’n Eeu van droogte, met goeie jare tussenin
Dit gebeur selde dat daar nié iewers ’n deel van Suid-Afrika in die greep van ’n droogte is nie, skryf Amelia Genis. Wat het ons uit die afgelope eeu se droogtes geleer? En is ons nou minder kwesbaar?
Droogte klou in die verre noorde”. “KleinKaroo op sy knieë weens die droogte”. “Waterkwota dalk doodskoot vir appels en pere”. “Droogte wurg steeds groot dele van SA”. “Dinge raak nou lelik vir Olifantsrivier se boere” . . . Dié opskrifte, wat verlede jaar in Landbouweekblad verskyn het, sou in vele ander jare sedert 1919 kon pas.
’N DORRE LAND
Prof. William Beinart skryf in The rise of conservation in South Africa: Settlers, livestock and the environment 1770-1950 daar is in hierdie era elke sewe of agt jaar ’n droogte, met “ernstige droogtes” in 1862-’63, 1872-’73, 1877-’78, 1895-’96, 1903-’04, 1912-’13 en 1918-’19 in die Kaap, en weer in 1926-’27 en 1932-’33. “Die noordwestelike deel van die Kaap is in 1927-’28 besonder swaar getref. Die verskuiwing van vee na aangrensende distrikte het veroorsaak dat húlle oorlaai is.”
In Oktober 1923 is Suid-Afrika in die greep van ’n droogte wat “swaar druk” op die grootste deel van die land. “Die dorre, skroeiende, sanddrywende winde maak ’n mens bang vir die toekoms,” skryf Landbouweekblad.
“In die Karoo vind die boere dit moeilik om hul skape aan die lewe te hou. Uit Britstown het
talle boere al begin trek.”
Elders lyk dit ewe beroerd. By Uniondale en Willowmore bly minder as die helfte van die oes oor. In die Wes-Transvaal is die toestande haglik. “Die veld is vir honderde myle kaal. Vaal en droog,” word dit berig.
“Dit lyk soos in die hart van die winter en die veediere verkeer in ’n treurige toestand.”
Daar is geen reserwevoer nie en talle diere vrek. Die pryse vir vee op die mark is so laag dat dit nie die moeite werd is om te verkoop nie.
“Botter en melk word verwag om binnekort hongersnoodpryse te haal en ’n groot tekort aan melk is seker.”
By Volksrust vrek beeste, skape en perde “by hope”. By Barberton is die gesaaides deur ’n hittegolf vernietig. In die Vrystaat bly lê die beeste en gaan dood “aan maerte”. Lammers word keelaf gesny om die ooie te behou. Daar is nog niks geploeg nie.
DROOGTEKOMMISSIE
Ná die groot verliese van 1919’20 stel die Regering ’n droogte-ondersoekkommissie aan.
“Die moeilikheid met die droogte is dit is soos ’n ketting met verskillende oorsaakskakels en oplossingskakels,” word bevind. Vyftig jaar van reënvalrekords toon dit reën nie minder nie, maar dat die reën “op so ’n manier val of die toestande van die grondoppervlakte van so aard is dat die reën nie dieselfde nut” het nie.
Daarvoor moet boerderypraktyke die skuld kry. “Deur die afbrand van die graskleed van die veld, die vertrapping van die veld deur die rondja van vee, heen en weer na die kraal, die verspoeling van die grond en die spoel van slote loop reënwater sneller af na spruite, riviere, die see en is verlore vir boerderydoeleindes.”
En dit is menslik om gou weer van die swaarkry te vergeet: Hoewel die boer weet dat droogte so dikwels voorkom, laat hy hom verlei deur ’n voorspoedige jaar, iets “wat elkeen in homself vind en steeds moet beveg”. Hy samel nie hooi en ander geskikte voer vir droë tye in nie of hy verkoop te veel van sy oes. Wanneer die droogte dan kom, is daar nie genoeg voer nie.
Die finansiële impak van die droogte van 1918-’19 op skaapboerdery is op £16 000 000 beraam. Die verslag, wat steeds in referate gemeld word, gee aanleiding tot ingrypende nuwe bewarings- en erosiewetgewing.
DIE GROOT DRIE
In 2014 beskryf Landbouweekblad drie droogtes wat veral in die landbou se geheue vasgebrand is:
1933: Vee vermaer en vrek, die hoop op ’n koringoes verdwyn en boere “vlug” na distrikte waar hulle lusernlande kan kry. In Griekwastad gaan hulle gebuk onder “een van die swaarste droogtes wat ons nog ooit gesien het”. Vee vrek by die duisende. Een boer verloor 700 skape binne drie maande en ’n ander 900 in vyf maande.
1983: Dié droogte en versengende hitte laat ’n breë spoor van lyding, ellende en armoede en word as die ergste droogte in twee eeue bestempel. Derduisende beeste vrek en weidings is uitgeput. Van ’n mielie-oes is daar geen sprake nie en die grootste deel van die grondbone-oes word ook verwoes.
Die gebied noord van die Soutpansberge, die hele noordoostelike Laeveld en die etniese “tuislande” Gazankulu, Venda en Lebowa word as rampdroogtegebiede beskou. Ook sowat 70% van die Vrystaatse boere het geen oes nie en die droogte het in sy geheel ’n groter impak as die droogte van 1933. Die Vaaldam meet in 1983 ’n invloei van net 175 miljoen m3 per hidrologiese jaar, minder as selfs die 440 miljoen m3 van 1924.
Landbouweekblad skryf in Februarie 1984 dat die derde mielie-oes in ’ n ry in die Wes-Transvaal daarmee heen is. Graanboere is “op hul knieë” en honderde werkers loop van plaas tot plaas en soek werk. Ander probeer om by die myne geholpe te raak.
Radelose boere van Wolmaransstad en Leeudoringstad word swaar beboet omdat hul diere op die nasionale padreserwes wei. “Dit is beter as om te sien dat hulle van honger vergaan,” vertel ’n boer.
1991: Dié rampdroogte lei tot die staat se hulpskema van R3,8 miljard om sowat 3 000 boere en 20 koöperasies van ondergang te red. Die meeste mielies nóg word ingevoer (3,95 miljoen ton) en wys hoe kwesbaar die land se voedselsekerheid is. Die Klein-Karoo het geen besproeiingswater vir lusern-, groente-
en kontantgewasse nie. In ander dele vernietig die droogte tot 75% van die graanoes. Verskeie dele in die Karoo word tot rampdroogtegebiede verklaar.
Tussendeur is daar ook heelparty ewe vernietigende streekdroogtes, soos die tienjaardroogte by Kenhardt (1960-’70) en in Boesmanland (1978-’85). Die Sentraal-Karoo is vanaf 1957 tot 1961 droog, vanaf 1977-’78 en vanaf 2007-’09.
In 2003 is dit die Wes-Kaap se beurt. Die Pools-silo ontvang net sowat 12% van sy vermoë se koring – 3 000 ton van ’n moontlike 25 000 ton. Die jaar daarna loop die stropers nie in die RooiKaroo nie.
RAMPHULP OF NIE?
In die vorige politieke bedeling was ramphulp feitlik vanselfsprekend, al het die Droogtekommissieverslag in 1923 bevind dat heelwat van die gevolge van droogte mensgemaak is.
Die gety was nietemin aan’t draai. Tydens die droogte van 1983 sê mnr. Harry Hatting, hoofdirekteur van ekonomie by die departement van landbou, droogtehulp moet voortaan as ’n bewaringsmaatreël beskou word, nié ’n oorlewingsmaatreël nie.
Die staat se droogtehulp word hersien en ’n nuwe stelsel tree in 1990 in werking – ’n “radikale ommeswaai”, in die woorde van Jan Cilliers in Landbouweekblad. Die bewaringsboere word nou gehelp en nie die grondvernielers nie. Dit sluit in ’n rabat op die vervoer van veevoer, ’n staatsbydrae vir ’n kernkudde, geldelike aansporing om jou vee te verminder en ’n huurskema.
’n Gebied sal ook nié tot ’n rampdroogtegebied verklaar word voordat “bewaringsverwysingsplase” dit regverdig nie. Só word boere gedwing om goeie bestuur toe te pas.
REGERING NIE DROOGTE-FIKS
Droogte is onvermydelik soos die dood en jy is meestal nié daarop voorbereid nie, skryf Landbouweekblad se Jean du Preez in 2014. Die regering en sy amptenare is nie “droogte-fiks” nie, ondanks die goeie lesse geleer met die droogte van 1983 en 1991.
“Die manne wat ons laaste groot droogte in die begin 1990’s help bestuur het, werk nie meer vir die staat nie. Hulle kan vir jou een ding sê: Die huidige regering het nog nie ’n rampdroogte beleef nie. Weet Suid-Afrika nog wat dit vereis om genoeg kos te verseker?
“Ja, miskien was daar in die afgelope 20 jaar hier en daar ’n ernstige streekdroogte, maar ’n landwye een wat veral graanoeste in sy peetjie stuur en massiewe invoer noodsaak? Dít ken die regering nie.”
Dit laat die vraag ontstaan: Wat is die regering se verantwoordelikheid, veral noudat die land ’n uitgerekte droogte beleef en daar al hoe meer bewyse is dat klimaatsverandering reeds plaasvind?
Prof. Coleen Vogel, me. Ingrid Koch en mnr. Kosie van Zyl skryf in 2010 in die vaktydskrif Weather, Climate and Society dat ons nie juis weet hoe om by ’n warmer en droër toekoms aan te pas nie omdat ons nie uit vorige droogtehulp-aksies leer nie.
Hulle kritiseer die staat se terugwerkende, pleks van toekomsgerigte, optrede in rampe en sê die staat se reddingsboei-mentaliteit om die risiko van droogte te verlig, help nie om ’n “afhanklikheidsindroom” te keer nie.
ALTYD NOG ’N PLAN
Dit is ’n tradisie van Landbouweekblad om enige droogte met vorige grotes te vergelyk en daar is altyd planne om boerderye meer bestand teen droogte te maak.
In Letaba skakel sitrusboere van vloedbesproeiing na sprinkelbesproeiing oor, vertel Landbouweekblad in 1968.
Op Patensie in die Gamtoosvallei oes die sitruskoöperasie in 1973 “meer lemoene met minder water en kunsmis” op sy plaas Paksaam vandat hy in 1970 na drupbesproeiing oorgeskakel het.
Mnr. Jack Human, bewaringsboerderypionier van Heidelberg, sien net voordele 30 jaar nadat hulle opgehou ploeg het, “veral in die jare met die droë winters”, vertel hy in 2013.
Die graan wat hulle daardie jaar in die Suid-Kaap geoes het, is te danke aan bewaringsboerdery. “Vroeër jare sou ’n mens nie in ’n jaar soos vanjaar graan kon wen nie.”
Landbouweekblad is die afgelope eeu week ná week gepak met planne van boere in die veeweigebiede om hul plase teen droogte te verskans.
Die Du Plessis’s van Merwede, Fauresmith, vertel in 1967 in Landbouweekblad hoe hul veld verbeter het nadat hulle duidelike wei- en rustye ingestel het.
Naby Springbok begin Albertus Roux in 1987 met kortrotasieweiding om die veld te bewaar en sy boerdery meer droogtebestand te maak.
“Boer asof elke volgende jaar ’n droogtejaar sal wees,” skryf Landbouweekblad in Junie 1950. Dit beteken “dat die boer gedurig ’n veld, voer of kapitaalreserwe moet hê om sy diere vir minstens 12 maande aan die lewe te hou”.
Hoewel die meeste planne boere vooruit laat boer het, het nie almal die toets van die tyd deurstaan nie, soos Karakoelskape in die omgewing van die Kurumanrivier. Of dit kan nadelig wees, soos die aanplanting van prosopisbome en oumansoutbos.
Prosopisbome word in Junie 1950 en Julie 1968 aanbeveel as goeie peuldraende voerbome, maar in die waterlope van die NoordKaap ding die boom met sy diep wortels deesdae met inheemse bome en windpompe mee om grondwater. Oumansoutbos is uit Australië ingevoer as voerplant vir die droë gebiede, maar daar is kommer oor sy potensiaal om inheemse plantsoorte te verplaas en te verminder.
Deesdae help bewaringslandboupraktyke, beter kultivars, drupbesproeiing, noukeurige besproeiingskedulering, vorme van wissel en drukbeweiding en laer veegetalle boere om langer in droogtes uit te hou, maar as dit jare lank nie reën nie, help daardie praktyke ook nie. Boonop bring reën nie onmiddellik verligting nie.
Roux sê in November 2017 as jy die vyfde lamtyd sonder reën ingaan, het jy probleme.
“Dan is ons spaargras op. Dit is wanneer ons die diere van die veld moet afhaal en in die kraal sit, wanneer die rysmiere méér opvreet as wat opkom en die natuur se verwering groter as plantproduksie is. Dit gebeur ná twee jaar van droogte.”
In Desember 2018 sê mnr. Peter Knoesen van Steytlerville dit sal sowat tien jaar duur vir die veld om te herstel. “Jy moet dit kans gee om saad te skiet en dig te word . . . elke bossie het sy eie blom en dratyd.”