Boere trek, want die skape moet wei
Trekboerdery is so oud soos die landbou. “Vry” seisoenstrekke was algemeen in die Noord-Kaap van die laat 1700’s tot vroeë 1900’s. In dele van Namakwaland, die Hantam
en Karoo trek boere nog tussen winter- en somerweiding, skryf Amelia Genis.
Gerugte van reën in die Boesmanland versprei vinnig. As dit goed gereën het, sal boere ná ’n paar dae gaan kyk of die graspolle lewe begin kry. Nóg tien dae later sal lorrievragte skape uit die Hardeveld en Sandveld die Kamiesbergpas uitry, die Boesmanland toe, gras toe.
Dan bly hulle daar tot sagte winterreën in die Hardeveld en Sandveld val.
Dis hoe daar deesdae met vee getrek word as die reën op sy tyd kom. “As jy dit nie kan doen nie, moet jy minder diere aanhou, voer saai of koop,” sê ’n boer.
Boere van die Kamiesberg, waar die winter kapokkoud raak, trek in die winter berg-af, na die “warmer” winterplase.
Boere van die Hantam, Rogge
veld en Sentraal-Karoo trek ook nog. ’n Boer van Middelpos sê hulle trek Roggeveld toe ná die winterreën. “Januarie-Februarie trek ons terug Karoo toe.” Hulle trek met die skape op vragmotors, want skape wat op die hoef trek, neem lank om te herstel. “As ons nie trek nie, moet ons baie minder vee aanhou en sou ons nóg swaarder gekry het met die droogte.”
Kommersiële boere het die veetrekstrategie by die Namakwas afgekyk. Volgens dr. Lita Webley, ’n onafhanklike argeoloog, is troppies skape 2 000 jaar gelede al in Namakwaland aangehou. Ontdekkingsreisigers en sendelinge se geskrifte uit die 17de tot 20ste eeu toon die Namakwas het met beeste, skape en bokke tussen die Kamiesberg (somer) en die laaggeleë Sandveld (winter) getrek. Soms het hulle ook die Boesmanland toe getrek om ná donderweerreën hul vee op die gras te laat wei.
Tussen 1847, toe die Britse koloniale heersers die Kaapprovinsie se noordelike grens tot by die Oranjerivier verskuif het, en die 1940’s lê groot trekstories wat dr. Piet van der Merwe, toenmalige dosent in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, gelukkig met fyn besonderhede opgeteken het. Sy trek-trilogie is ’n rekord van ’n tyd toe die Boesmanland as terra nullius (niemandsland) beskou is en boere met grond en vee én die wat net vee gehad het, die gebied deurkruis het agter weiveld aan. Sy artikels wat van 1951 tot 1953 in Landbouweekblad verskyn het, beskryf die redes vir trek:
“Plase was nie omhein of in kampe verdeel nie, met die gevolg dat boere nie veld vir droogtes kon spaar nie. Daar was ook minder drinkplekke vir die vee, wat onekonomiese gebruik in die hand gewerk het.
“Baie boere was verder heeltemal afhanklik van fonteine, stroompies en ander watervoor
Die uitgeslape trekboer het dit reggekry om maande aaneen te trek sonder om ’n pennie vir water of weiveld te betaal.
rade, wat in droë tye opgedroog het, sodat hulle dikwels as gevolg van ’n gebrek aan water moes trek . . . al was daar nog genoeg weiveld vir die vee.”
Boere het uit noodsaak getrek, maar opportunisme was algemeen: “Al het die skepputs miskien nog water gehad, wie wou nou met ’n waterskeppery sukkel as daar elders gereën het en daar oop waters was?”
Teen die einde van die 19de eeu en die begin van die 20ste eeu het heelparty boere in die Noordweste nog nie permanente huise of veel geriewe gehad nie, en maklik getrek, skryf Van der Merwe: “Partykeer was veld . . . sommer nog mooi, dan het hulle al van droogte gekla en getrek. Hulle was gewoond aan die treklewe; ook om na . . . trek as die maklikste oplossing vir alle moeilikhede te gryp.”
Die beskikbaarheid van alternatiewe weiveld het die ontwikkeling van plase gestrem, want “toe trekkanse nog haas onbeperk was”, het die “gemiddelde boer” min aansporing gehad om sy plaas so te ontwikkel dat dit nie nodig was om weg te trek nie.
Van der Merwe beskryf die Boesmanlanders as “baastrekkers”, wat “agter die reën aan” getrek het. “Sodra dié klas boer van groen veld hoor, het hy daarheen getrek.”
Hulle het glo die wolke met arendsoë dopgehou en donderweer so goed geken dat dit nie nodig was om ná reën iemand te stuur om te gaan kyk hoe dit gereën het nie. “Hulle het my vertel van ’n oubaas wat sy hand vol klippies gemaak het as hy ’n bui sien uitsak. Sodra die blits wys, het hy begin klippies aftel totdat hy die slag hoor. Dan kon hy haarfyn sê waar dit gereën het en watter vlei water het.”
Dit was die jare van “vry trek”: “Dit het weinig verskil gemaak of so ’n vlei op kroongrond was en of dit op ’n plaaseienaar of pagter se grond gelê het. In die eerste geval het almal daar eweveel reg gehad. In die tweede geval kon ’n mens daar vas op reken dat jy gehelp sou raak, net soos jy ander help as jou vlei water kry.”
Die uitspanning van “veertig tot vyftig trekke” en “80 000 tot 100 000 kleinvee” wat by ’n vol Boesmanlandse vlei suip, was blykbaar ’n geordende besigheid met veesuipbeurte en “’n pad van die water na die weiveld” vir elk.
WINTERTYD WAS ‘UITLÊ-TYD’
Wes van die Boesmanland lê die Kamiesberge en Namakwaland. Boere daar het in die winter- en lente met hul vee gaan “uitlê”.
“Die boer op die Kamiesberge is deur koue en sneeu verplig om na laer streke te trek, veral omdat die winter die lamtyd was. Hulle het dikwels onder die berge ‘uitlêplase’ besit (net soos die boere van die Koue-Bokkeveld en Roggeveld ‘legplase’ in die Karoo besit het).”
“Uitlê” was ook daarop gemik om die hele plaas beter te benut en die vee van die lande af te hou: “Die meeste Namakwalanders het egter sommer op die buiteveld van hul plase gaan posstaan. Die bedoeling daarmee was om die buiteveld, wat meestal nie vaste water gehad het nie, in die reëntyd te gebruik. ’n Belangrike motief was ook om die vee van die (saai)lande, wat nooit omhein was nie, weg te hou tot die oes af was.”
Volgens Van der Merwe het die huisgesin saamgetrek en in matjieshuise gaan oorwinter. “Baie het die uitlê met vee as ’n soort jaarlikse vakansie beskou.”
TREK NOUSTROP IN DIE ‘GORREL’
Die kolonisasie van die ou trekveld het rondom 1800 begin en die doodsklok vir die gebruik van “vry trek” begin lui: “Soos die plase een na die ander uitgegee is, het die Trekveld gekrimp tot daar lateraan nog net in die middel van die huidige Boesmanland ’ n stuk kroongrond oorgebly het. Dit het gelê waar die magistraatsdistrikte van Namakwaland, Calvinia en Kenhardt bymekaarkom. Dit is Vrybult genoem en daar kon ’n mens tot onlangs toe nog die ouwêreldse treklewe te sien kry. Omstreeks 1938 is die laaste stukkie van die Vrybult uitgegee en daarmee het die ou Trekveld verdwyn.”
Kroongrond is uitgegee tot “elke vlei of fontein in die ou Trekveld sy baas gehad het”. Die trekboere het al hoe meer van grondeienaars afhanklik geword. Nie alle trekboere was “redelik en fatsoenlik” nie. Daar was trekboere wat nie “veld sal huur as hy dit kan help nie” en “oorlas en ergernis” veroorsaak het: “Die uitgeslape trekboer het dit partykeer reggekry om maande aaneen te trek sonder om ’n pennie vir water of weiveld te betaal. Hy trek maar gedurig stadig weg asof hy op pad is na veld wat hy vorentoe gehuur het, maar wat hy nooit bereik nie. Hy trek al die paaie vol, heen en weer, kruis en dwars, steel snags veld as dit nodig is en raak astrant as hy gevang word.”
