Asiatiese rooiwater: Boere móét inent
Asiatiese rooiwater is een van die grootste oorsake van vrektes onder grootvee in Suid-Afrika en is besig om te versprei namate bloubosluise nuwe gebiede inneem. Vroegtydige optrede, insluitend inenting, is noodsaaklik om die siekte te stuit.
Die jongste navorsing toon die Asiatiese bloubosluis, wat Asiatiese rooiwater oordra, is besig om dele van Suid-Afrika wat voorheen vry van die siekte was, in te neem. Asiatiese rooiwater kan skielike vrektes in dié dele veroorsaak. Die siekte kan versprei ná die verkoop en vervoer van diere vanaf gebiede waar dit voorkom na gebiede wat voorheen vry van die siekte was.
VERSPREI DEUR BOSLUISE
Rooiwater is ’n protosoïese siekte wat deur bosluise oorgedra word. Twee tipes rooiwater kom in Suid-Afrika voor. Afrika-rooiwater word deur die Afrikabloubos luis( Rhipicephalus decoloratus) en die Asiatiese bloubosluis ( Rhipicephalus [ Boophilus] microplus oorgedra, terwyl Asiatiese rooiwater slegs deur die Asiatiese bloubosluis oorgedra word.
Die rooipootbosluis ( Rhipicephalus evertsi evertsi) kan ook ’n rol in die oordrag van Afrika-rooiwater speel, maar in ’n veel kleiner mate as die bloubosluise.
Die verspreiding van Afrika- én Asiatiese rooiwater in Suid-Afrika word verbind met die verspreiding van die onderskeie vektore. Albei soort bloubosluise verkies gewoonlik warm, vogtige toestande, maar hulle het deur Suid-Afrika versprei omdat boere diere aangekoop het wat met bosluise besmet was. Die bosluise het nou aangepas om in minder gunstige toestande te oorleef.
KLINIESE TEKENS
Rooiwater by beeste word gekenmerk deur lusteloosheid, ’n verlies aan eetlus, ’n hoë koors van meer as 40,5 ºC, bloedarmoede en tipiese rooi-swart urine. Geelsug kan ook by sommige diere voorkom.
In die geval van Asiatiese rooiwater word dieselfde tekens as met Afrika-rooiwater gesien, maar in die meeste gevalle by beeste gaan die dier in skok weens die groot hoeveelheid parasiete wat in die rooibloedselle in die bloedvate teenwoordig is. Dit lei tot ’n suurstoftekort in die organe, orgaanversaking en uiteindelik die dood.
By sekere gevalle van Asiatiese rooiwater kom serebrale simptome ook voor. In dié geval versamel die parasiete in die rooibloedselle in die bloedvate van die brein en veroorsaak senuweesimptome.
Asiatiese rooiwater is in die meeste gevalle ’n perakute siekte. Beeste wat daarmee besmet word, vrek ten spyte van behandeling wat toegepas word, veral in die geval van serebrale rooiwater. Diere wat serebrale simptome toon, moet van kant gemaak word. Die vermoede is daarom dat Asiatiese rooiwater vir die grootste verliese weens rooiwater in Suid-Afrika verantwoordelik is.
Die voorkoms van rooiwater by beeste word deur ’n veearts bevestig deur ’n bloedsmeer van die siek of dooie dier te neem en dit dan onder ’n mikroskoop te ondersoek.
BEHANDEL SÓ
Dr. Neil Fourie, private veearts in Middelburg, Mpumalanga, se raad aan boere wanneer Asiatiese rooiwater uitbreek, is om eerstens verdere vrektes te keer. “Behandel alle diere in die groep met 1 ml imidokarb dipropionaat per 100 kilogram liggaamsgewig. Diminaseen teen 3,5 mg/kg kan ook toegedien word. Dit is belangrik om die volle dosis van die middels te gebruik en nie verminderde dosisse nie.”
Hy sê om blootstelling aan die larfstadium van die bloubosluis te verminder, moet beeste met ’n amitras-sproeidip gedip word. As daar nie bosluisweerstand teen die middel is nie, sal die bosluise vinnig afval en vrektes behoort op te hou.
Om die situasie in die toekoms te vermy, moet beeste egter teen die siekte ingeënt word. “Ondervinding in Australië het getoon bosluise alleen kan nie vertrou word om weerstand teen Asiatiese rooiwater by kalwers te vestig nie,” sê Neil.
Kalwers van vier tot ses maande oud moet dus met rooiwaterentstof geënt word. “OBP, wat die entstof versprei, beveel ’n eenmalige aanwending van die entstof aan. Ondervinding in die veld het egter getoon dit is onvoldoende. Ons ent kalwers in as hulle vier tot ses maande oud is, en die verse word voor die dektyd weer ingeënt. Daarna word volwasse diere elke drie jaar ingeënt.”