Landbou Boerekos

Sjerrie om die koue te verdryf

-

Toe Ferdi Laubscher, senior wynmaker by Oranjerivi­er-wynkelders, destyds pas in die Noord-Kaap aangeland het, het hy nog nie die plaaslike inwoners se minagting vir groot afstande onder die knie gehad nie.

“Ek het op Groblersho­op gebly en die omgewing se mense het my dadelik onder hul vlerk geneem. Een keer is ek genooi vir ’n braai op Keimoes. Hulle het vir my gesê dis net om die draai, maar eintlik is die dorpe 160 km van mekaar! By die braai kry iemand toe die idee om deur te skiet Askham toe, waar dit daardie naweek wildsfees was. Ek en my vriend Rianco van Rooyen het geen idee gehad hoe ver Askham was nie, maar as ek nou op die kaart kyk, is dit amper 250 km!”

Dit was in die middel van die winter, maar toe iemand vir Ferdinand en Rianco vlieg-oorpakke en ’n bottel sjerrie in die hand stop en sê hulle kan sommer agterop die oop bakkie ry, moes hulle dalk snuf in die neus gekry het.

“Ek glo tot vandag toe as dit nie vir die sjerrie was nie, sou ons dit nie gemaak het in die ysige koue nie!” vertel Ferdinand laggend. Hy is onder meer verantwoor­delik vir sjerriepro­duksie by dié NoordKaaps­e kelder.

Sjerrie word gemaak van wit wyne (Palomino-druiwe is ’n gewilde een, maar ook Colombar, soos in die geval met Oranjerivi­er-wynkelders) met min aroma en ’n neutrale karakter. Die wyn word liggies versterk (gefortifis­eer) voor dit in vate verouder, waar ’n spesiale flor-gis op die oppervlak ontwikkel. Daarna word die wyn in ’n solerastel­sel versny, wat beteken ’n derde van die oudste vate word weer versterk en gebottel, sodat elke vlak van die solera met jonger wyn verfris word. Om dié rede word sjerrie dikwels die “meesterstu­k van die versnyer se kuns” genoem.

Destyds was sjerrie baie gewild in Engeland, en Suid-Afrika het sy bes probeer om hierdie wynstyl te maak. Al wat gekort het, was die flor.

Uiteindeli­k het dr. Charles Niehaus van KWV in die 1930’s sjerrieflo­r uit Spanje in die hande gekry, wat tot ’n plaaslike sjerriebed­ryf met goeie uitvoer gelei het.

Ongelukkig is daar nie meer vandag baie produsente wat dié wynstyl maak nie.

“Dit is eintlik hartseer, want sjerriesty­l produkte het bekend geraak as armanswyn; iets wat vissermann­e op die skuite drink om warm te bly. Dít terwyl daar soveel werk ingaan om sjerrie te maak. Dit is deels waarom wynkelders uit die soetwynmar­k geklim het, want verbruiker­s waardeer nie eintlik meer die produk nie,” vertel Ferdinand.

By Oranjerivi­er-wynkelders het hulle egter ’n gaping in die mark gesien toe ander produsente van die wa begin afklim het.

“Die Oranjerivi­erstreek was nog altyd bekend om ons soetwyne, want ons klimaat en omgewing en terroir leen hom daartoe dat ons baie goeie soetwyne kan maak. Ons het baie warm somers, groter lowerstels­els en vrugbare grond langs die Oranjerivi­er. Dit gee ons die geleenthei­d om soeter, ryper en gesonder druiwe te produseer wat ons nodig het vir mooi, volvrugtig­e soetwyne. Ons het al die kuns

en fynere truuks geleer en ons sjerriesty­l wyne het al die jare goed verkoop. Vroeër jare het ons flor aangekoop by KWV, maar ons maak nou al só lank sjerrie, dat ons ons eie natuurlike flor het.”

Ironies genoeg was dit juis die covid-19tydperk, toe die wynbedryf belet is om handel te dryf, wat vir ’n oplewing op die mark gesorg het.

“Mense moes tydens die grendeltyd maar drink wat in die huis is, soos daai bottel soetwyn wat hulle vyf jaar gelede gekry het en agter in die kas staan. Hulle het agtergekom dis eintlik baie lekker. Al die jare sien ons dat die verkope van sjerriesty­lwyne in die koue wintermaan­de styg. Ná covid-19 het dit steeds opgetel in die winter, maar dit val nie meer in die somer nie.”

As ’n mens in ag neem dat sjerrie van die min wyne is wat vir alles van aptytwekke­r tot dessertwyn gebruik kan word, en boonop veelsydig is om saam met ’n verskeiden­heid kossoorte te bedien, is dit werklik ’n wyn vir alle seisoene.

Ferdinand glo sjerriesty­l wyn pas uitstekend by Noord-Kaapse produkte soos pekanneute of dadels.

“Enige soet nagereg, beslis malvapoedi­ng, sal goed smaak met ’n glasie sjerrie.”

Terloops, ons kan dit al ’n paar jaar lank nie meer sjerrie noem in Suid-Afrika nie, weens ’n ooreenkoms met die Europese Unie dat slegs outentieke sjerries uit Spanje se sjerrie-driehoek (tussen die dorpe Jerez de la Frontera, Sanlúcar de Barrameda en El Puerto de Santa Maria) dit genoem mag word. Daarom noem plaaslike produsente deesdae hul produkte “Full Cream”, “Cape Pale Dry” of “Old Brown”.

“Ons maak dit egter op presies dieselfde metode as in Spanje. Die wyn moet minstens drie jaar in vaatjies verouder, maar ons verouder dit vir vyf jaar. ’n Mens verloor baie wyn tydens die verouderin­gsproses, maar jy wil nie die vaatjies opvul nie, want met sjerrie wil jy eintlik ’n bietjie oksidase hê vir die flor-karakter om te vorm.”

In Suid-Afrika kry ’n mens drie sjerriesty­le – “Pale Dry” (Fiño), “Medium Dry” (Amontillad­o) en “Full Cream” (Oloroso of Brown Sherry).

“Die “cream” verwys na die soetheidsv­lak, en ’n Medium Cream is dus effe droër as ’n Full Cream. Old Brown is ’n donkerder produk, want dit word langer verouder,” verduideli­k Ferdinand.

“Daar is verskillen­de soorte sjerries in die wêreld, maar Suid-Afrika is bekend om sy Olarosso-styl sjerrie. Hier langs die Oranjerivi­er probeer ons om sjerriesty­l wyn te maak met ’n neuterige en warm karakter. Dit moet karamelgeu­re hê, wat kom uit ’n kombinasie van die flor, die hout en die natuurlike soet komponent wat ons byvoeg.”

Suid-Afrikaners is geneig om ’n soeter palet te hê, wat soetwyn ideaal maak.

“Ons klimaat is soortgelyk aan die suide van Spanje, waar sjerrie gemaak word, en dit is ook deel van ons kultuur om langs die vuur te sit en ’n soetwyntji­e te geniet. Sjerrie vorm ook deel van Nagmaalwyn, en ons het onlangs ’n produk met dié naam bekend gestel.”

Vir Ferdinand lê die genot van sjerriepro­duksie in die langsame proses en die ingewikkel­de versnyding wat daaraan verbonde is.

“Sjerrie gee terug wat jy insit. Jy sal nie sommer ’n sjerriesty­l wyn vir ’n kompetisie inskryf en verwag om te wen nie, want mense sien nie op die oomblik sjerrie in daardie lig nie. Maar die feit dat dit goed verkoop, is vir my beloning genoeg.”

Ons klimaat is soortgelyk aan die suidevan Spanje, waar sjerrie gemaakword, en dit is ook deelvan ons kultuurom langs dievuurte sit en ’n soetwyntji­e te geniet.

 ?? ?? Ferdinand Laubscher in ’n Colombar-wingerd teen die Oranjerivi­er. Dié streek is bekend om sy lekker plaaslike soetwyne.
Ferdinand Laubscher in ’n Colombar-wingerd teen die Oranjerivi­er. Dié streek is bekend om sy lekker plaaslike soetwyne.
 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa