Oorleef die hoender-aanslag só
Die bees- en skaapvleisbedryf sal onder meer aanpassings aan hul bemarking moet maak om in die volgende tien jaar vooruit te gaan in die lig daarvan dat die verbruik van hoendervleis baie vinniger gaan styg.
Die bees- en skaapbedryf staan aan die vooraand van groot veranderinge in die volgende dekade. Die droogte het teelkuddes erg geknou, en die invoer van goedkoop hoendervleis is besig om hoendervleis se markaandeel vinnig te vergroot. Die mark vir proteïene gaan in die volgende tien jaar toeneem namate die ekonomie, bevolking en verbruikers se inkomste groei, maar die mededinging op die mark gaan groter wees.
Daar is ’n hele paar faktore wat gaan bepaal hoe vleisbees- en vleisskaapboerderye sal moet aanpas.
GROEI IN VRAAG
Die gee ’n uiteensetting van die verwagte groei in die vraag na die verskillende proteïenbronne volgens die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se vooruitskouingsverslag tot 2025. Die verwagte styging in die prys van die verskillende produkte is natuurlik ook belangrik. Dit neem die aanbod en die prys waarteen die produkte met mekaar kan meeding in ag.
Die vraag na bees- en skaapvleis gaan na verwagting stadig groei. Daarteenoor behoort die vraag na eiers, varkvleis en hoendervleis skerp te styg. Dit is grootliks omdat hoenders en varke ’n beter voeromsettingsverhouding het en hoenderen varkvleis dus baie goedkoper op die winkelrak kan beland.
Die produsenteprys van klas A-beesvleis was in September vanjaar net minder as R40/kg en dié van lamsvleis net minder as R60/kg. Daarteenoor was die produsenteprys van varkvleis sowat R24/kg en die prys van Suid-Afrikaanse hoendervleis sowat R22/kg. (Ingevoerde hoendervleis was nóg goedkoper teen sowat R18/kg.) Dit is ook bekend dat eiers die goedkoopste proteïenbron is.
Die tweede kolom in die tabel toon die verwagte tonnemaat in die jaar 2025. Die absolute oorheersing van hoendervleis is duidelik. Daar word verwag dat ingevoerde hoendervleis in die grootse deel van die groei in die vraag sal voorsien. Die aanduiding is dat tot 500 000 ton hoendervleis vanjaar ingevoer kan word, vergeleke met die plaaslike produksie van sowat 1 miljoen ton per jaar wat besig is om af te neem. Terloops, die ingevoerde hoendervleis is gelykstaande aan bykans 1 miljoen ton veevoer wat in die SuidAfrikaanse mark “verplaas” word. Dit het wye implikasies vir verskeie bedrywe.
Die groot vraag is dus: Hoe gaan vleisbees- en vleisskaapboere in die volgende tien jaar meeding gegewe die verwagte veranderinge in die proteïenmark?
BEES- EN SKAAPVLEIS
Die droogte het Suid-Afrika se vleisbees- en vleisskaapkuddes ernstig geknou. Die toon die duidelike daling in die grootte van die land se koei- en KORTOM Dit gaan lank duur vir veral beeskuddes om ná die droogte te herstel. Produsente moes kuddes aansienlik verklein. Hoendervleis, insluitend ingevoerde hoendervleis, is besig om vinnig sy markaandeel teenoor ander proteïenbronne vinnig te vergroot. Daar is egter geleenthede vir die beesen skaapvleisbedryf deur meer klem te lê op gehalte en naspeurbaarheid. ooikuddes vergeleke met 2013. Dit is volgens ’n opname wat vroeër vanjaar deur die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) vir die Rooivleisprodusente-organisasie gedoen is.
Dit was die stand van sake teen die eerste kwartaal van die jaar. Sedertdien het die uitslag van vroulike diere voortgeduur weens die gebrek aan weiding in die winter en die feit dat dit nog nie gereën het nie. In sommige beesproduksiestreke het boere aangedui dat hulle omtrent net die helfte (of selfs minder) van hul normale teelkuddes oor het.
In die geval van beesvleis gaan dit ’n hele paar jaar duur om koeikuddes op te bou en terug te beweeg na die produksievlakke van voor die droogte.
Intussen het die uitvoermark vir beesvleis die afgelope drie jaar skerp gegroei. Dit beloop net onder 5 000 ton per maand. Dit maak sake meer ingewikkeld, want die voerkraalbedryf is ’n geïntegreerde besigheid waarby die voerkraal, die slagplaas en die verwerkingsaanleg ingeskakel is. Baie van die geïntegreerde voerkrale het kontrakte waaraan hulle plaaslike moet voldoen, maar hulle wil ook graag die uitvoermark behou.
BFAP verwag dat die prys van klas Abeesvleis teen 2025 tot meer as R60/kg kan styg en dat daar in die volgende paar jaar ’n aansienlike styging in pryse kan weens vanweë die kleiner aanbod. Die gevolg is dat beesvleis heelwat markaandeel gaan afstaan omdat die ander vleissoorte bloot in die groeiende vraag gaan voorsien, soos die tabel toon.
Skaapvleisproduksie word ook in baie gebiede geknou deur onder meer veediefstal en roofdiere en daar word al hoe meer na intensiewe produksiestelsels beweeg. Die aanbod gaan ná die droogte vinniger herstel as in die geval van beesvleis danksy die korter produksiesiklus van skaapvleis.
Hoewel die prys hoog is, is die verwagte groei in die vraag na skaapvleis beter as dié in die vraag na beesvleis. BFAP verwag dat skaapvleispryse stadiger gaan styg as beesvleispryse.
GEHALTE EN NISMARKTE
Daar is baie verskillende idees oor die bees- en skaapvleisbedryf se pad vorentoe. Wat ’n mens egter opval, is dat daar mense is wat meen die mark gaan nie ver-