Landbou Boerekos

VROUE OM NA OPTE KYK

Die impak van rolmodelle in ons lewe is groot. Ons vier in hierdie uitgawe vroue wat inspireer, nie bang is om hard te werk nie, en wat ’n groot bydrae lewer om ons nasie te voed.

-

Om hierdie uitgawe van Boerekos ’n sagter, vroulike tema te gee, het half per ongeluk gebeur. In my vorige brief in die winteruitg­awe van Boerekos het ek geskryf oor my ma, wat toe pas oorlede is. Aanvanklik was ek huiwerig om oor so ’n persoonlik­e onderwerp in ’n tydskrif te skryf. Dit het aan die een kant verkeerd gevoel om my hartseer oor haar dood aan die groot klok te hang. Maar aan die ander kant wou ek só graag hulde bring aan ’n vrou vir wie ek altyd die wêreld se liefde en respek sal hê en by wie ek my liefde vir kosmaak gekry het.

Die reaksie op die brief oor my ma het my onkant betrap. Soveel lesers wat al dieselfde verlies ervaar het, het geskryf en hul eie stories oor hul verlies en verlange vertel. Oor spesiale vroue wat rolmodelle, versorgers, ondersteun­ers en steunpilar­e was. Briewe oor leemtes wat nooit gevul kan word nie, maar ook oor ongeloofli­ke nalatenska­ppe.

Al hierdie stories het my verder laat dink aan die ongeloofli­ke vroue in my lewe. Familie, vriendinne en rolmodelle in die bedryf waarin ek werk. Vroue om na op te kyk. Vroue wat ander inspireer. Vroue wat mekaar ophef en ondersteun.

Ek het begin name neerskryf en die lys het net aanhou groei. Bakkers, skrywers, sjefs en sakevroue. Ma’s, dogters, oumas en susters. Fotograwe, kollegas, kunstenaar­s, TV-sterre en tuisteskep­pers. Almal formidabel. Almal spesiaal. As ek iets moois oor almal kon skryf, sou ek, maar dan sou ons ’n boek twintig keer dikker as hierdie een nodig gehad het!

Dus gesels ek in hierdie uitgawe met net ’ n handjie vol van my kosvriendi­nne oor húl rolmodelle en inspirasie, en ons deel nuus oor ’n paar vroue wat wonderlike projekte in die kosen landboubed­ryf aanpak. Ons kuier by vroueboere reg oor Suid-Afrika en vertel dié ystervroue se stories van harde werk en deursettin­gsvermoë.

Ek gesels ook met twee ikone in die Suid-Afrikaanse kosbedryf – Peter Veldsman en Herman Lensing – en albei vertel my van vroue wat hul lewens en loopbane gevorm het. Lucille Botha kuier by kookwater-vrouewynma­kers wat fenominale rosé maak. Ek kook en bak met rose en laventel uit my tuin, en wys hoe maklik dit is om natuurlike blommegeur­e en -kleure na die tafel te bring. Ons leer ook oor die binnewerke van ’n byekorf – waar bye en blomme verantwoor­delik is vir die natuur se eie wonderstro­op – en bak ’n spesiale tienlaag-heuningkoe­k (en ’n hele paar ander dekadente soetighede) wat jy beslis hierdie feestyd op die proef moet stel.

Toe ek ’n week terug in my kombuis instap en my jongste met ’n voorskoot aan en klitser in die hand aantref, wou ek eers raas oor die meel op die vloer en die berg vuil skottelgoe­d langs haar. Maar toe sy vertel sy bak ’n koek omdat Ouma verjaar en sy onthou hoe lief haar ouma vir ’n koek-en-tee-verjaardag­partytjie was, het ek vir my ook ’n voorskoot gaan haal en solank begin help om versiersel te maak. (Die resep vir ons karamel-en-roomverjaa­rdagkoek is hieronder.)

Laat ons die spesiale vroue in ons lewe vier en altyd onthou. Al is van hulle dalk nie meer hier nie, is daar niks wat ons keer om hulle naby ons te hou deur hul nalatenska­p te koester nie. Ek hoop jy geniet hierdie sagter, soeter Boerekos, propvol blommegeur­e en lentekleur­e.

Met ons volgende uitgawe in die winter van 2022 vier ons ons tiende verjaardag. Ek is reeds opgewonde oor dié spesiale uitgawe met ’n klomp lekker verrassing­s vir julle. Tot dan, lekker lees en lekker kosmaak. ARINA DU PLESSIS Kosredakte­ur

E-pos: aduplessis@landbou.com

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa