Wees versigtig vir Johne se siekte
Johne se siekte is ’n chroniese, aansteeklike siekte by herkouers en sekere wildsoorte en is besig om stadig maar seker in Suid-Afrika te versprei. Hier is raad aan boere.
Johne se siekte, ook bekend as paratuberkulose of OJD ( Ovine Johne’s Disease) kom wêreldwyd voor en word as een van die grootste bedreigings vir die veebedryf in onder meer Brittanje, Australië, Nieu-Seeland en Spanje beskou.
Vir Suid-Afrikaanse skaapboere is dit baie belangrik om van dié siekte te weet, veral hoe dit versprei word. Boere is wetlik verplig om die siekte by hul plaaslike staatsveearts aan te meld. Die besmette plase word dan onder kwarantyn geplaas om ander boere se kuddes te beskerm.
Johne se siekte word deur die bakterie Mycobacterium avium, subspesie paratuberculosis, veroorsaak. Die bakterie is naverwant aan die organisme wat tuberkulose veroorsaak.
In Suid-Afrika is die siekte al by beeste geïdentifiseer, maar die grootste voorkoms is tans by skape.
Hoewel die siekte meestal in die WesKaap voorkom, is uitbrekings ook al in onder meer die Oos- en die Noord-Kaap en die Vrystaat aangemeld.
In die Wes-Kaap is kommersiële boere gewillig om vir die siekte in hul kuddes te toets en dit op te spoor, aangesien hulle hul diere dan teen die siekte kan inent om produksieverliese te beperk.
Ongelukkig wil baie stoetboere nie vir die siekte toets nie, want as hul kuddes positief toets, word dit in kwarantyn geplaas en dan kan hulle nie hul diere aan medeboere verkoop nie. Só kan die siekte versprei. As die Johne-status van ’n plaas onbekend is, kan ’n boer onwetend ’n duur prys betaal deur ’n besmette ram of ooi van ’n ongetoetste plaas in te koop.
VERSPREIDING
Draerdiere of aangetaste diere kan groot hoeveelhede van die bakterie in hul mis uitskei. Die bakterie is taamlik gehard en kan in gunstige toestande (’n nat, koel omgewing) langer as ’n jaar in mis of water oorleef.
Vatbare diere neem bakterieë mondelings in deur besmette weiding. Jonger diere (wat vatbaarder is) kan dit inneem deur aan besmette spene te suip.
Die bakterieë gaan dan na die dermkanaal, waar dit vermenigvuldig. Sommige besmette diere word draers. So ’n draerdier kan lewenslank bakterieë in sy mis uitskei en vatbare diere aansteek. Dié draers bly oënskynlik gesond en toon geen siektetekens nie.
Ander diere kan egter ná ’n inkubasietydperk, wat wissel van ses maande tot jare, kliniese tekens ontwikkel. Die persentasie van ’n trop wat kliniese tekens ontwikkel, is gewoonlik 1-2% per jaar, maar kan tot 10% per jaar wees. Talle faktore, soos wanvoeding, spoorelementtekorte en inwendige parasiete, kan die aantal kliniese gevalle verhoog.
SIMPTOME
Ongelukkig kan Johne se siekte tans nie in ’n vroeë stadium betroubaar gediagnoseer word nie. Die tydperk vanaf besmetting tot die eerste kliniese tekens voorkom, is baie lank en wisselvallig.
By skape wat kliniese tekens ontwikkel, word chroniese gewigsverlies waargeneem, maar die mis bly gewoonlik normaal. Diarree is nie ’n kenmerk van die siekte by skape nie.
Die kliniese tekens van gewigsverlies en swak produksie kom in die algemeen eers vanaf die tweetandstadium en ouer voor.
Daar is baie ander oorsake van chroniese gewigsverlies. Dit is dus noodsaaklik dat die siekte deur toetsing en nie net kliniese tekens gediagnoseer word indien daar vermoed word dat diere die siekte het nie. Die beskikbare toetse vir lewende diere is egter baie onsensitief.
PROGNOSE
Aangetaste diere vrek ná ’n paar weke of maande weens hongerte, aangesien die bakterieë verdikking van die derm veroorsaak en voedingstowwe nie uit die derm opgeneem kan word nie.
Daar is geen behandeling vir die siekte
nie, maar ’n entstof is op voorskrif van die plaaslike staatsveearts beskikbaar.
Die entstof mag slegs by besmette kuddes, onder toesig van die staatsveearts, gebruik word, aangesien diere wat ingeënt is, met bloedtoetse positief vir die siekte gaan toets. Daar moet dus onderskei kan word tussen diere wat ingeënt is en dié wat werklik Johne se siekte het, aangesien daar geen toets bestaan wat tussen die siekte en inenting kan onderskei nie.
Boere moet ook daarop let dat die entstof nie 100% beskerming bied nie en taamlik duur is.
RAAD AAN BOERE
Hou die gemiddelde ouderdom van die trop so laag as moontlik. Verwyder en slag enige klinies aangetaste diere, oftewel skape wat chronies gewig verloor, so spoedig moontlik. Hierdie skape skei groot hoeveelhede van die bakterie in hul mis uit en dien as bron van besmetting vir ander skape.
Lamtyd in die winter( koue en nat toestande in die winterreëngebied e) verhoog die kans dat lammers besmet kan raak. Laat skape in die winterreënstreke eerder in die lente lam. Ooie moet verkieslik op “skoon” lande lam, byvoorbeeld stoppellande of medic-weidings wat jaarliks hervestig word. Moenie ooie in klein kampies laat lam nie en skei ouer en jonger ooie indien prakties moontlik.
Handhaaf streng higiëniese standaarde. Water- en voerbakke moet skoon gehou word en só ontwerp wees dat misbesoedeling nie kan plaasvind nie. Voerbakke moet van die grond af gelig word om misbesoedeling te keer.
Probeer om die voedingstatus, veral ten opsigte van spoorelemente en vitamiene, en die gesondheidstatus (parasiete en siektes) van die trop so hoog as moontlik te hou, sodat diere meer weerstand teen die siekte het.
Hou jou kudde sover moontlik geslote en moenie skape van ’n besmette plaas aankoop of inbring nie. Moet ook nie skape van twyfelagtige herkoms koop wat die biosekerheid van jou eie kudde kan bedreig nie.
Dr ingaan op’ n verkopers verklaring van die voornemende verkoper dat die skape siektevry is.
Waak teen besmetting by veilings, skoue en waar diere van verskillende plekke af saamkom, soos by kernkuddes en produksie meet groepe.
Ent alle vervangingsdiere van drie weke tot ses maande oud in besmette kuddes eenmalig in. Dit verminder die kliniese gevalle en die hoeveelheid bakterieë wat in die mis uitgeskei word.
Gooi kalk op die grond om die pH te verhoog en só die oorlewing van die organismes te bekamp. Dr. Sewellyn Davey is ’n Wes-Kaapse staatsveearts. NAVRAE: E-pos: sewellynd@elsenburg.com; sel 083 642 0603.