Landbou Weekblad 100
Daar’s water!
Water, die lewensaar van die landbou, is seker die onderwerp waaroor Landbouweekblad die meeste skryf. Daar is in bykans elke uitgawe iewers ’n waterstorie: Oor plaasdamme, besproeiingsplanne, leivore, erosie, boorgate, waterwysers . . .
21 Februarie 1951 Mnr. Daan Burger van Kuruman maak reg om ’n string pype en ratte uit ’n diep Kalahariboorgat te trek. Dié moeilike werk verg donkies of vragmotors. Die staalkabel waaraan hulle trek, werk oor ’n katrol wat op die grond vas is. FOTO: DR. P.J. VAN DER MERWE
6 Junie 1951 In ons haastige, gejaagde wêreld is daar deesdae nie meer plek vir die perdemeul, windmeul en watermeul nie. Net ’n paar watermeulens het bewaar gebly. Besoekers aan die Kangogrotte naby Oudtshoorn het al hierdie meul regs van die pad daarheen gesien.
2 Julie 1968 Water blink in die 30 damme op mnr. Flippie Kotze se plaas Boland, Jamestown, in die OosKaap. Hy verbind die damme met kontoervore met mekaar om die waterafloop te verdeel sodat geen stroom sterk genoeg is om verspoeling en dongaerosie te veroorsaak nie.
20 September 1966 Die lewensbloed van die suikerstreek tussen Kaapmuiden en Komatipoort vloei hier na mnr. Faan de Villiers se plaas La Rochelle by Malelane. Danksy die Krokodilrivierskema het dié streek soos handomkeer verander en ’n suikertapyt rol oop!
15 Maart 1966 Die bogrond van altesame 330 plase van 1 000 morg (amper 860 ha) elk spoel jaarliks see toe. Dit is skrikwekkend as ons die relatiewe min landbougrond van SuidAfrika in aanmerking neem. Dié reusagtige donga by Senekal is skreiende getuienis van die verlies.
15 Julie 1953 Die Loskopdam het destyds ’n inhoudsvermoë van 6 400 miljoen kubieke voet water (sowat 181 miljoen m3) gehad en het nagenoeg 2 miljoen pond gekos om te voltooi. Sowat 25 000 morg (21 420 ha) is uit die dam besproei. FOTO: L.J. LÖTTER