Geluk by die Port-ongeluk
By Boplaas naby Calitzdorp in die KleinKaroo het die Nel-patriarg, Danie, in die 1970’s in die Swartland gaan kuier, waar hy Shiraz geproe het. Net daar het hy besluit dit sal goed in die Klein-Karoo ook aard en hy het stokkies by ’n kwekery op Wellington bestel.
Ná ’n paar oesjare het sy seun, Carel, wingerd- en wynbou by Maties gaan studeer, waar hy agtergekom het hul “Shiraz” lyk glad nie soos dié waarvan hy op universiteit leer nie.
“My pa, Carel, het trosse en blare universiteit toe geneem, waar hulle dit toe as Tinta Barocca geïdentifiseer het! Pa-hulle het toe reeds geweet hulle kan lekker wyn daarvan maak, want hulle maak mos toe al ’n paar jaar lank heerlike “Shiraz” van die druiwe. Toe hulle hoor dis eintlik ’n Portugese kultivar waarmee port gemaak word, het hulle die eerste vliegtuig Portugal toe gevat om te kyk wat hulle kan leer oor die kultivar en wynstyl,” vertel Margaux Nel, die sesde geslag wynmaker op Boplaas.
Die Afrikaansprekende boere uit die Klein-Karoo het nie lekker geweet waar om te gaan aanklop in Portugal nie, maar met ’n skoot geluk het hulle die Symington- en Guimeraens-families in een van die port pubs ontmoet. Dié port-adel het hulle na die Douro-vallei geneem, waar Danie en Carel baie geleer het, en Margaux nog steeds leer.
“My pa het destyds, toe hy navorsing vir die Kaapse Wynmeesterskap gedoen het, al ooreenstemming gevind tussen die portwyne wat hier geproduseer word en dié uit Portugal. Ek het in my M-tesis ook gevind ons klimaat in die Klein-Karoo is soortgelyk as dié in die Douro.
“Hoewel ons droër is, mag ons besproei, wat die Portugese nie mag doen nie. Ons kleiryke grond het ook ’n soortgelyke samestelling as hul schist-gronde.
“Portugese kultivars is nie baie lief vir water nie, wat dit eintlik ideaal maak vir die veranderende klimaat, want ons verkies ál meer wingerde wat minder water nodig het en vroeër ryp raak,” vertel Margaux, wat al kleintyd druiwe in die lagars getrap het, net soos die Portugese dit doen. Vandag sit haar kleuters dié historiese tradisie voort.
Die Nelle het ’n reuse-bydrae tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf gelewer namate hulle die kuns van portstyl wyne van gehalte bemeester het. Hul goeie verhoudings met Portugese wynmakers, wat dikwels werksessies kom aanbied en port kom
proe het, was ook van onskatbare waarde.
“Vroeër het mense halfsoet-port gemaak, maar toe ons begin sien wat die Portugese doen, het die droër styl meer na vore gekom. Dié stylverandering was voordelig vir die hele bedryf.”
By Boplaas maak die Nelle deesdae drie portstyl wyne, naamlik Cape Vintage, Cape Tawny en Cape Ruby. Om so eg as moontlik te wees, gebruik hulle slegs Portugese druifkultivars soos Tinta Barocca, Touriga Nacional en Sezão.
Cape Ruby is ’n maklik-om-te-drink, algemene portstyl wyn met ’n lekker vrugkarakter, varsheid en helder robynrooi kleur. Margaux gebruik graag dié styl in kos, veral as sy ’n lekker beesstert of wildsvleisgereg maak. Danksy die wyn se soetigheid, kan jy maar die suiker los, en die alkohol dien as vleisversagmiddel.
“Cape Tawny is ’n bietjie duurder, maar mense is mal oor die neutagtige, karamelen botterkaramelgeure daarvan. Dit is ideaal is saam met sterker kase soos Stilton. Hier op Calitzdorp gebruik ons dit ook as ’n alternatief vir likeur in Dom Pedro’s, of volwasse melkskommels,” vertel sy oor die drankie, met sy tipiese bruinerige kleur danksy die invloed van ou hout (by hulle bring Cape Tawny tien jaar in vate deur) en ’n mate van oksidasie.
Die Cape Vintage is die gesogste styl, en word gemaak van druiwe uit ’n enkele oesjaar.
“Jy kan dit teen kamertemperatuur of ’n bietjie koeler bedien. Ons sit dit gewoonlik voor met ’n Death by Chocolate-koek, of saam met kase ná ete. Dit kan saam met poeding, of in die plek daarvan, bedien word,” vertel Margaux, wat “in ’n wip gevang kan word” met ’n lekker kaasbord met sterk bloukaas, groenvye, neute en ’n glasie port.
Boplaas se portstyl wyne is so na as moontlik aan die ware Jakob, met die Portugese kultivars se karakter wat sterk deurkom. Margaux gebruik ook onverouderde brandewyn- en wynspiritus om die wyn te versterk (fortifiseer), sodat die vrugkarakter mooi vasgevang word.
“Dit verg tegniek om die balans tussen suur en die suikervlakke reg te kry,” vertel sy, en sê ’n ander geheim om goeie portstyl wyne te maak, is om die druiwe teen die regte rypheidsgraad te oes.
“Baie mense dink die druiwe moet oorryp wees, maar dit is ’n mite, want ons wil steeds die vars geure in die druiwe hê.”
Hoewel die wyn nie lank in die kuipe deurbring nie, moet die wynmakers hard werk om ’n mooi struktuur te bewerkstellig. “Sodra die wyn naby die suikervlakke kom waar ons dit moet fortifiseer, moet ons dit uurliks dophou, amper soos ’n baba wat voed. Gewoonlik breek die regte tyd tweeuur op ’n Sondagoggend aan!” sê sy laggend.
Margaux vertel hoe hul telefoonlyne destyds tydens die covid-19-inperking warm gebel is deur mense wat wou weet of die port wat al so lank in hul drankkabinet staan, nog drinkbaar is.
“Port kan lank in ’n toe bottel verouder. Veral Cape Tawny en Cape Vintage raak eintlik net beter met ouderdom, maar ’n oop bottel gaan oksideer en sy vars geure verloor. Cape Ruby verloor ook sy vars geure ná drie tot vier jaar. Ons het wel gesien dat mense ná covid-19 weer hul drankkaste aanvul met ’n portstyl wyn.”
In Suid-Afrika word die meeste portstyl wyn in die tyd rondom Kersfees verkoop.
“Dit is natuurlik ’n tradisie wat ons uit Europa en Engeland gekry het. Port maak ook ’n wonderlike geskenk, dus word dit dikwels vir dié doel gekoop.
“Ons het nie ’n winter-Kersfees of die erge koue weer soos die Europeërs om gefortifiseerde wyn te geniet nie, maar daar is ’n nuwe geslag wynliefhebbers wat sommer baie idees het om port-verbruik aan te help. Hulle maak skemerkelkies of maak ’n lang drankie deur port te gooi soos iemand wat skeel is wanneer hy brandewyn en Coke skink, en vul dit dan op met tonikum en ys. Ek sal dit nie met Cape Tawny doen nie, maar Ruby werk goed hiervoor.”
|