DEKGEWASSE IS MEERDOELIGHEID OP SY BESTE
Dekgewasse is waarskynlik een van die veeldoeligste herlewingslandboupraktyke. Dit herstel en bewaar nie net saaigrond nie, maar kan ook winsgewend as groenvoer benut word.
Elke boer moet self besluit waar dekgewasse die beste in sy stelsel inpas. Dekgewasse kan byvoorbeeld met dekgewasse opgevolg word of dit kan afgewissel word met kontantgewasse wat vir bemarking geoes word, sê dr. Hendrik Smith, bewaringslandboukoördineerder by Graan SA.
Dis egter belangrik om die hele jaar lewende, diverse wortels in die grond te hê wat die grondmikrobes voed. Dit verbeter grondbeskerming (grondbedekking) en versnel die proses van koolstofvaslegging en -vrugbaarheid, maar lewer ook groenvoer deur die hele jaar.
Om dus maksimum impak deur dekgewasse te kry (in ’n situasie waar nie kontantgewasse geplant word nie), moet ’n somerdekgewasmengsel verkieslik voor die winterdekgewasmengsel geplant word. Andersins kan die grond kwesbaar wees en agteruitgaan in die somermaande, wat beteken dit kan nie die gewenste produktiwiteit en winsgewendheid handhaaf nie. Die regte bestuur is dus uiters belangrik.
Hendrik noem ’n paar van die belangrikste voordele van dekgewasse: ■ Dekgewasse tussen twee opeenvolgende kontantgewas-oeste (soos in die winter of op oorlêlande in Suid-Afrika se tradisionele somersaaigebied) help om die grond te beskerm en grondgesondheid te verbeter. ■ Dit kan die grond as lewende of dooie bedekking beskerm. ■ As dit korrek bestuur word, dra dekgewasse tot vogbewaring by. ■ Dit beskerm grond teen winden watererosie. ■ Dit verhoog die hoeveelheid organiese materiaal in die grond. ■ Peuldekgewasse bind stikstof uit die atmosfeer en keer dat dit uit die grond loog. ■ Dit verhoog grondvrugbaarheid deur voedingstowwe via die ekologiese siklus te hersirkuleer, en kan só ’n saaiboer se bemestingskoste verlaag. ■ Dit kan terselfdertyd as voedsel- en voergewasse benut word. ■ Dit kan ’n verdigtingsprobleem help oplos, hetsy saam met die meganiese opbreking van ’n verdigtingslaag met byvoorbeeld ’n tandbewerking, of suiwer biologies, soos wanneer byvoorbeeld Japannese radyse aangeplant word om die verdigting op te breek. ■ Dit verhoog mikrobiese aktiwiteit en biodiversiteit in grond. ■ Dit help plae en siektes bestry. ■ Dit beskerm en bevorder bestuiwers en ander voordelige organismes. ■ Dit kan ’n boer help om minder inseken plaagdoders toe te dien. ■ Dit verhoog ’n boerdery se bestandheid teen risiko’s en probleme, soos droogte.