Bosoorlog: ’n Stryd om die gras
Slangbos is ’n onderskatte vyand wat toenemend toeslaan. Dit is ook bekend as bankrotbos (’n meer gepaste naam) en hou ’n groot bedreiging vir weiveld in. Chemiese bestryding blyk die doeltreffendse bestrydingsmetode te wees.
Die struktuur van die plant en sy indringingsmanier laat die boer met ’n komplekse reeks probleme. Dit is ’n vyand wat nooit heeltemal verslaan sal word nie, maar kan, en moet, ferm onderdruk word deur slim optrede en deurlopende bestuur. ’n Omvattende benadering tot dié indringer werk die beste, sê Paul.
Aangesien slangbos ’n fynbosplant is, is dit tipies goed aangepas vir droogtetoestande. Dit gedy op swak grond en word aangehelp deur brande. Vlugtige olies maak die plant onsmaaklik vir vee, en die fyn, oorvloedige sade kan oor lang afstande deur die wind versprei word.
Die saad bly drie jaar lank lewensvatbaar in die grond – ’n vreesaanjaende werklikheid as ’n mens in gedagte hou dat een volwasse struik elke jaar duisende sade kan maak. ’n Probleem op ’n buurplaas kan dus vinnig ’n probleem op jóú plaas raak. Gebiede wat skoon is van slangbos, is nie noodwendig veilig nie. Boere moet saamwerk sodat bekamping, en uiteindelik herstel, moontlik is.
Slangbos is opportunisties, gehard en genadeloos en neem ’n verskeidenheid omgewings oor. Ou lande word maklik ingeneem en is ’n goeie wegspringpunt van waar die plant versprei, sê Hennie.
As ’n saadbank eers neergelê is, begin die probleem in alle erns. In oorbeweide veld is slangbos ’n pionierindringer, maar selfs veld met klimaksgrasse wat in ’n goeie toestand is, is vatbaar. Teen 2 000 plante per hektaar oordonder slangbos die gras wat die verkryging van voedingstowwe en water betref en word grasproduksie met 65% verminder.
Onderbenutte veld wat selektief bewei word, is die ideale habitat vir slangbossaad. Die saad vind skuiling onder onsmaaklike grasse, waar hulle in veiligheid kan ontkiem. “Moet nooit veld laat rus in die hoop dat die grasse slangbos sal oorskadu nie, want dit sal nooit gebeur nie,” sê Paul.
Die saad moet taamlik baie grondvog en beskermende plante hê vir suksesvolle ontkieming en die oorlewing van saailinge. Saailinge kan nie regstreekse sonlig verdra nie en grasblare bied ’n goeie, skaduryke mikrohabitat.
Geen ontkieming vind plaas om of onder slangbosse nie vanweë slangbos se allelopatiese effek. Die plant skei chemikalieë af om mededinging van ander