‘Toekoms in waardeketting, nie hoë pryse’
Velskoene, leer vir meubels en gesonde vleis is van die maniere hoe wildboere waarde kan toevoeg. Dit sal meebring dat hulle nie meer so afhanklik van uitsonderlik hoë pryse vir skaars wild sal wees nie, sê die voorsitter van Wildbedryf Suid-Afrika.
Een van die grootste name in die wildbedryf, mnr. Wiaan van der Linde, meen die ideaal is dat boere by die hele waardeketting betrokke moet raak. Hy is die mede-eienaar van verskeie ondernemings in die wildbedryf. WB Safari Company (Wintershoek Wild) behoort aan Wiaan en mnr. Hennie Gous, ’n boer en entrepreneur van Douglas en voorheen direkteur van GWK. Hulle bedryf Wintershoek Wild saam, maar elkeen boer op sy eie grond. Hennie besit die plase Olierivier, Linksfontein, Thuru Lodge, Gamagara en The Valley, en Wiaan boer op Wag ’n Bietjie, Katbosdam, Ouput, Graspan, Klipdrift en Kareekloof. Saam beslaan die plase 110 000 ha. “Daar boer ons met enigiets van ’n steenbok tot ’n renoster,” skerts Wiaan.
Die hoëwaardewild bestaan onder meer uit buffels, swartwitpense, bastergemsbokke en renosters. Hulle is toegespits op die teel van geharde teelbulle en vroulike diere wat op enige plek kan aanpas en vir lewende verkope bestem is.
GROOT RUIMTE
Die vennote doen geen intensiewe teling met wild nie omdat hulle bevoorreg is om groot, oop ruimtes in die Noord-Kaap te hê. Hul teelkampe is almal 600 ha tot 1 500 ha groot en daar is geen klein kampies waarin hoëwaardewild aangehou word nie.
Verdere voordele van hul Noord-Kaapse ligging is ’n baie lae parasietdruk en ’n byna totale gebrek aan roofdiere. Wiaan predik nie net die boodskap van betrokkenheid by die volle waardeketting van die wildbedryf nie, maar lei met sy voorbeeld. Wiaan en Hennie teel tophoëwaardewild. Die befaamde buffelbul Tyson (met ’n horingwydte van 53”), wat later deur mnr. Norman Adami van Brits gekoop is, is ’n sprekende voorbeeld.
Hulle is ook intensief by ander fasette van die wildbedryf betrokke. Dit sluit in die teel van algemene wildsoorte (steeds met topteelmateriaal); die safari-onderneming Wintershoek Safari’s, wat vir plaaslike én buitelandse klante reg staan; die toerisme-onderneming Wintershoek Photographic Safari’s; hul eie leerlooiery en taksidermie-onderneming, African San Taxidermy and Tannery, wat jagters se trofeë voorberei, opstop en monteer; die vervaardiging van aandenkings; en ’n aanleg waar hulle wildsvleis verwerk, Oryx Venison. Hulle verskaf permanente werk aan sowat 140 mense.
Die wild wat geoes word, word in wildsvleisprodukte omskep, want die mikpunt is immers om die hoogste inkomste per hektaar te behaal.
Die vleisbewerking is vyf jaar gelede aangepak – eers net om hul eie wild te bewerk, maar nou oes hulle ook wild op ander boere se plase en bewerk dit. Die slaghuis hanteer sowat 300 ton wild per jaar. Hulle maak onder meer biltong, droëwors, rissiehappies, vleissnitte, braaiwors, salami en gerookte wors, wat op bestelling aan Noord-Kaapse restaurante en verblyfplekke gelewer word.
WILDSVLEIS
Wiaan verduidelik die belangrikheid daarvan om wildsvleis in die waardeketting te bevorder. “Wildsvleis word verkeerdelik as ’n goedkoop opsie vir ander vleis beskou, dalk omdat almal al gewoond is dat dit so bemark word.
“Tweedens het ons jagkultuur in SuidAfrika ’n impak. ’n Groot groep biltongjagters gaan jag eerder elke jaar as om wildsvleis vir die huishouding te koop.
“Derdens is daar nog nie ’n formele bemarkingskanaal vir wildsvleis om te voorsien in die huisvrou se behoefte om gesonde, vars wildsvleis aan haar gesin