Presisieboere laat niks aan toeval oor
Superieure fynwol is die sleutel tot die sukses van ’n kudde van een van die land se Merino-aristokrasie wat nou reeds ses geslagte lank by die vereistes van ’n veranderende mark aangepas is. Nóg ’n suksesfaktor is dat die boerdery se teeldoelwit van gene
Reproduksiedoeltreffendheid, die aanpasbaarheid van hul diere by wisselende omstandighede en die fyn balans tussen vleisproduksie en genetiese fynwol het die deurslag gegee in die aanwysing van mnre. PD Jacobs en Willem Grobbelaar van die plaas Vlakfontein by Trompsburg as Voermol se Skaapboere van 2014.
Daarby het hulle ook ’n veer in die hoed verdien met die volhoubare benutting van hul natuurlike hulpbronne. Benewens die Voermol-prestasie was 2013 ook ’n goeie jaar vir die boerdery toe PD as Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar in die Vrystaat aangewys is en hulle deur die Nasionale Wolkwekersvereni- ging vereer is vir die land se beste ekonomies geklasseerde skeersel.
Pieter Daniël Jacobs, algemeen bekend as PD, en sy skoonseun Willem boer met kommersiële en stoet-Merino’s op sowat 11 000 ha op ’n Karoo-agtige veldtipe wat bestaan uit ’n samestelling van gras en bossies.
Die gemiddelde jaarlikse reënval van 450 mm noodsaak deeglike boerderybeplanning wat die weiveld betref. Vanweë die golwende voorkoms van die landskap wissel die weidingsvermoë van 9 ha/GVE tot 11 ha/GVE. Die kampgrootte wissel van 250 ha tot 300 ha, wat met troppe van ongeveer 250 ooie in ’n rotasiestelsel bewei word.
Pdrino-Merino het uit ’n ou kudde ontstaan wat sedert 1985 aansienlik na die
fynwol-kant toe ontwikkel het weens die lae wolpryse ná die verkryging van die fynwolram Topper uit die Oorlogspoortstoetery van mnr. Pieter van Rooyen, een van die voorsitters van die eertydse Wolraad.
FYNWOL BEPAAL BESTUUR
Die neiging tot fynwol was ook deels om die bestuur van die skape te vergemaklik. “Sterkwol met swak olievloei veroorsaak hoër vlakke van brommerbesmetting as by fynwol. Die pryspremie vir fynwol was natuurlik die oorwegende faktor en dit het ons bereik sonder om die liggaamsgewig van die skaap in te boet,” sê PD.
“Ons uitskotooie weeg net soveel soos enige ander Merino-ooi in ekstensiewe toestande.
“Sedert die totstandkoming van my skaapboerdery was my teeldoelwit dat die produksie van die kommersiële én die stoetskape ’n eenvormige voorkoms en vaggehalte moet hê sodat die kudde as geheel daaruit voordeel kan trek.
“Volgens die katalogussyfers van ons afgelope wolveilings blyk dit dat daar geen wesenlike verskil meer tussen die kuddeen stoetdiere is nie. Die wol toets globaal dieselfde, asook die skoonopbrengs.”
Volgens PD bied die nakoming van dié teeldoelwit ’n mate van gemoedsrus vir enige voornemende koper. “Ek boer met die skape wat vir die koper ekonomies haalbaar is.”
Hul teelprogram behels die individuele, korrektiewe paring van stoetooie met spesifieke stoetramme. “Ons selekteer deurlopend vir vrugbaarheid en goeie moedereienskappe, asook ’n goeie lengte en hoeveelheid fynwol van topgehalte.”
PD meen die doeltreffendheid van die boerdery hou regstreeks verband met die speenpersentasie, wat tans van 90 tot 100 oor die hele boerdery wissel. “Ons wil dié syfer jaarliks met 10% verbeter tot en met 140. Met die beskikbare hulpbronne en sorgvuldige bestuur is dit haalbaar.”
DUUR PRODUKSIEMIDDELE
Die reproduksiesukses van die kudde is van die uiterste belang vir die veeboer om sy winsgewendheid te bepaal.
“Vir enige skaapboer beteken ’n swak lammeroes dat hy of sy gedoem is en nie met die toenemende druk weens die stygende koste van produksiemiddele die mas sal opkom nie,” sê PD.
“Die eise van veeboerdery raak hoër as jy nie ’n goeie reproduksiepersentasie handhaaf nie. Dit bring mee dat jou kudde só verouder dat jy nie vervanging kan inbring nie en gevolglik agter raak. Dit is waar presisieboerdery inkom. Dit regverdig die duur produksiemiddele, soos sinchronisasie, laparoskopie en sonar, en die gepaardgaande voedingsaanpassings van die diere om sodoende winsgewendheid te verhoog.”
Wille voeg by: “Presisieboerdery is deesdae ook op die lippe van almal in die skaapbedryf. Die enigste manier hoe die hedendaagse skaapboer sy winsgewendheid kan verhoog, en in ons geval met die fynwol-Merino, is om meer vleis én wol per hektaar te produseer.”
Volgens hom sal Pdrino se doeltreffendheid voortaan daarvolgens bepaal word nadat hulle die beginsels van verlede jaar af begin toepas het. Pdrino se resultate aan die einde van vanjaar sal as maatstaf gebruik word om toekomstige mikpunte te bepaal.
Die inkomsteverhouding van Pdrino se vleisproduksie teenoor dié van wol wissel van 80:20 tot 70:30, na gelang van reproduksie en die prys.
KLEM OP BEWARING
Die bewaringsboer in Willem kom na vore wanneer hy daarop uitbrei: “Die natuurlike weiding bly die primêre faktor wat in ag geneem moet word. Jy kan presisieboerdery toepas soos jy wil, maar
as jou weidingsbestuur ten opsigte van die beskikbare veld en reënval agterweë bly, misluk die pogings.”
Volgens Willem is hulle daagliks aan die werk om die fynere kunsies van presisieboerdery te bemeester. Dit behels onder meer die plasing van die waterpunte en lekbakke, die beskikbaarheid van bykomende voeding, die toepassing van ’n doseringsprogram en die teelprogram.
“Die belangrikste dosering is voor paartyd, in ons geval Februarie en Maart, omdat dit belangrik is dat die produserende ooie geen inwendige of uitwendige parasiete het wat ’n ongunstige uitwerking op hul produksievermoë sal hê nie. In die winter, gewoonlik Junie/Julie, tydens skandering sal ons ál die ooie inent en hulle dan weer gedurende die komende lente/somer ná die eerste reën doseer.
“Ons het ’n sorgvuldig uitgewerkte inenting- en doseringsprogram teen alle belangrike siektes vir alle reeds produserende en nie-produserende diere (jong skape en lammers),” sê Willem.
Die aantekening van data is ook uiters belangrik. Die grootste verskil tussen Pdrino se kudde- en stoetdiere is dat slegs die data van hoofsaaklik die stoetdiere versamel word. Opvallend is dat elke kamp drie waterpunte het sodat vertrapping of voetpaadjievorming en energievermorsing deur die diere tot die minimum beperk word en die skape meer eweredig deur die kampe beweeg. Hulle probeer ook om nie ’n kamp in die daaropvolgende jaar dieselfde tyd as die groeityd te bewei nie.
Dié voorkomende bestuurspraktyk waak teen oorbeweiding en erosie en keer dat die diere op een punt saamdrom. Aangesien die bossiekomponent ’n lang tydperk benodig om ná beweiding te herstel, is die hoofoogmerk in die veldbestuursbenadering die inbou van lang rustye ten einde die veld volhoubaar te benut.
Die beoordelaars van die kompetisie was besonder beïndruk met PD en Willem se goeie veldkennis wat duidelik hul erns met die bewaring en instandhouding van die natuurlike hulpbronne toon.
“So ’n groot boerderyopset verg deeglike beplanning wat betref die volhoubare benutting van die weiveld,” sê mnr. Hendrik van Pletzen van Voermol, een van die beoordelaars.
“Verkeerde weiveldbestuur in hierdie gebied kan vinnig ’n plantegroeisamestelling tot gevolg hê wat deur pioniergrasse en minder smaaklike bossies oorheers word – wat nie hier die geval is nie,” sê hy.
PD sê hulle besef veldbestuur is van die uiterste belang. “Weiveld is die veeboer se hoofhulpbron, ongeag die toediening van byvoeding. Ons het oor die jare heen nog dieselfde veldbestuurspraktyk toegepas in die sin dat ons sowat vyf maande lank tydens lamtyd die kampe naby die huis benut waarna ons die diere na die heel verste kampe uitplaas.”
Hulle spring egter nie roofdiere vry nie. “Roofdiere is ongelukkig ’n werklikheid waarmee enige kleinveeboer te doen het.
OPVALLEND IS DAT ELKE KAMP DRIE WATERPUNTE HET SODAT VERTRAPPING OF VOETPAADJIEVORMING EN ENERGIEVERMORSING DEUR DIE DIERE TOT DIE MINIMUM BEPERK WORD.
Die volhoubaarheid van ons boerdery en omgewing is regstreeks gekoppel aan ons roofdierbestuur. Ons sal net optree indien daar ’n probleem is deur alleenlik die sondaar uit te skakel.”
Hulle hou deurlopend inspeksie. “Met die ontwikkeling van besproeiingsaanlegte in die boerdery het ons ook die druk op ons weiding verlig. Die benutting van besproeiingsgewasse, soos lusern, het die veld se drakrag tot die huidige 1,4 ha/ KVE verbeter.”
Die allerbelangrikste tye vir byvoeding by produserende ooie is ses weke voor paring tot en met speentyd en deurlopend by vervangingsooie.
WIL VERTIKAAL UITBREI
Pdrino se jaarlikse produksieveiling word in Februarie aangebied om die aanwas te bemark sodat die veebelading voor die winter verminder kan word. Sowat 10% van die ooitjies word as vervangingsdiere teruggehou. Die ooi-ram-verhouding is 30:1, wat vir die ooitrop op 200 van die stoetery se beste ramme neerkom.
Fynwolteelmateriaal word soms ingekoop, hoewel Pdrino se teling ook liggaamsgewig en bouvorm vir plaaslike vleisproduksie in aanmerking neem.
Pdrino het 100 ha aangeplante weiding wat onder besproeiing verbou word. Die besproeiingswater word grootliks vir lusernverbouing aangewend en in ’n mindere mate vir rogweiding as wisselbougewas vir lusern. Jong ooie wat die eerste keer lam, lam op aangeplante weiding, waarna hulle binne vyf dae na die veld verskuif word sodra die lammers sterk genoeg is.
Lusern word ook as hooi in ’n strategiese voerbank teen droogtes opgeberg.
Hul oogmerk is eerder vertikale pleks van horisontale uitbreiding. Dit behels onder meer die benutting van spilpuntbesproeiing uit die fonteine in die Kromelmboogrivier vir die lusern. Die lewering van water uit boorgate wissel van 75 000 liter/uur tot 133 000 liter/uur. “Ons wil nog spilpunte oprig om die vloedbesproeiing te vervang sodat ons doeltreffender kan wees om deur meerjarige gewasse die uitwerking van droogtes te verminder.”