Wolboere kan nie kla nie . . . en prys van bokhaar kan herstel
Of daar om ’n vleisbraaivuur in Suid-Afrika of in ’n raadsaal in Bradford, Engeland, oor wol gesels word, daar is net een slotsom waartoe gekom kan word: Die bedryf is tans baie gesond in Suid-Afrika.
Só het mnr. Louis de Beer, uitvoerende hoof van Cape Wools, met sy terugkeer vanaf die Campaign for Wool se jaarvergadering in Londen in Julie aan Vee gesê.
Volgens hom was die Australiërs en Suid-Afrikaners in hul skik met die uitstekende vraag na kleedwol gedurende die afgelope seisoen.
“Produksie in Suider-Afrika (Lesotho ingesluit) het ondanks El Niño verlede jaar met 5% tot 52,5 miljoen kg vetwol gestyg. Met die verbetering in wolpryse vanjaar sal die woltjek tot ’n rekordbedrag van R4,2 miljard styg. Dit is R450 miljoen (12%) meer as in die vorige seisoen,” sê Louis.
HOË PRYSE
“Die kersie op die koek is die skerp styging in skaapvleispryse. Op ’n veiling in Julie op Barkly-Oos is dragtige Dohne Merino-ooie teen R2 700 stuk verkoop. Die goeie pryse is vanweë die skaarsheid van bemarkbare diere, die heersende lae mielieprys en die vertroue wat wolboere in die vesel het,” sê Louis.
Die seisoen het in Augustus verlede jaar begin met Cape Wools se Merino-markaanwyser op 14 681 punte (skoonwol) en het teen die einde van die seisoen 15 218 punte bereik.
“Danksy die goeie vraag is daar tans min wol in die verwerkingspyplyn. Die vraag is meer as die huidige produksie en daar is geen aanduidings dat dit gaan daal nie.”
Hoewel kopers op die onlangse kongres van die Nasionale Wolkwekersvereniging gemaan het dat die prysverskil tussen 18 mikron en 21 mikron kan krimp, sal die meeste plaaslike produsente steeds die voordeel daarvan geniet, aangesien die gemiddelde veseldeursnee van die skeersel 21,5 mikron is.
TERMYNKONTRAK
Louis is ook in sy skik met die gunstige reaksie op die termynkontrak vir Merinowol wat Cape Wools in Junie op die JSE bekend gestel het. “Vrese in sommige kringe dat dit tot prysmanipulasie kan lei, is ongegrond, aangesien wol nie fisiek op die beurs sal verhandel nie. Die produk is nie ’n bemarkingsgeleentheid vir boere of wolkopers nie, maar net ’n instrument om hulle teen prysskommelinge te verskans.”
Mnr. Paul Lynch, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Wol- en Bokhaarkopersvereniging (Sawamba), stem saam en sê omdat die Merino-markaanwyser uit 85 verskillende tipes wol saamgestel word, sal dit uiters moeilik wees om die weeklikse beweging daarvan te manipuleer.
Kom wat wil, hardkoppige boere sal aanhou om bokhaar te kweek, want op elke Karooplaas is daar ’ n leegte met doringbome.
Dít is hoe mnr. Andries Greeff, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Sybokhaarkwekersvereniging, sy medeboere op die vereniging se onlangse jaarkongres op Graaff-Reinet bemoedig het.
En dit is presies wat hulle moet doen, meen mnr. Deon Saayman, hoofbestuurder van Sybokhaar Suid-Afrika (SSA). “Ons is deur ’n moeilike seisoen met veral die prys van kleinbokkiehaar wat nie aan die verwagtinge voldoen het nie en onder sy regmatige gemiddelde prysvlak verhandel het.
“Dit is nie soseer dat boere ongelukkig is met die gemiddelde prys vir hul skeersels nie. Die geweldige kostedruk aan die insetkant het hulle egter dié jaar in ’n drukgang geplaas. Dit gaan fyn ekonomiese beplanning verg tot die beter tye weer aanbreek.”
Deon sê waar die inflasiekoers vir boerderybenodigdhede sowat 6% is, het dit weens die hoë voerkoste verlede jaar vir sybokhaarboere tot meer as 16% gestyg.
“Die skommelende wisselkoers, selfs gedurende die verloop van ’n veiling (tot soveel as 6%), het sake vir veral vethaaruitvoerders uiters moeilik gemaak en hul mededingende voordeel teenoor plaaslike verwerkers nadelig geraak.”
Mnr. Pierre van der Vyver, bestuurder vir sybokhaar by CMW, sê met die lamtyd wat vanaf September voorlê en skraal vooruitsigte op reën, sal boere genoodsaak wees om voer in te koop om die pyp te rook. “Hulle kan nie bekostig om nou die handdoek in te gooi nie.”
Volgens Pierre toon ’n prysontleding oor die afgelope vyf jaar dat markpryse met gemiddeld 51% gestyg het, met grooten jongbokhaar wat in dié tyd die beste gevaar het. “Kleinbokkiehaar is egter tans betreklik goedkoop in verhouding met die res van die skeersel.”
Deon sê om hierdie rede het SSA reeds bepaalde handelskoue in Italië geïdentifiseer waar kleinbokkiehaar in die komende seisoen met mening bevorder gaan word. Gesprekke sal ook met vooraanstaande handelsmerk-modehuise gevoer word om nie die rug op die vesel te keer nie.
Produsente wat aan die riglyne vir volhoubare produksie deelneem, sal in die toekoms beter geposisioneer wees om ’n groter voordeel uit samewerkingsooreenkomste te trek. “Ek bly optimisties dat kleinbokkiehaar se prys teen die einde van die jaar weer die kop sal optel. Dit behoort op sy beurt ’n trekaksie mee te bring vir ander tipes sybokhaar wat veral in die binnenshuise mark gebruik word.”
Na verwagting kan produksie teen Desember op ’n jaargrondslag tot 10% laer wees en sowat 2,3 miljoen kilogram beloop. Sake kan egter verander as dit goed oor die produksiegebied reën.
. . . en prys van bokhaar kan herstel