Hoe varser, hoe beter
Zonderend Valley Farm lê tussen die Overberg se graan- en veeplase, maar op dié groenteplaas werk herlewingslandbou, tegnologie en mense saam om gehaltegroente te verbou wat so vars moontlik op iemand se bord beland.
Dikwels wanneer mense op Zonderend Valley Farm kuier, sal hulle opmerk dat die broccoli, kopkool, krulkool, blomkool, spinasie en seldery op dié plaas darem baie lekkerder smaak as dit wat hulle in winkels te koop kry.
“Ons boer met al die gesonde kosse, en minstens een van dié groente, of sommer almal, is daagliks deel van my middagete,” vertel Chad Philip, wat saam met sy pa, Ross, die boerdery naby Helderstroom in die Overberg bedryf.
Hy glo die tyd wat verloop vandat die produk geoes is tot wanneer ’n mens dit eet, maak ’n groot verskil aan hoe dit smaak. Dit was ook een van die redes waarom hulle hul eie Good Eats-handelsmerk begin het, sodat mense plaasvars produkte in die hande kan kry.
“Ons wil reguit van die plaas tot op iemand se tafel gaan.” Chad meen groente moet altyd so vars moontlik voorgesit word, met min souse en ander fieterjasies. Oondgebakte krulkoolskyfies, slegs met sout en olyfolie, of geroosterde blomkoolroerbraairys met eier, maak van groente die middelpunt van die maaltyd.
Die Overberg met sy golwende geel rûens is deesdae meer bekend om graan-, vee- en vrugteboerderye, maar vroeër jare was dit een van die grootste uieproduksiegebiede in Suid-Afrika. Dit was ook die tuiste van die bekende Caledon Globe-uiekultivar, maar weens toenemende siektedruk het dié boerderygier oorgewaai.
Die Philip-familie is al vir meer as 40 jaar groenteboere – die enigste in hul gebied. Ross was ’n voorloper met die beginsel om groente nog dieselfde dag waarop dit geoes is, op die mark in die Kaap te kry.
“Die kopers het daarvan gehou, want ons groente was vars en het dus langer gehou. Mettertyd het ons ook groente begin lewer aan ondernemings wat dit verwerk en verpak, en stelselmatig het ons die ketting korter gemaak om direk aan kleinhandelaars te lewer,” sê Chad. Hulle is self by verwerking betrokke, soos om broccoli in blommetjies op te sny en te verpak vir sekere supermarkte.
In harmonie
Chad en Ross boer ook met vryloophoenders vir die Elgin-handelsmerk en het ’n kudde Dohne-Merino-skape. Saam sorg die skakels vir ’n holistiese stelsel waar elke vertakking die ander voed. Die hoendermis gaan byvoorbeeld as kompos na die groentelande, wat saam met dekgewasse help om die grond op te bou – daarvan getuig die wriemelende erdwurms wat jy enige plek op die plaas sal kry. En die skape is nuttige grasnyers wat oesreste en dekgewasse van die lande afvreet.
“Ek hou van volhoubare, eenvoudige stelsels. Ons kan teen die natuur baklei en probeer om alle siektes en insekte chemies te bekamp, of ons kan die natuurlike stelsels tot ons voordeel gebruik. Die afgelope jare het ons gesien hoe voordelig dit is om saam met die natuur te boer. Ons produksie verhoog, maar ons produksiemiddele word nie meer nie. Inteendeel, in sekere gevalle raak dit selfs minder,” sê Ross.
Die hart van hul stelsel is die twee rondes dekgewasmengsels wat hulle saai om die grond te verbeter en koolstof te bou, voordat hulle weer groente daarop plant.
Regdeur die jaar
Ross het deur die jare met verskeie groentegewasse geboer – van soetrissies tot boontjies en slaai – tot hulle besef het gewasse uit die Brassica- familie floreer in die plaas se swaar kleigrond. Hul grootste kwessie is egter markstabiliteit, want groente verg nie so ’n groot kapitaalbelegging nie. Dit beteken enige boer kan besluit om’n lappie groente te plant, en wanneer daar die jaar baie geplant word, val die pryse kwaai.
“Veral kopkool is maklik. Wanneer ander boere baie daarvan plant, gaan ons prys in alle rigtings, behalwe op. Met groente kan jy net konsentreer op wat vandag in die mark gebeur, want gister en môre lyk heel anders. Broccoli en blomkool is ietwat moeiliker en verg meer skoolgeld, want hoewel baie mense dit kan plant, is dit nie so maklik om ’n mark daarvoor te kry nie.
“Ons is prysnemers, maar het besef as ons deurgaans gehalte lewer, sal ons goed vaar. Dit is nog ’n rede waarom ons ons eie handelsmerk begin het, want dit bied meer stabiliteit.”
Danksy somer- en winterkultivars kan Ross en Chad regdeur die jaar al hul gewasse verbou, en só seker maak hulle skep werk en hou die pakskuur aan die gang.
As moderne groenteboere kry hulle dit ook reg om gewasse binne kort tydperke te produseer, hoewel dit die ideale omstandighede van die plante vereis.
“Waar ons in die verlede broccoli binne 90 dae geproduseer het, duur dit nou net 70 dae. Dit plaas die plante onder groot druk, daarom het ons elke dag perfekte toestande nodig.”
Vat hande met tegnologie
Chad is heeltemal ten gunste van tegnologie en gebruik dit waar dit ’n verskil aan hul produktiwiteit en volhoubaarheid kan maak. In die pakskuur is daar byvoorbeeld ’n indrukwekkende Italiaanse masjien wat groente in krimpplastiek verpak ( shrink wrapping). Dit stel hulle in staat om groente baie vinniger te verpak, herwinbare plastiek te gebruik en is voordelig vir hul produkte se rakleeftyd.
Wanneer hulle broccoli-blomme weeg, verpak en seël, doen hulle dit ook outomaties met die hulp van ’n masjien.
“Ons wil nie werkers verminder nie, want ons glo ons het ’n groot verantwoordelikheid om werk in Suid-Afrika te skep. Ek wil mense eerder aanwend waar hulle goed is. ’n Masjien kan sakkies weeg en seël sonder om moeg te raak, maar die mens se oog bly die beste om gehalte uit te ken.” Die boerdery gee werk aan sowat 140 mense uit omliggende dorpies.
“Ons is baie arbeidsintensief, want ons plant en oes met die hand. Vir ons grondvoorbereiding gebruik ons darem nie perde nie, maar perdekrag! Die afgelope seisoen spuit en dien ons bemesting baie suksesvol met hommeltuie toe – selfs beter as met trekkerspuite.
“Ons sien dat ons gewasse baie egaliger groei, maar ons het ook nie meer paaie in die lande nodig vir werktuie nie. Dus kan ons 5% tot 10% meer van ons grond benut. Ons kan ook foto’s neem om te sien wat in die blok aangaan en dan regstellings deur die seisoen maak,” sê Chad.
Maar selfs met die beste tegnologie verg groenteproduksie harde werk, en veral deursettingsvermoë.
“Om ’n goeie groenteprodusent te wees, gaan in die eerste plek daaroor om nooit moed op te gee nie.”