DIE PLATTELAND SE KUIERKOS
Dis die grootste voorreg. Om werk te kan doen wat jou diep die platteland inneem. Om deur sy landskape te kan reis, met sy mense te kan kuier en, natuurlik, om die kos te eet.
Ek’s reeds vroeg Saterdagoggend op ’n vlug op pad Johannesburg toe. Die hoofspreker op Landbouweekblad se herlewingslandboukonferensie op Reitz die komende Maandag het reeds van Amerika af geland.
Die oud-Suid-Afrikaner Nick Vos boer in Kansas, in die hart van Amerika se berugte Dust Bowl. Daar word dit -40 °C in die winter en tot 40 °C in die somer. Met net 400 mm reën per jaar is daar ook kwaai winde en ’n sporadiese orkaan. Nick is die soort tawwe boer waarna ons manne vanjaar wil luister. Veral met die kwaai droogte en versengende hitte wat graanaanplantings plek-plek reeds doodgebrand het.
Hy is ook ’n lekker ou. Hy praat nog vlot Afrikaans, maar sy Engels kom met die swaar Amerikaanse aksent van iemand wat Engels eers daar leer praat het. Ons is skaars uit Johannesburg of hy vra vir biltong. Amerikaanse jerky is nie biltong nie, probeer hy verduidelik. Anderkant Frankfort is daar ’n padstal. Nick kom uit met drie enorme bruin papiersakke vol biltong.
Op Reitz is ons na Danie en Via Slabbert se plaas buite die dorp. Danie is voorsitter van die Riemland- studiegroep, die klomp jong( erige) boere saam met wie ons die konferensie aanbied.
Danie se plaas is ook die plek waar kongresgangers kom kyk na mielies wat sonder kunsmis verbou word, asook groot troppe Drakensbergerbeeste wat uurliks geskuif word en enorme hoenderhokke wat oor die veld gesleep word om só die groot wildtroppe van destyds na te boots. Die tonne mis en urine wat hulle agterlaat, veroorsaak ’n ontploffing van lewe.
Maar vanjaar is die veld ’n bietjie valer, van die mielies se blare krul reeds om van droogte en die sojabone hang moedeloos in die hitte.
Teen die middag begin die studiegroepmanne by die skool se rugbyveld kuier. Reitz se dorpspan sê Standerton die stryd aan. Vir die boere is dié game en samesyn ’n bietjie afleiding van die droogte. Twee van Danie se bestuurders speel, en Reitz wen in die doodsnikke met ’n strafskop. Die oorwinning word met ’n koue bier en lekker plaaslike steak gevier.
Die volgende dag kom al die konferensiesprekers wat reeds op Reitz is, asook die sowat 30 studiegroepmanne bymekaar op Danie se plaas om die besigtigingspunte te besoek. Laatmiddag skuif almal na die gebruiklike skaapstertjiebraai onder die swartwattelbome by die boonste mielielande – yskoue bier byderhand. Louis Pieterse braai oudergewoonte. Altyd in sy voorskoot en vanjaar met sy beste sousie nóg. Vir my een van die jaar se hoogtepunte.
Die eerste dag van die konferensie loop mooi en dis vir ons belangrik dat boere lekker eet. Die plaaslike kokke Esmé Wales en Loni Roets maak seker die groot skinkborde bly vol tuisgebakte brood en maalvleisvetkoeke.
Ná ’n lang dag staan die konferensiegangers die aand buite en geniet die koel lug ná ’n snikhete dag. Hulle drink ’n dop en eet Danie se gebraaide veldhoenders.
Die tweede dag begin met goeie koffie, beskuit en vleisbroodjies in Danie se aartappelpakskuur. Ons mik om voor 12:00 klaar te maak – voor dit té warm raak.
Ek staan tussen die beeste en luister na die geniale stockman Pikkie Uys toe die Facebook-kennisgewing deurkom van my ma se verjaardag. Dis nog nie eens ’n jaar sedert ons haar begrawe het nie. Ek dink hoe sy dit nou sou geniet het. Die boerdery en al die kuiers. Hoe sy nooit ’n vetveeveiling op die dorp misgeloop het nie, waar sy jaffels, kerrie-en-rys en tee en koffie onder leiding van die bekwame tannie Corrie StÖtter bedien het. Hoe tannie Corrie op my ma se begrafnis met arms vol melktert en pasteitjies opgedaag het.
Die aand ná die konferensie sit ons saam met die studiegroepmanne in Danie se aartappelskuur en kuier. Staaltjies van die afgelope paar dae word vertel. Gert “Plannetjies” van Tonder steek ’n vuur aan en begin plankiesteaks aanbied.
En toe begin dit reën. Die manne sit in stilte. Net omtrent 8 mm. Maar genoeg om ’n verskil te maak. Wat ’n voorreg.
BRENDA VAN RIEL van Stellenbosch wen ’n bederfpak met luukse Chardine-bokmelklyf- en -velprodukte ter waarde van R1 800 met haar brief oor die Laevelduitgawe van Boerekos. Geniet jou prys, Brenda!