekos of Platteland wat ek nog nie het nie. Ná ’n lang gekrap op pad kasregiste­r toe om te betaal, buk ek af om die Sunday Times van die vloer op te tel wat van my trollie afgeval het. Toe val my oog op een verlore Boerekos.

Dadelik weet ek dit is ’n wenner as daar net een boek oor is. Ek kyk vinnig deur die blaaie en sien die speserybol­las en toe die Kaap se prentjies en die bekende Atlas Trading-speserywin­kel waar ons as kinders saam met my ma of ouma gaan speserye koop het. Ons het toe in Walmer Estate gewoon nadat ons deur die group areas- gedoente Heideveld toe moes trek. Toe kon ons Atlas net elke twee maande besoek, want dit was ver om met die bus te ry in daardie tyd.

Met die geblaai sien ek my gunsteling: appel-en-kaneeltert. Net die vorige dag het ek appels en kaneel in die pan gestowe om met my pap te eet. Hierdie resepte het my só opgewonde gemaak. Ek sit die boek in die trollie, want die Checkers- aunties is ongeduldig — dit is amper toemaaktyd. Toe ek nog in die ry staan, loer ek weer in die boek en ek sien naanbrood en ’n ou stamper en vysel om speserye in fyn te maak. Dit was destyds my werk op die agterstoep elke Sondagogge­nd. Die een lyk net soos my ma s’n wat my suster gevat het, al gebruik sy dit nie.

Sondagogge­nde in die Kaap het ek geweet wat die bure besig was om te kook, want al die geure het my neus op toer geneem terwyl ek die stamper vinnig kap-kap om klaar te kry, want speeltyd was maar min in die week as ons ná skool van die madresa kom.

Terug by die huis is ek te ongeduldig om al die kruidenier­sware uit te pak. Ek sit net die kaas en jogurt in die yskas en vat die Boerekos en begin lees. My oog vang die horlosie. Dit is al 16:00 en ek lees nog. Dit hou net nie op met al die lekker en bekende resepte nie.

Ek stop gereeld by die soutpan naby Bloemhof om sout van die oom daar te kry. In Boerekos sien ek die soutpan naby Velddrif in die WesKaap. En ek is uiteindeli­k op pad terug Kaap toe ná 20 jaar van werk in Gauteng en nou kan ek nie wag om Velddrif te gaan besoek nie. Ek neem my Boerekos saam Kaap toe. Miskien kry ek nie weer een nie.

Dankie vir die lekker resepte uit memory lane wat ons nog steeds kan maak en geniet. FARIEDA RICKETTS GRASSY PARK, KAAPSTAD

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa