Landbou Vee

Verbeter besetting drasties met minder uitgawes

Mnr. Arthur de Villiers ( links), Bonsmarabo­er van die plaas Arcadia by Vrede, sê dit maak sin om koeie later in die jaar te laat kalf wanneer daar beter weiding is. Die rede? Koeie wat in ’n goeie kondisie is wanneer hulle kalf pleks van wanneer die bull

- NAVRAE: Mnr. Arthur de Villiers, e-pos: amdev@zippnorth. co.za

Baie boere frons en wonder hoekom ons op Arcadia ons bulle soveel later as die gemiddelde Hoëveld-boer by ons koeie sit. Sekere boere sit al op 1 September die bulle by, ander op 1 Oktober en die meeste op 1 November.

Ons begin ons dektyd die afgelope vyf jaar op 15 Desember – dus heelwat later as ons medeboere. Ons het ook aanvanklik op 1 November die bulle bygesit, maar ná 15 jaar op die Hoëveld (ons is nou 27 jaar hier) het ons stelselmat­ig al hoe later begin dek, sonder om ons “uithaaldat­um” aan te skuif.

Dit was nie ’n maklike besluit nie. Een van die grootste bekommerni­sse is ’n laer speengewig. Vir elke maand wat ’n kalf vroeër in die kalftyd gebore word, weeg hy of sy 25-30 kg meer, maar teen watter koste word hierdie speengewig verkry? In die meeste gevalle ruil jy net rande vir rande.

Ná baie oplees, deelneem aan ’n bespreking­sgroep en eie waarneming van die voordele van “later in die lente begin kalf”, is ons dekdatum dus nou 15 Desember. Ons behoort op papier eintlik nog twee weke later te begin dek, maar met al die vakansie dae tot en met 2 Januarie werk “vanaf 15 Desember” vir ons goed.

Ons kalfdatum is dus vanaf die laaste week in September.

Ons almal weet hoe belangrik vrug-

baarheid vir ons vleisbeesb­oere se finansiële oorlewing is. Hoe meer kalwers teen die laagste moontlike koste aankom, hoe meer kan ons verkoop, hoe beter kan ons selekteer en hoe beter kan ons boerderye oorleef.

KONDISIE IS BEPALEND

Ek wil graag ’n konsep bespreek wat jou kudde se besettings­yfer dramaties kan verhoog en terselfder­tyd jou koste gaan verlaag. Dit is heeltemal natuurlik en gee jou die beste van twee wêrelde.

Hierdie konsep berus op die koei se liggaamsve­t (kondisie) met kalftyd en net voor sy kalf.

Dit is algemene kennis dat ’n brandmaer koei (’n kondisiete­lling van 1-1,5 uit 5) gaan sukkel om beset te raak. (Vir ’n koei om binne 365 dae te kalf, het sy 82 dae tyd om beset te raak nadat sy gekalf het as die dragtighei­dstydperk op 283 dae geneem word.) So ’n maer koei kan tot 180 dae nodig hê om weer beset te raak. Liggaamsve­t met kalftyd het ’n groter uitwerking op herbesetti­ng as liggaamsve­t met dektyd.

Dit is ook interessan­t dat klein verskille in liggaamsve­t ’n groot verskil kan maak aan besettings­yfers. Daar is dus ’n groot korrelasie tussen liggaamsve­t met kalftyd en vrugbaarhe­id teen dektyd.

Soos boere weet, is ’n koei nie dadelik nadat sy gekalf het, gereed om weer “bul te vat” nie. Ná kalf is daar ’n onvrugbare tydperk waarin die koei moet herstel van die kalfproses. In hierdie tyd moet die baarmoeder herstel en terugkrimp tot normaal. Daar is ook hormonale afskeiding­s wat moet verander van voor kalftyd tot by haar eerste hittesiklu­s. Die lengte (aantal dae) van hierdie onvrugbare tydperk hang af van hoe vet die koei was toe sy gekalf het (sien TABEL 1 ).

Die meeste boere glo verkeerdel­ik dat vrugbaarhe­id en ’ n verbeterin­g in kondisie tydens die dektyd die grootste faktor is as dit by goeie besetting kom. Dit speel wel ’n rol, maar hoeveel vet die koei opgebou het voor en met kalftyd, is baie belangrike­r.

Daar is ook bewys dat die eerste hittesiklu­s ná kalftyd wel vrugbaar kan wees, maar dat die tweede siklus – 21 dae later – die beste siklus en kans vir besetting is. Die aanbevelin­g is dus dat jou dektyd ná die onvrugbare tydperk plus een siklus moet begin.

In die perfekte wêreld – waarin niemand van ons is nie – word ’n dektyd van 42 dae aanbeveel. (Dit beteken nie dat ’n mens nie daarna kan strewe nie!) Dit kom daarop neer dat jou koeie so vroeg moontlik binne die dektyd bul moet vat. Die koeie wat later kalf, het doodgewoon nie genoeg tyd om beset te raak nie. Met ’n dektyd van 60 dae of 90 dae geld dieselfde beginsel.

TABEL 2 toon die persentasi­e koeie wat 90 dae ná kalf herbeset was vergeleke met hul kondisiete­lling. Sodra die kondisiete­lling 4,5 en 5 was (baie vet) teen kalftyd, het die besettings­yfer weer afgeneem tot 75% van die koeie. Té vet is dus ook verkeerd.

Dit is nie die einde van die storie nie. Om bogenoemde resultate te verkry, moet koeie ook gewig optel net voor hulle kalf. ’n Koei wat in ’n goeie kondisie voor kaltyd is, behoort nie gewig te verloor in die dae voor en met kalftyd nie omdat sy in hierdie deurslagge­wende tyd baie meer energie nodig het. As sy net van haar opgebergde vet afhanklik is, gaan sy steeds meer tyd nodig hê om haar eerste hittesiklu­s te bereik. Liggaamsve­t is ’n fantas- tiese bron om te verseker dat die koei genoeg energieres­erwes het om haarself te laat herstel, vir haar kalf te sorg en weer dragtig te raak. As sy nou gewig verloor, gaan haar instink intree en sy gaan eerder vir haar en haar kalf sorg voor sy weer op hitte kom.

Ons dink baie keer dat ons kan “regmaak” deur skraal koeie goed gewig te laat optel voor die dektyd. Dit werk, maar nie so goed nie. Onthou, die horlosie begin tik as die kalf gebore word. Jy kan nie die horlosie terugdraai nie. Die probleem is dat die koei die manier hoe sy vet as energie gebruik, prioritise­er. Sy gebruik eers energie vir haar eie onderhoud en baarmoeder­involusie, en dan gebruik sy geweldig baie energie om genoeg melk vir haar kalf te lewer en ’n goeie ma te wees. Eers as in hierdie energiebeh­oeftes voorsien is, sal sy begin gewig optel.

Terwyl die koei dragtig is, is dit taamlik maklik vir haar om gewig op te tel. Dragtighei­d gebruik energie, maar nie soveel dat daar nie genoeg oor is vir haar om in kondisie te verbeter nie. As die koei eers gekalf het, verander haar energiebal­ans drasties. Dan is dit byna onmoontlik vir haar om genoeg kalorieë in te neem om melk te lewer en gewig op te tel.

Om uit ’n sak in hierdie behoeftes van haar te voorsien, is glad nie winsgewend nie. Dink maar hoeveel energie- of produksiel­ek gee jy vir die koeie wat voor die lente of in die vroeë lente kalf (voor die gras begin groei het). Dit vreet aan jou

wins. Dit is moeilik om die balans te vind tussen vroeg kalf in ’n goeie kondisie en steeds gewig optel ná kalftyd.

Hier dink ek aan boere wat oesreste het. Die koeie kalf wel in ’n goeie kondisie, maar onthou die res van die storie ná kalf. Dit werk, maar dit is nie ’n resep vir ’n laekoste-koei-kalfstelse­l nie. Ná kalftyd, as die reste op is, begin die probleem van koste aan die een kant en die “baklei” teen die natuur om die koeie in ’n goeie kondisie te hou (verkieslik gewig te laat toeneem) aan die ander kant.

LAAT KALF WANNEER WEIDING GROEI

Daar is ’n ander strategie om oorwinteri­ngskoste te besnoei, koeie goedkoop te laat gewig optel voor hulle kalf, al die kalorieë te voorsien wat benodig word vir laktasie en om vrugbaarhe­id en besetting te verhoog sonder dat dit jou enigiets meer gaan kos aan ekstra voer of lekke. Inteendeel, dit gaan jou minder kos. Dié strategie is: Laat jou koeie kalf tydens die groeityd van die gras

Kom ons kyk wat gebeur as jy die kalftyd ’n bietjie aanskuif. As jou koeie vier tot ses weke ná die begin van die groeityd van die weiding begin kalf, is hulle in ’n totaal ander situasie as die koeie wat voor die groeityd kalf. Hierdie koeie wat later kalf, het minstens ses weke van goeie, welige en goedkoop weiding beskikbaar voor hulle kalf. Omdat hulle nie lakteer nie – selfs al kom hulle skraal uit die winter uit – het hulle genoeg tyd en nie soveel energie nodig om ’n kondisiepu­nt van 3,5 of 4 te bereik voor hulle kalf nie.

’n Kondisiepu­nt van 3,5 tot 4 beteken ’n korter onvrugbare tydperk. Besetting sal daarom baie beter wees en jy sal nie ’n fortuin bestee aan wintervoer om hierdie hoë besetting te bereik nie.

Daar is dus ’n groot voordeel met betrekking tot vrugbaarhe­id as jy jou kalftyd aanskuif tot in die groeityd van die weiding. Die meeste van jou koeie gaan 30-60 dae ná kalf beset raak. Jy kan ’n eenvormige kalfgroep verwag omdat die meeste kalwers binne twee maande van mekaar gebore word. Beter bestuur ten opsigte van onder meer waarneming, onthoornin­g, kastrasie, inentings en bemarking is dus moontlik.

Soos vroeër genoem, beter besetting beteken beter seleksie en minder uitskot van onbesette koeie. Meer kalwers beteken jy kan jou beste verse hou en kalwers teen ’n laer koste lewer, wat jou netto inkomste verhoog. Dit is ál wat vleisbeesb­oere sal laat oorleef.

Melkproduk­sie gaan nie ernstig benadeel word as jy die kalftyd aanskuif nie, want jy het nog die grootste deel van die somer oor. Kalwers wat op welige veld gebore word, is baie gesonder as kalwers wat gebore word in klein kampies waar hooibale gevoer word. Modder, koeie wat om bale saamdrom en laat kouefronte is sleg vir ’n jong kalf.

Meer liggaamsve­t by koeie beteken meer biesmelk. Daarom is kalwers wat later gebore word, dikwels gesonder as vroeë kalwers. Omdat die koeie in ’n goeie kondisie gekalf het, lewer hulle ook meer melk in die volgende vier maande. Jou kalwers groei vinniger omdat jou koeie vetter is.

Ek moet byvoeg dat ons kalwers baie maagwerkin­gs het. Dit is gewoonlik rotavirus of coronaviru­s. Dié probleem het dalk te doen met ons boere se obsessie om vir te veel melk te selekteer. Vroeër kalwers in ’n later kalftyd bly die beste.

Die geboortege­wig van ons kalwers is ook hoër, maar steeds aanvaarbaa­r met die minimum kalfproble­me. Ek dink wel jou verse kan vroeër kalf – voor die gras groen is – om kalfproble­me by dié groep te beperk. Hulle sal genoeg tyd hê om gewig op te tel voor hulle vir die tweede keer gedek word.

Omdat jou koeie tyd het om in kondisie te verbeter voor hulle kalf, is jou oorwinteri­ngskoste laer. Ons koeie kom deur die winter sonder ’n enkele baal voer (op die koue Hoëveld waar voermaak aan die orde van die dag is). Ons kry dit al jare

lank reg danksy spaarveld wat ons vanaf einde Januarie laat rus. Om die bulle net 14 dae later by te sit, maak ’n groot verskil. Koeie kan tot 20% van hul kondisie verloor terwyl hulle dragtig deur die winter gaan. Dan moet jy weet waar en watter kampe hulle gaan vreet om daardie gewig weer op te tel voor hulle kalf.

Ons het wel beperkte hoeveelhed­e oesreste beskikbaar.

Diere wat vir ’n kort tydperk (drie tot vier maande) gewig verloor het, gebruik voedingsto­wwe baie doeltreffe­nd om vir die verlies te vergoed, en hul kondisie kan ná ses weke van goeie, groen, vars weiding dramaties verbeter. Ons sal as ons ’n ernstige koue front of sneeu sien aankom, op Arcadia bale uitsit, maar op ons ander plase het ons nie eens een baal hooi nie. As die front verby is, word daar nie weer bale uitgesit nie.

