Landbou Vee

Merinoboer ‘droom’ super-dipstelsel uit

In ’n “glashelder droom” het ’n Suid-Kaapse skaapboer ’n glydipstel­sel gesien. Vandag kan hy tot 1 000 skape per uur daarmee dip teenoor die tradisione­le stelsel se sowat 500 per dag.

- NAVRAE: Mnr. Koos Geldenhuys, sel 082 416 5062; e-pos: kola@intellect. co.za.

Om vee teen parasiete en luise te dip, is ’n integrale deel van enige skaap-, bees- en bokboer se bestaan. Hoe meer vee ’n boer het, hoe meer werk is die dipproses. Die tradisione­le dipmetode was maar om ’n dipgat op die plaas te hê, waar die skape per hand ingedompel word. Dit was vir mnr. Koos Geldenhuys van die plaas Uitkyk by Riversdal ’n “nagmerrie” namate sy skaapgetal­le meer geword het.

“Een nag, kort voor diptyd, het ek ’n helder droom gehad van ’n stelsel waarmee skape met ’n glybaan tot in die dipwater afgly, deurswem en aan die ander kant uitklim. Ek het alles in sulke fyn besonderhe­de gesien dat ek die volgende oggend alles summier bymekaarge­maak het om die glybaan-dipstelsel te bou,” vertel Koos.

Vandag, 14 jaar later, word dié dipstelsel steeds op die plaas gebruik en tot duisend skape kan per uur gedip word.

MINDER ARBEID NODIG

Die gemak waarmee die skape deur die stelsel beweeg, maak dat net drie tot vier mense vir die dipproses nodig is. In die verlede was talle mense nodig om die skape nader te dra en te onderdompe­l.

Die kraal of krale waarin die skape staan voor hulle gedip word, word met hekkies van ’n drukgang geskei. Die skape gaan die drukgang deur die hekkie binne en beweeg tot by ’n oploop-gedeelte, waar hulle teen ’n helling met houtreling­s aan weerskante oploop.

Dit is so gebou dat die skape maklik kan vastrap en opstap. Bo, op ’n hoogte van 1,9 m, is ’n gelyke loopvlak van 1 m, ook met houtreling­s weerskante, waarop die skape tot voor ’n glyplaat van gegalvanis­eerde plaat loop.

Daar help ’n werker die diere wat aarsel om by die glyplaat van 2,1 m tot onder in ’n dipsloot af te gly. Dié is van beton gebou, met plek vir 5 000 liter dipmengsel. Die skape swem deur die “kanaal”, wat 8 m lank en 0,6 m breed is, en klim aan die ander kant teen trappies uit. Die hele dipproses duur ’n paar sekondes, en die glybaan verseker dat die dier heeltemal onderdompe­l word.

Dragtige ooie en ramme se horings pas gemaklik in die dipgang. Dit is egter nie só breed dat skape maklik kan omdraai en teen die stroom beweeg nie. Die proses gaan gepaard met feitlik geen stres vir die diere nie. “Dit is heeltemal moontlik om tot duisend skape per uur só te dip as daar ’n permanente vloei van skape voorsien kan word,” sê Koos.

Al die sowat 2 500 skape op Koos se plaas word letterlik in ’n voormiddag afgehandel, teenoor die bykans twee tot drie dae wat dit sou duur om dieselfde getal skape op die ou dipgatmeto­de te dip.

OU MATERIAAL GEBRUIK

“Ek het ou materiaal op die plaas gebruik, soos hout, gegalvanis­eerde sinkplaat, ’n paar spoor-onderlêers en teerpale, om die stelsel te bou. Al wat ek moes aankoop, is die sement en sand om die dipkanaal te bou,” sê Koos.

Die kanaal se afmetings is ideaal vir die kostedoelt­reffende gebruik van die dipmengsel. “As dit breër of selfs langer en dieper was, sou onnodig baie dipmengsel aangemaak moes word.”

— JOHAN COETSEE

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa