Landbou Weekblad 100

Die boer en sy bakkie

-

Die trekos is lank gelede vervang met meganiese werktuie. Ou bekende osname, soos Vuurslag, Janbloed en Stuurman, duik egter nog in ons taal op. In 1976 vertel prof. Felix V. Lategan hoe

trekosse hul kleurryke name gekry het.

Die Arabier het sy perd gehad, die Laplander sy rendier en die Afrikaner sy os. Die boer se unieke verhouding met die os word weerspieël in die name wat hy aan dié geduldige kragdier gegee het.

Dit getuig van die os se karakter en openbaar die gees van die boer – sy gemoedelik­heid, fyn waarneming­svermoë, beeldende taal en sy liefde vir die musikale woord. Sy humorsin word ook verbeeld. Daar was ’n boer wat sy behoefte om sterk taal te gebruik met sy vrees vir ’n vermaning van die leraar versoen het deur sy twee agterosse Donder en Bliksem te noem!

Nie sommer enige os het die naam Janbloed, Haelveld, Vastrap, Skilpad, Ryperd, Stryker of Maerland gekry nie. Watter gevoel van krag beeld die agteros-name Ysterberg en Domkrag nie uit nie! En watter vurigheid straal nie uit voorosname soos Storm en Wegstap, Vuurslag en Vlam nie!

Pleks van gewone kindervers­ies het Afrikaanse kinders osnaamrymp­ies geleer. ’n Tante van my vader kon nog dié rympie uit haar kinderjare opsê: Jager en Kriger; Smelt en Tiger; Reter en Roos; Skilder en Matroos; Doortjie en Lap; Poortjie en Pap; Fluit en Beskuit.

’n Os het sy naam by drie geleenthed­e gekry: By geboorte, of kort daarna in die kalwerhok; wanneer hy as ’n jong os onder die juk geleer word; of wanneer hy as geleerde os ’n nuwe baas kry.

Kry hy in sy kalwertyd sy naam, gee sy uiterlike voorkoms, kleur of die wyse waarop sy velletjie gemerk is gewoonlik die deurslag. Soms kry hy ook ’n naam weens sy gedrag in die kraal of na aanleiding van ’n voorval wat met sy geboorte saamval. So ontstaan name soos Vaaltyn, Skiller, Rinkhals, Kwaaiman, Runderpes en Hansman.

Met die leer van die jong os sien sy baas sommer gou van watter stoffasie hy gemaak is, en of hy voor of agter moet trek, hot of haar; of hy lyf wegsteek of vasvat; en of hy gehoorsaam is of beduiweld is. Sy karakter besorg vir hom sy naam. Só ontstaan name soos Stryker, Hot, Skilpad, Vastrap, Makman en Willeman.

BETEKENIS

Osse se name kan ingedeel word volgens die verskillen­de faktore waardeur hulle bepaal word.

’n Voorval of historiese gebeurteni­s kan byvoorbeel­d die naam bepaal. So het die eienaardig­e osnaam Gooi-die-hoed ontstaan toe ’n boer hom van die horings van ’n stormende jong os gered het deur sy hoed voor die verwoede dier te gooi.

Die geaardheid, temperamen­t of houding van die os, of sy geskikthei­d as trekdier, bepaal dikwels sy naam. Kwaaiman en Warmberg laat hulle byvoorbeel­d nie maklik tem nie. Wildeman (Willeman) word nooit heeltemal mak nie, terwyl

Makman hom gou onderwerp. Engeland is ’n kwaai rooi os en Rusland is dikwels moeilik om mee te werk. Hoogmoed het ’n trotse houding en Spogter is aan hom verwant.

Wiegman loop ’n wieggang, wat veral deur sy lang weglê-horings beklemtoon word. Vuurslag en Vlam is wakker voorosse. Wakkerman slaap nie en Jongman is ’n mooi os. Stryker stap en trek goed voor. Wegstap en Storm is sy maats. Vastrap is ’n staatmaker-agteros, terwyl Gesels, wat hotagter trek, die drywer se ou maat is.

Elke os het sy vaste plek en werk in die span. So kry ons voorosname soos Stryker en Spogter, Wegstap en Storm, Vuurslag en Vlam, Voorhouer en Landhouer en die klankryke bergname, soos Winterberg en Tierberg. Tipiese agterosnam­e, soos Vastrap, Ysterman, Domkrag en Blokland, spreek van krag en vastigheid.

MOOI KLANKE

Hot (links) en haar (regs) dui plekke weerskante van die disselboom of trektou aan. Buffel en Bantom klink mooi saam. Makman en Gesels verraai die intimiteit tussen die agterosse en die drywer, wat die naaste aan hulle loop en met wie hy sommer maklik kan gesels terwyl hy met die voor- en naasvooros­se al taamlik hard moet praat.

Die betekenis van die naam is dikwels ondergeski­k aan die klank. ’n Ou transportr­yer het verduideli­k ’n “vooros se naam

moet ’n lang trek hê, soos in Vryst-a-a-a-t! Dit moet lekker goed kan dra.”

Baie voor- en agterosnam­e is van werkwoorde afgelei. ’n Mooi voorbeeld is die naam Optel vir ’n agteros, wat die disselboom moet optel. Die name dui ook op die eienskappe van vooren agterosse, naamlik spoed, ratsheid en skerpsinni­gheid by voorosse en krag, geskikthei­d en betroubaar­heid by agterosse.

Die meeste osse het ’n naam gekry danksy ’n buitengewo­ne uiterlike kenmerk. As veldmense is boere fyn waarnemers en kan hulle osse danksy verskillen­de eienskappe onderskei, waaronder kleur, die wyse waarop die vel gemerk is, die os se liggaamsbo­u en sy horings.

Die volgende is voorbeelde van name gegrond op kleur, velpatrone en liggaamsbo­u: Rooi: Janbloed, Rooiveld, Roman (Rooiman), Rooiland, Lig-man, Engelsman en Engeland (in oordragtel­ike betekenis). Swart: Potberg, Swartland en Swartbooi.

Geel: Seeland (Geelland), Geelman, Goudveld en Geelbek. Vaal: Vaaltyn (die Voortrekke­rs het glo altyd die vel van ’n vaal-vuil os vir goeie rieme uitgesoek).

Bruin: Donkerberg en Donkerland.

Bont: Haelveld, Skiller, Skilderber­g (Skillerber­g), Tierberg (’n rooi skiller), Blom en Bontberg.

Kol- of lapvorme: Kolberg, Blesberg, Blesman, Bles, Hartman, Appel, Blom, Vlam, Vlek, Lap en Laksman (Lapman). Streepvorm­e: Rinhals (Ringhals), Kolbroek (’n wit streep agter oor die boud), Kruisman (’n streep oor die kruis) en Broekman.

Groot, sterk osse: Blokland, Ysterman (-berg), Domkrag, Rondeberg en Tafelberg. Kleinerige osse: Kortman en Kleinveld.

Skraal, maer osse: Ryperd en Riemland. Liggaamsbo­u: Pistool (’n os met ’n stompstert) en Skeeloog. Die trots van die os is sy horings en dit het tot baie name gelei, soos Regop, Links, Kappie, Vlakveld (waarvan die horings vlak weglê), Wiegman (met lang weglê-horings), Agteroor en Vooroor (osse waarvan die horings agter- of vooroor buig).

Baie osse het persoonsna­me, soos Stegman en Reyneveld. Hierby kom ander persoonsaa­nduidings, soos Kaptein, Korporaal, Luitenant, Generaal, Matroos, en baie name wat met “man” eindig, soos Koopman, Stuurman, Seeman, Vryman, Rademan, Lierman en Soosman.

’n Goeie voorbeeld van Suid-Afrikaanse osname is ’n lys wat mev. Judith Pellisier opgeteken het in haar dagboek van die Ossewatrek van 1938.

Sy en mev. Annie Jackson het boekgehou van al die osse wat die Andries Pretorius- en die Vrou-en-moeder-wa van onderskeid­elik Graaff-Reinet en Colesberg tot in Pretoria getrek het. Die spanne is gedurig verander en vars spanne is gekry uit die kontrei waardeur die waens getrek het. Altesame 66 spanne is gebruik.

Die algemeenst­e name onder die 718 osse (met die aantal kere wat die naam voorgekom het tussen hakies) is: Janbloed (23), Vrystaat (16), Ligman (16), Wiegman (15), Donker (14), Hoogmoed (14), Spogter (14), Jintelman (12), Kwaaiman (10), Regop (10) en Akkerman (9).

As iemand skaars name aan ’n os wil gee, kan hy die volgende gebruik (dit het net een keer op die Pretorius-trek voorgekom): Voorhouer en Weglê (vooroor), Boessak en Masoes (op ses voor), Skinker en Bakker (op ses agter), Remskoen en Jammerlap (naasagter) en Blaasbalk en Seekoei (agter).

Hierdie artikel het in 1976 verskyn. Prof. Felix V. Lategan het in daardie stadium gereeld oor kultuurges­kiedenis en vuurwapens geskryf.

 ??  ?? 1976 ’n Volledige span osse soos van die drywer se kant af gesien, geteken deur Johan van Niekerk.
1976 ’n Volledige span osse soos van die drywer se kant af gesien, geteken deur Johan van Niekerk.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa