Net beste gene is goed genoeg
Met een van die strengste seleksieprosesse in die bedryf, noukeurige toewyding aan prestasietoetsing en kunsmatige inseminasie, asook ’n reproduksie-indeks van 120, is mnr. Philip Barnard en sy vrou, Vicky, as Molatek se Kommersiële Beesboere van 2014 aan
Niks word as vanselfsprekend aanvaar by die Barnards se Mequatling-kudde tussen Clocolan en Excelsior nie. Elke bees in dié kudde van mnr. Philip en mev. Vicky Barnard se ouerskapdata word deur DNS as korrek bevestig. Daar- om word Philip as een van die toptelers van rooi én swart Angusbeeste in SuidAfrika beskou.
Benewens die prestige-prys as Molatek se Kommersiële Beesboer van die Jaar het Philip ook al die hoogste prys vir ’n embrio op die Angus-wêreldforum behaal. Die Mequatling-span was ook al Molatek se Stoetteler van 2005 en Land-
bouskrywers SA se Vrystaatse Boer van die Jaar vir 2007.
Philip is ’n teler wat met gesag kan praat, want sy Angus-stoetery is plaaslik én oorsee bekend. Hy is een van die grootste telers van rooi en swart Angusbeeste in Suid-Afrika, met 400 geregistreerde stoetdiere en 600 kommersiële diere.
Die stoetery se dragtigheidsyfer is gemiddeld 98% en dié van die kommersiële kudde 96%.
Hy het vroeg reeds besef boerdery kan nie meer soos van ouds bedryf word nie. Waardetoevoeging, soos met die bevordering van Angus-beesvleis in supermarkte, is een van die daadwerklikste maniere om jou kapitaal vir jou te laat werk, sê hy.
BESTE TEELMATERIAAL
Die Mequatling-stoetery is 47 jaar gelede deur Philip se oorlede pa, Willem, begin. Philip is al byna drie dekades betrokke by die stoetery.
Hy het ook ’n Mequatling-Angus-kudde in die Amerikaanse deelstaat Missouri gehad en top-embrio’s na MequatlingAngus in Suid-Afrika ingevoer. Hy het dié projek sowat tien jaar lank bedryf, met die uitsluitlike doel om teelmateriaal in die vorm van etlike honderde embrio’s na die kudde terug te bring.
Embrio’s word ook uitgevoer. Die Barnards kan hulle daarop roem dat hulle sowat 13 jaar gelede die heel eerste SuidAfrikaanse Angustelers was wat embrio’s na Suid-Amerika uitgevoer het en tans nog die enigste teler is wat embrio’s na Kanada en Noord-Amerika uitvoer. Mequatling het boonop vroeër die hoogste prys op die Angus-wêreldforum vir ’n embrio behaal. In 2005 het agt embrio’s $8 000 behaal by die wêreldforum, wat vir uitvoer na Ierland bestem was.
Teelmateriaal van wêreldgehalte word dus jaarliks op die Mequatling-veiling aan ander telers beskikbaar gestel.
Kunsmatige inseminasie is baie belangrik vir die boerdery se enkele dektyd in November en vroeg Desember, aangesien sowat 80% van die kalwer-aanwas op dié wyse of deur embrio-oorplanting verwek word.
Die paring van die kommersiële beeste volg ’n maand later in Desember en Januarie, waarna die siklus met die afronding deur die bulle voltooi word.
Twee maande nadat die bulle verwyder is, bevestig dr. Clive Marwick van Clocolan dat die diere dragtig is. Hy toets ook die vrugbaarheid van die bulle net voor en ná afloop van die dektyd.
Die hoë KI-dragtigheidskoers van 84% van ál die geïnsemineerde diere kan onder meer toegeskryf word aan die voldoende toepassing van voedingsbestuur. Die koeie kalf in die lente om voordeel te trek uit die hergroei van die veld ná die eerste reën, wat in November en Desember wisselvallig voorkom.
KI word meestal vir die stoetbeeste
gebruik, maar ook selektief in die kommersiële kudde.
KEUSE VAN BULLE
Mequatling se eie bul-teelmateriaal word om die helfte in die KI-program gebruik, terwyl die res uit Noord-Amerika ingevoer word vir die stoetery.
Die verse se dektyd strek oor 50 dae en dié van die koeie oor 60 dae. Een bul dek sowat 100 vroulike diere ná KI, maar in die geval van dié wat nie geïnsemineer is nie, word een bul per 30 vroulike diere gebruik.
Die kriteria vir die keuse van kuddebulle is onder meer gebalanseerde teelwaardes, fenotipiese strukturele korrektheid, ’n gewenste stamboom en ’n vrugbaarheidsondersoek deur ’n veearts.
Die kalwers word op 7 maande gespeen en weeg dan gemiddeld 261 kg.
Die verse weeg minstens 350 kg met die eerste paring.
PRESTASIETOETSING
Prestasietoetsing beteken niks wanneer onakkurate data gebruik word nie. “Inteendeel, dit is gevaarlik in die gevalle van onbevestigde ouerskap van die aangetekende diere,” sê Philip.
Elke enkele bees in die Mequatlingkudde se ouerskapsdata is deur DNS as korrek bevestig. “Stoetteling gaan gedeeltelik oor die stamboom en prestasietoetsing van elke dier. As die ouerskapdata egter foutief is, beteken dit niks nie. Wat my betref, behoort dit verpligtend vir elke stoetteler te wees. Ons moedig ons medetelers aan om dié praktyk te volg.”
Mequatling is tans verantwoordelik vir sowat ’n derde van die DNS-toetsing van die land se Angus-teelmateriaal. Dit beteken dat dié praktyk nie voldoende in die ras toegepas word nie. “Enige teler wat nie aan DNS-toetsing deelneem nie, weet nie wat in sy kudde aangaan nie,” sê Philip. “Ons maak almal foute en dit moet reggestel word.”
Die Mequatling-Angus-kudde sorg die afgelope drie jaar vir 21% van alle SA Angus-groeitoetsdata en 62,9% van die ras se karkasmeting. Voorts is die kudde verantwoordelik vir 32,9% van alle SA Angus-DNS waarvan aantekeninge by Unistel gehou word. Die belangrikste eienskappe van die Barnards se kudde word deur Logix se genetiese venster in die TABEL en die GRAFIEK uitgebeeld.
SUKSES LÊ IN SPANWERK
Die sleutel van die sukses op Mequatling spruit uit Philip en Vicky se samewerking. “Dit is een van die groot voordele van ’n familiebesigheid; as die deelnemers ten volle op mekaar kan staatmaak en die werkslas met dieselfde geesdrif deel.”
Vicky is onder meer verantwoordelik vir die KI van die beeste en monitor daagliks die vroulike diere in die dektyd.
Philip het onder meer ’n meestersgraad in ekonomie en span sy ontledende denke in om aan parings en seleksie aandag te gee. “Ek glo vas daaraan om elke kalf self by geboorte te merk en heeltyd betrokke te wees.”
Die detail van die boerderybestuur word voortdurend fyn dopgehou. Beeste word onder meer nie tydens die KI-tydperk ingeënt nie, en kampe word dan ook so min as moontlik afgewissel. Behoorlike rantsoenbestuur beteken ook dat lek selfs op Sondae verskaf word. “Ons doen dit daagliks om te sorg elke dier kry haar 1,5 kg produksielek wanneer dit nodig is,” sê Philip.
Vicky se sukses as beesboer kan volgens Philip teruggevoer word na haar eertydse loopbaan as ’n onderwyser wat hoë standaarde gehandhaaf het.
GESONDE VERSTAND
“Daar is nie ’n dag wat verbygaan sonder die wete dat ek doen wat ek graag wil doen nie. En deel van die voorreg is dat jy jou dag saam met jou lewensmaat kan aanpak.”
Mequatling se spanwerk strek verder as dit. Naas die hulp van tien getroue plaaswerkers en mnr. Fanie Coetzee wat help met die beeste en die gewasverbouing, maak hulle grootliks ook staat op die diens van die plaaslike veearts en onder meer die verskaffers van voer, kunsmis en gif. Dr. Robert Treadwell van Embrioplus is verantwoordelik vir die spoeling van ál die Mequatling-koeie.
Philip se algemene benadering tot boerdery is dat die meeste praktyke slegs gesonde verstand verg. “Maar common sense is ook nie aldag so common nie.”
Derhalwe word voorkomende siektebestryding, soos teen slenkdalkoors en knopvelsiekte, in die winter toegepas – voor die voorgeskrewe tyd net voor die somer.
Philip verkies om sy beeste in die dektyd in November so min as moontlik te versteur ten einde die vroulike diere die beste kans op besetting te gee. “En dit geld ook wanneer die kalwers klein is, om beserings te voorkom.”
GENETIESE VERBETERING
Mequatling se bemarking is geskoei op die beginsel dat slegs die diere wat goed genoeg vir die boerdery is, te koop aangebied word. “Dit is hoekom ons jare gelede begin het om ál die boerdery se beproefde, dragtige stoetkoeie op sesjarige ouderdom op die jaarlikse produksieveiling aan te bied. Dié koeie het dan sedert tweejarige ouderdom sonder uitsondering elkeen vier kalwers gespeen en hopelik is hulle vir die kopers goud werd,” sê hy.
’n Voorbeeld van die gehalte van die koeie wat op die produksieveiling beland, is uit die tyd toe die Barnards nog intensief aan skoue deelgeneem het. Selfs drie koeie wat goue interras-pryse verower het, is só opgeveil. Dit geld ook die boerdery se voorste koeie wat vir embrio’s gespoel word. Die Barnards skou nie meer nie en is nou net ingestel op die genetiese verbetering van die kudde.
Die gemiddelde reproduksie-indeks van die kudde is 120, wat vir enige voornemende koper gerusstellend behoort te wees.
Die gemiddelde prys op verlede jaar se veiling van R53 326 vir tweejarige bulle en R43 694 vir die koeie is vir Philip ’n goeie barometer van die gehalte van die diere wat aangebied word. “Die jaarlikse veilingsaanbod van koeie en tweejarige bulle is slegs sowat ’n derde van die aanwas. Die res word uitgeskot ingevolge die seleksieproses wat van die strengste in die bedryf is.”
Sowat 100 dragtige kommersiële verse wat jaarliks opgeveil word, het verlede jaar ’n gemiddelde prys van R10 700 stuk opgelewer. Die kommersiële bulkalwers se vleis word ingevolge die Angus-vleisprogram deur Pick n Pay bemark.
Sowat ’n derde van die vroulike diere (101 uit altesaam 324) word jaarliks ingevolge streng kriteria as vervangingsverse gekeur.
Die vervangingsverse het ’n speen- en jaarindeks van 95 en hoër, beter teelwaardes as Mequatling se minimum vereiste en fenotipiese meerderwaardigheid. Die diere se reproduksiekanaal word deur ’n veearts beoordeel.
’n Klein persentasie van die beeste word deur voerkrale bemark. “Ons hoofvertakking in die beesboerdery is die verskaffing van teeldiere. Dit is waar ons waarde toevoeg sodat kopers kan weet dat Mequatling-Angusse ’n goeie kopie is – as kommersiële én stoetdiere,” sê hy.
TERUGGEE
Philip se sukses op die plaas en op skouvlak dra hy graag aan sy medeboere oor. Hy woon dikwels boeredae as spreker by en help met kursusse en as konsultant in kuddebeoordelings.
Die boerdery se sukses is deels danksy ’n gemotiveerde werkerskorps. “Jy motiveer werkers deur hulle met respek te behandel. ’n Finansiële beloning is natuurlik ’ n groot aansporingsmaatreël, maar jy kan nie jou mense meer betaal en terselfdertyd goeie resultate verwag as jy hulle sleg behandel nie.”
Benewens opleiding oor die aspekte van KI en hittewaarneming by koeie, word die werkers ook opgelei om trekkers en planters te hanteer en in stand te hou, asook in brandbestryding. Die Mequatling-sokkerspan, wat die Angus-ras op hul sportdrag bemark, sluit ook werkers van naburige plase in.