Swakarabedryf soek nou boere
et teelramme wat tans R8 000 tot R10 000 kos, is dit nou die regte tyd om die Swakarabedryf te betree en gereed te wees vir wanneer ’n verwagte bloeitydperk aanbreek. Intussen is daar steeds lekker geld te maak, meen mnr. Raimar von Hase, voorsitter van die Swakara-raad en van die Swakaratelersgenootskap van Namibië. Van die mees gesogte pelse behaal tot R2 100 elk.
In Suider-Afrika is daar sowat 230 000 Swakaraskape, waarvan 180 000 as produktiewe ooie gereken word. Hulle lewer ongeveer 120 000 pelse per jaar. Daar is dus groot ruimte vir verbetering.
Ten spyte van druk deur anti-dierepelsaktiviste is Swakara steeds gesog in veral die Noordelik Halfrond. Modeskeppers is gaande oor die gehalte van Swakara en die veelsydigheid wat dit hulle met die ontwerp van klere bied omdat dit ’n ligte pels met kort hare en dun leer is.
Daar is tans ’n oorskot nertspelse op die mark. Dit raak die hele pelsbedryf nadelig, maar sodra die oorskot weggewerk is (na verwagting teen 2017), sal die prys van Swakarapels weer styg, meen Raimar. Op die pelsveiling in April 2016 in Kopenhagen, Denemarke (een van twee veilings daar per jaar), het die gemiddelde prys reeds met 13% gestyg. Die gemiddelde prys was R486 per pels.
Intussen bly die getal Swakaraprodusente egter staties. Sodra die vraag na pelse toeneem, sal dit die produksie hopelik stimuleer. Daarvoor soek die Swakararaad nou nóg produsente.
Die skape aard die beste in droë dele, soos Namakwaland, Boesmanland en die Kalahari, waar hulle goed aangepas is. “Swakara het ’n goeie toekoms omdat niks ’n beter produksie in die droë gebiede lewer nie. ’n Ooi se lam bereik sy volle markwaarde op die dag van sy geboorte wanneer sy pels geoes word. Dit kos die boer dus niks ekstra om die lam groot te maak nie,” sê Raimar.
– CHARL VAN ROOYEN 127 2841.