Om hulself te beskerm teen trekvee en die gebruik van sommige reisigers om hekke te laat ooplê, het grondeienaars die trekpaaie oor hul grond afgekamp.
“Dit was die laaste spyker in die doodkis van die trekboer. In die Boesmanland noem die boere so ’n afgekampte pad ’n ‘gorrel’ omdat dit net so moeilik gaan om ’n trop vee deur so ’n nou keelgat te kry as om ’n ding wat te groot is deur jou keelgat te kry.”
Hoe meer trekpaaie afgespan is, hoe moeiliker het dit geword om deur die gorrel te kom.
“Nadat ’n paar troppe vee deur ’n gorrel gegaan het, is daar niks te vreet vir vee wat later kom nie. Waar lang stukke van die trekpad gegorrel is, het die trekkery met vee byna onmoontlik geraak.”
OOR WATER EN DEUR DIE WOESTYN
Landbouweekblad het ook oor ander “trekke” geskryf.
Om by die sappige opslag van die duineveld naby Stilbaai uit te kom, moes boere van Riversdal hul skape op die pont jaag om hulle oor die Goukourivier te kry, skryf Landbouweekblad in 1957. Die uitgawe van 5 Maart berig “elke boer in die distrik Riversdal smag daarna om ’n duineplaas te besit, maar dit is net nie te koop nie, want dié wat dit het, hou dit vas soos ’n kosbare kleinood”.
Van dié boere merk op “as ons nie ook hierdie plase gehad het nie, sou ons nooit al ons skape deur die jaar kon kry nie”.
Voor die pont in 1904 gebou is, het die boere hul skape “sommer deur die rivier laat swem”, of met “gewone platboomskuitjies” na die ander kant geneem.
Die wel en wee van boere in buurlande het Landbouweekblad ook nie ontglip nie. Boere van die Ghanziblok in Botswana se “meedoënlose trek” na die naaste slagplaas op Lobatsi – “800 km ver” – is ’n “lang trek deur ’n leë, bar wêreld”.
In 1972 berig Landbouweekblad dat die diere nie meer die afstand te voet aflê nie, maar omdat die pad “in werklikheid net ’n sandsloot is”, kan hulle nie meer as 12 groot osse op die vragmotor laai nie. “In baie gevalle ry die boer vooruit met konkas diesel, water, noodwiele, kos, beddegoed en ’n aantal beeste. Sy vrou, soms met ’n klein baba en ander kinders, kom met nóg ’n vragmotor vol water, brandstof en beeste agterna.”
KONSEP NOG NIE UITGEDIEN NIE
Die vraag ook in die res van die wêreld is of veebeweegbaarheid ’n verouderde praktyk is en of dit die grondslag vir volhoubare veeboerdery in die toekoms is. Die geleentheid om te trek, help boere in droë gebiede om by veranderlike ekostelsels aan te pas en risiko te bestuur, meen dr. Maryam Niamir-Fuller, samesteller van die boek Managing mobility in African rangelands: The legitimization of transhumance.
Plantkundiges, soos prof. Susi Vetter van die Rhodes-universiteit, en ekoloë, soos dr. Igshaan Samuels van die Landbounavorsingsraad, meen veebeweegbaarheid bied hoop vir Suid-Afrika se ekstensiewe weigebiede waar die plek en tyd wat weiveld beskikbaar is, baie wissel.
“Toegang tot sleutelhulpbronne, soos vleie en rivieroewers, saailande of weigebiede met permanente water in die droë seisoen, is belangrik vir die oorlewing van vee. Dit moet egter aangevul word met die beweging van vee tussen weigebiede in die nat seisoen om die oorbenutting van ’n paar, maklik bereikbare gebiede te voorkom.”