KOEKSISTERS VIR DIE KERKBASAAR
Oral in Suid-Afrika staan geboue en geriewe wat op die fondasies van basaarpannekoek en -plaatkoek gebou is. ARINA DU PLESSIS onthou die lekkerte van die kerkbasaars van haar kindertyd en die jaar van die onkuise koeksisters op die koektafel.
My vroegste herinneringe van die kerkbasaar gaan nie oor basaarkos nie. Ek onthou sulke skerfies van ons dorp se basaar toe ek baie klein was, soos outydse skyfies in my kop. Spesifiek van die grasperk tussen die kerk en die kerksaal waar daar ’n kampie gemaak is vir die veeveiling. Boere het kalwers en skape van hul plase aangery. Daar was ’n afslaer wat hard en vinnig gepraat het, en net ooms het gebie op die skape (partykeer het een sommer gebie op die skaap wat hy self geskenk het). Kinders het rondgehardloop met boereworsrolle en toffie-appels, en die lug was dik van die reuk van pannekoeke wat in Hart-panne oor blou gasstofies gebraai het.
In die laerskool het ek en my broers nog nie sakgeld gekry nie, maar die uitsondering was die dag van die kerkbasaar. Dan het my pa en ma sommer papiergeld kwistig uitgedeel, want “dit gaan vir die kerk” en ons kon koop nét wat ons wou. Wat natuurlik tot gevolg gehad het dat ons koorsagtig tussen die tombolatafel en lekkergoedtafel gehardloop het om skatte te versamel, met ons nuutgevonde rykdom wat ’n gat in ons sakke gebrand het.
Daar was potjieskos en braaivleis. Daar was jaffels, melkkos, koeke en poeding in al die kleure van die reënboog. Daar was gelag en gekuier en gekoop. Daar was nie nog ’n dag op ons dorp soos die basaar nie.
Skemeraand is die kar gelaai met drie kinders in ’n suikerbeswyming, ’n kattebak vol melktert en vlakoek, klapperys, beskuit en kleinkoekies. ’n Klomp pakke van oom Potjie se boerewors, ’n vrag tombolatafelpryse en basaarkerrie of sosaties vir etenstyd.
Ek dink ek was in standerd ses of sewe toe my ma haar naam opgeskryf het om koeksisters vir die basaar te maak. Niks vreemds daaraan nie, sy kon heerlike koeksisters maak – goudbruin, vet en propvol stroop.
Maar dáárdie Vrydagoggend voor die basaar het iets skeefgeloop. Al het sy haar resep presies gevolg en die deeg gedraai en gevleg net soos sy dit nog altyd gedoen het, het die koeksisters se bene losgespring van mekaar sodra dit in die warm olie beland het. Teen die tyd dat hulle goudbruin en glimmend uit die suikerstroop gelig is, het dit meer soos klein koedoehorings as koeksisters gelyk. Mooi gedraai, maar met hul punte wyd in die wind.
Sy het alles probeer om die halsstarrige sisters te tem, want daar was kilogramme deeg. Die punte van die deegrepies tussen haar vingers saamgeknyp om hulle te laat plak, sy’t later water op elke deegbeen gesmeer om hulle te laat vassit wanneer sy die deeg gevleg het, maar dit wou om de dood net nie klou nie. Die een lot ná die ander se bene het losgespring.
Getrou aan haar aard het sy deurgedruk, haar verleentheid opsy geskuif en die beste van die saak gemaak. Tot laataand het sy alles mooi verpak, lint om elke pakkie gestrik en ons is die volgende dag basaar toe met dié vrag onkonvensionele soetgebak vir die koektafel.
Grappies oor die onkuise koeksisters het vinnig versprei en het gesorg vir ’n konstante stroom klante by die koektafel. Sommer gou was alles uitverkoop.
Toe ons die volgende oggend styf ingeryg op ons gewone plek in die kerk sit en die dominee kondig die mooi bedrag aan wat by die basaar ingevorder is, het daar hier en daar sommer iemand begin hande klap (al was applous daardie tyd nog effens ongehoord in die kerk).
Op die rug van kerkbasaars, skoolkermisse en koekverkopings is daar al berge versit. Met die geld wat inrol van kerrie-enrys en koeksisters (hoe perfek of krom ook al) word behoeftige kinders deur die skool gesit, die wurggreep van droogte verlig, mense wat moed verloor het, gehelp.
’n Basaar is ’n manier om gemeenskappe saam te bind en geld in te samel sonder om bakhand te staan. Om nie eens te praat van die ryke skat van resepte en kosherinneringe wat deur dekades van kerkbasaars en kermisse deel van ons boerekoskultuur geword het nie. In hierdie uitgawe vier ons die geliefde nostalgiese geregte en proe weer ’n slag die basaarkos van ons kindertyd. Ek hoop jy geniet elke happie.
Tot ons weer gesels, lekker kosmaak.