SPEEN- EN DEKBELEID

As jou koeie in die weiding se groeityd kalf, kan jy kalwers later speen as met die tradisione­le metode. Soos genoem, die koeie kan maar gewig verloor, want hulle gaan dit weer in die somer optel voor hulle kalf.

Ons het ook begin om nie meer ons kalwers te speen nie (ons weeg hulle wel op die regte speendatum, maar jaag hulle dan weer by die koeie in). Soos wat die weiding se gehalte afneem, sal die dragtige koeie hul kalwers self speen. Ons doen dít ook reeds ’n paar jaar lank, en dit werk. Daar is geen speenskok nie, geen drade word gebreek nie en daar is geen stres op die ma of die kalf nie.

Die koeie met bulkalwers moet wel geskei word van die koeie met verskalwer­s (saam met hul kalwers), anders begin die bulletjies die verse dek.

Soos mnr. Kit Pharo, groot vleisbeesb­oer van Burlington in Colorado, Amerika, vir ons gevra het: “Who weans the kudu calf?”

Ons het al só laat gespeen (ons het nie geweet waar om met die speenkalwe­rs heen te gaan nie) dat koeie al weer gekalf het terwyl hul vorige kalf nog by hulle geloop het. Dié koeie se kalftyd het met gemiddeld 30 dae teruggesku­if. Ek het self gekyk en laat kyk of die ouer kalf saam met die nuwe kalfie suip, en ons het dit nog nie een keer gesien nie.

Hierdie “terugskuif” gebeur meestal by ons koeie wat in die herfs kalf – in ’n baie goeie kondisie. Ons beleid op Arcadia is “half a skip a lifetime”. ’n Koei kan een maal in haar lewe oorgaan van die somer na die winter of van die winter na die somer, maar nooit weer nie, anders word sy uitgeskot.

Ons stel ons koeie vir 73 dae (15 Desember tot 28 Februarie) in die somer en 60 dae (1 Mei tot 1 Junie) in die winter aan die bulle bloot. Dit is dus 133 dae in totaal.

Wat ek die afgelope twee jaar doen, is om die 133 dae aan mekaar te verbind. Ek het gesien as ek die bulle op 28 Februarie uithaal en op 1 Maart is daar ’n koei op hitte, moet sy oorstaan tot 1 Mei voor sy weer bul kry. In ons wêreld is Maart en April nog goeie maande en dit maak nie vir my sin om in dié laat somer nie die bulle by die koeie te hê nie.

Ons laat dek dus steeds net 133 dae lank, maar dit strek nou van 15 Desember tot 30 April. As ’n koei nie in hierdie goeie maande beset raak nie, het sy geen verskoning nie.

As jy later speen, is jou kalwers later op die mark en kan hulle vir die Kersmark aan die voerkraal verkoop word – teen ’n beter prys.

Indien jy genoeg weiding het, kan jy die kalwers nóg later speen. Speen hulle wanneer die koeie in daardie wonderlike, groen weiding ingaan. Dan benut jy ook die kalwers se kompensere­nde groei en jy verkoop die kalwers dan as goedkoop grootgemaa­kte long weaners van 280-300 kg wat reeds voorberei is vir die voerkraal. As jy met ’n voerkraal onderhande­l, kan jy reeds die kalwers vir hom ent en voorberei en sodoende dalk ’n ekstra premie verdien. Hierdie bestuurspr­aktyke werk verseker vir Arcadia-Bonsmaras. Dit werk veral beter met vroegryp beeste wat blitsvinni­g vet aansit sodra die groen gras kom. Die regte gene speel dus ook ’n rol. Mediumraam­beeste met goeie kapasiteit, matige bespiering, ’n goeie aanpassing­svermoë en wat vinnig op die veld vet word, werk oor die hele wêreld heen uitstekend in ekstensiew­e dele.

Mnr. Arthur de Villiers van Vrede is die eienaar van die Arcadia-Bonsmarast­oetery.

 ??  ??
 ??  ?? Hierdie koei het haar kalfdatum met 32 dae vervroeg omdat sy in so ’n goeie kondisie van die veld af gekalf het.
Hierdie koei het haar kalfdatum met 32 dae vervroeg omdat sy in so ’n goeie kondisie van die veld af gekalf het.
 ??  ?? As ’n koei in so ’n kondisie is as sy kalf, behoort sy maklik voor 82 dae ná kalf herbeset te raak.
As ’n koei in so ’n kondisie is as sy kalf, behoort sy maklik voor 82 dae ná kalf herbeset te raak.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa