Groei en herstel met ultratroppe
Met ultradrukbeweiding het ’n beesboer van Noordwes sy drakrag minstens verdriedubbel, en nog is dit het einde niet. Twee Suid-Vrystaatse boere wat by hom gaan kers opsteek het, sê die droogte sou hulle al lankal gekelder het as dit nie vir drukbeweiding
Te goed om waar te wees, is die gebruiklike reaksie as mnr. Gideon Oosthuizen van die plaas De Beerskraal by Rysmierbult buite Ventersdorp vertel watter ommekeer hy in die afgelope paar jaar met ultradrukbeweiding op sy plaas bewerkstellig het.
Daarom verkies hy om mense te gaan wys, sodat hulle met hul eie oë kan sien hoe sy troppe van 500 of meer beeste elk ’n hektaar per dag afwei. Aan die manier waarop hulle wei, is dit duidelik dat dit die diere glad nie pla om in sulke groot, digte troppe te beweeg nie.
Kalftyd is geen probleem in die groot troppe nie, sê Gideon. In een trop is byvoorbeeld 530 verse met omtrent 400 kalwers. Dit is opvallend hoe die kalwers in groepe by mekaar hou, en die verse beurte maak om na die “kleu- terskole” om te sien. Die werkers hou die troppe in elk geval die hele dag dop, en donkies in elke trop help roofdiere weghou.
Die skeptici maak aanmerkings, soos dat Gideon sy mineraalregte laat wegvreet, maar die gesonde en diverse stand van sy veld en die kondisie van sy beeste getuig anders.
Tweeman-werkerspanne, wat die hele dag saam met die beeste in die veld is, skuif die troppe elke halfuur tot uur met oprolbare elektriese draadjies na nuwe weiding namate die diere aan die stertkant begin bulk om aan te dui dis tyd vir die spreekwoordelike groener weivelde.
Gideon vind die werkers is doodtevrede met hierdie reëling. Hulle leer vinnig wanneer die gras kort genoeg afgevreet is sodat vir die trop oopgemaak moet word om aan te skuif.
Elke strook weiding rus minstens ’n volle kalenderjaar voordat dit weer bewei word. Sy binnekampe, wat strook vir strook met die elektriese draadheinings bewei word, is van 30 ha tot 60 ha groot. Een kamp word ten volle benut voordat na ’n volgende aanbeweeg word, om bestuur te vergemaklik.
Smiddae om 12:00 stap die beeste en werkers na ’n sentrale, groot krip waar die diere water drink en die werkers middagete nuttig. Snags word die beeste by die krip gekraal teen veediewe.
‘JY KAN ELKE HOEKIE BENUT’
Gideon, wat in 1990 saam met sy pa, Piet, en oom Deon begin boer het, het die familieboerdery se voerintensiewe melkery tot in 2002 bedryf. Hulle het dié vertakking toe verkoop.
“Ek het altyd geweet daar móét ’n manier wees om elke hoekie van jou plaas te benut.”
Teen 2004 het hy die drukbeweidingkenner mnr. Johann Zietsman van Chinhoyi, Zimbabwe, genooi om ’n kursus vir boere van die omgewing by hulle aan te bied. Gideon het daarna met kommersiële vleisbeeste met dié praktyk begin eksperimenteer.
Dit was ’n proses van leer en verfyn om die stelsel vir sy plaas en toestande te maak werk. Daarmee is hy steeds besig.
Hy het aanvanklik met sowat 150 koeie in ’n trop in baie klein kampe begin, maar mettertyd die troppe al hoe groter gemaak en die verskuifbare kampe tot gemiddeld sowat 1 500 m2 vergroot.
Sy volgende mikpunt is om sowat 800 koeie op 1 200 ha volhoubaar deur te dra. Hy wil ook mettertyd kalwers op die veld begin afrond met ultradrukbeweiding.
Die gebied se tradisionele drakragnorm is sowat 6 ha per grootvee-eenheid, terwyl hy nou op gemiddeld 2 ha per grootvee-eenheid staan. Daarvan is die helfte aangeplante smutsvingerweidings en die res natuurlike rooi- en terpentyngrasveld.
In Desember, toe Vee hom besoek het, was die weitempo van ’n trop van 580 verse op smutsvingergras sowat 1 ha per dag.
Terwyl hulle in die afgelope drie jaar die ergste droogte in menseheugenis gehad het, was dit nie vir Gideon nodig om sy beeste te verminder nie. Inteendeel, hy kon sy kudde vergroot. Dít met net sowat 200 mm reën in die 2015-’16-groeityd en sowat 300 mm in 2014-’15 (die gebied se gemiddelde jaarlikse reënval op lang termyn is sowat 600 mm).
SÓ BEGIN JY
Om te begin, het jy ’n energie-eenheid nodig vir ’n verskuifbare elektriese heiningstelsel, gewoonlik in een pak met ’n battery, ’n sonpaneel en ’n reguleerder. Gideon se raad is dat dit ten minste 3 joule moet lewer.
“Moenie te laag begin nie, want dan raak ’n mens net moedeloos as die
heining nie goed genoeg werk nie. Dit is baie frustrerend. Maak seker dis eerder ’n sterker energie-eenheid as te swak, veral as jy nie goeie geleiding het nie.”
Hy het van die begin af met net ’n enkeldraad- elektriese heining gewerk. Nuwe beeste, wat nie elektriese draad ken nie, word binne minute geleer deur die draad met melassestroop te smeer. Vinnig-vinnig kom hulle dan in die gewoonte om ’n ent van die draadjie af te wei, nadat hulle daaraan wou lek.
Die draad kos hom sowat R500/km. Dit word met isoleerders op verskuifbare paaltjies van 1-1,2 m lank gespan.
Om vollediger benutting van alle plantmateriaal – ook die droër en onsmaaklike grasse – te bewerkstellig, voeg Gideon die afgelope twee jaar die aanvuller Browse Plus (reg.nr. V11013, Wet 36 van 1947) van Virbac, wat doeltreffender vertering aanmoedig, by die beeste se lek. Sy aanvanklike proewe het gewys dit werk baie beter in die lek as in hul drinkwater.
Die diere kry ’ n behoorlike produksielek (in die somer met superfosfaat) en in die winter Voermol se Dundee-lek (reg. nr. V15414) wat met sout en mieliegruis gemeng word. Voorts hou hy deurentyd ’n voerbank in stand. Ondanks die hoëdrukbenutting lewer die smutsvinger genoeg om ook hooi daarvan te sny. Hy maak kuilvoer wat hy in die voerkraal op die plaas gebruik om speenkalwers af te rond.
Die smutsvingerlande word al om die tweede jaar met 100 kg stikstof per hektaar bemes.
WENKE
Maak seker dat jou krippe groot genoeg is sodat die troppe nie alles leegdrink en mekaar begin rondstoot as hulle daar kom nie, is Gideon se raad. Hy het groot sentrale krippe waarheen water gepomp word.
Jou hanteringsgeriewe sal die grootte van jou troppe bepaal. Gideon skei ouderdomsgroepe in verskillende troppe: Ou koeie met kalwers, jonger koeie met kalwers, verse met eerste kalwers, en dragtige verse.
Van Maart tot Augustus laat vreet hy die troppe brandbane aan die binnekant van elke kamp reg rondom die plaas.
Oor hoe gereeld ’n trop aangeskuif moet word, is Gideon se raad dat jy moet seker maak dis vinnig genoeg. “Sodra ’n bees honger word, gaan hy die draadjie probeer breek.”
Hy voeg egter by dat die werkers en beeste gou self leer wanneer dit tyd is om aan te beweeg.
Uiteindelik sê hy elke boer moet ’n stelsel ontwikkel wat in sy toestande werk. “Die stelsel gaan van plaas tot plaas en selfs van kamp tot kamp verskil. Maar die basiese beginsels bly dieselfde.
“My probleem is deesdae glad nie meer om genoeg kos vir my beeste te kan voorsien nie, net om altyd genoeg vars water oral te kan verskaf.”
DRUKBEWEIDING RED
Twee beesboere van Dewetsdorp in die Suid-Vrystaat, een van die streke wat die hardste deur die rekorddroogte getref is, sê sonder drukbeweiding sou hulle nie tot nou oorleef het nie.
Mnr. PJ Badenhorst sê twee jaar agtermekaar se veldbrande het hom gedwing om buite die kassie te begin dink. Hy en sy vrou, dr. Marike Badenhorst, ’n veearts, boer op die familieplaas Platkop, tussen Dewetsdorp en Wepener.
Die brande was in 2012 en 2013, en in 2015 het ’n groot stuk weer afgebrand. “Ek het eintlik my hele plaas verloor.” Saam met die jare lange droogte was die uitwerking vernietigend. Die groot gronddam op Platkop was byvoorbeeld
teen middel Januarie vanjaar steeds kurkdroog, vir die langste tydperk wat hulle kan onthou.
Hy het by Gideon gaan kers opsteek en in Oktober 2015 met “basies niks” veld om mee te begin nie, ’n ultradrukbeweidingstelsel aangepak.
Die resultaat is merkwaardig. Sy huidige belading op die veld waar drukbeweiding toegepas word, is sowat 2 ha per bees, en ’n trop word bedags elke halfuur tot uur geskuif.
Sy kudde op Platkop wei in drie troppe, volgens ouderdomsgroepe: Altesaam 190 groot verse saam met ses bulle, in die tweede trop 178 jong verse, en in die derde groep 132 koeie met vyf bulle.
Hy het dié troppe aanvanklik só gegroepeer omdat hy teen middel 2015 besluit het hy sal die diere noodgedwonge moet verkoop. Nadat hy kort daarna met die ultradrukbeweiding begin het, was dit eensklaps nie meer nodig nie. Die diere het mettertyd kondisie opgetel en sy veld het drasties begin herstel. Hy het intussen ook verse ingekoop.
Vanaf 21 Oktober 2015 het hy oor die daaropvolgende 132 dae met ultradrukbeweiding altesaam 111 verse oor 61 ha erg afgetakelde veld deurgetrek.
Vir die drie maande van begin November verlede jaar tot 10 Januarie het die trop van 190 groot verse en ses bulle altesaam 76 ha erg afgetakelde veld met ultradruk afgewei. Die trop van 132 koeie met vyf bulle het oor 138 dae 93 ha veld intensief benut, ook strook vir strook.
Hulle bewei onder meer die droë dam. Daar is die benutting van gras én onkruid so deeglik dat die diere selfs kankerroos vreet, sê PJ.
Hy het verlede winter wel redelik reën gekry en ’n selfs intensiewer drukbeweidingstelsel op ’n hawerland toegepas, ook met goeie resultate. Daarvoor het ’n werker letterlik voortdurend heen en weer voor die trop geloop om die elektriese heining te skuif soos wat die diere die hawer strook vir strook tot kaal grond afgevreet het.
Vir die vyf maande van Junie tot Oktober verlede jaar het hy op dié manier 368 verse, groot en klein, op 91 ha groenvoer deur die winter gehelp. Die hergroei van die hawer is daarná deur uitskotdiere benut met konvensionele beweiding. Daar was aansienlik minder diere in dié trop en dit het veel korter gehou, sê hy.
Vir drinkwater aan die drukbeweitroppe het PJ tenks opgesit, waaruit hy 40 mm-pype na krippe toe aanlê. Die diere word snags om dié krippe gekraal. Bedags stap hulle een keer daarheen om te gaan water drink.
Nog ’n Dewetsdorper, mnr. Gerrit van Zyl, sê sonder die drukbeweidinglesse wat hy by Gideon gaan afkyk het, sou hy lankal weens die droogte in tamatiestraat gewees het (lees oor die artikel “Herlewing die enigste uitweg” op bl. 44).
Teen begin Januarie vanjaar, toe sy plaas nog bitter min reën vir die seisoen gehad het, het hy hul oorlewing aan drukbeweiding toegeskryf. “As ek by ons (tradisionele) drakragnorm gehou het, was ons nie meer hier nie.”
Sy belading staan nou op sowat 300 beeste wat ’n hektaar per dag bewei en wat twee keer per dag, soggens en saans, geskuif word. Hy vind sy veldherstel het drasties versnel en daar groei grassoorte wat nie voorheen daar was nie.
Gerrit glo vas sonder die herlewende krag van drukbeweiding gaan veeboere nie oorleef nie. “Die geheim van beesboerdery lê vandag in die beladingstempo op die grond.
“Ons móét met ons beweiding ons veld verbeter,” sê hy.