Boere ken van sports
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is een van die oudstes in die Nuwe Wynwêreld. Deur die eeue was daar baie hoogtepunte, swaarkrytye, deurbrake en
innovasie, skryf Lucille Botha.
DIE GEBOORTE VAN DIE SA WYNBEDRYF
Landbouweekblad was weliswaar nie in die ronde toe Jan van Riebeek-hulle die eerste druiwe aan die Kaap op 2 Februarie 1659 gepars het nie (anders kon hy sommer sy onsterflike woorde “Hede is Gode Loff van de Caepse druyven d’eerste mael wyn gepaerst” aan ’n Landbouweekblad- joernalis vertel het, pleks van in sy dagboek neerskribbel). Deur die dekades het die tydskrif egter graag dié grootse gebeurtenis gedenk.
Landbouweekblad was natuurlik in 1974 onder die 200 gaste wat aan vonkelwyn geteug het tydens die eerste herdenkingsgeleentheid van dié geskiedkundige gebeurtenis. Dis op Groot Constantia gevier met ’n swierige noenmaal waar mnr. Hendrik Schoeman, destydse minister van landbou, gasheer gespeel het.
Sedertdien is die herdenking op Groot Constantia ’n jaarlikse instelling op die wynkalender, en ’n spesiale 1659-erepenning word ook deesdae oorhandig aan mense wat ’n groot bydrae tot die bedryf gelewer het.
PINOTAGE VERSKYN OP DIE TONEEL
Pinotage kan met reg as Suid-Afrika se eie, inheemse druifkultivar beskryf word. Prof. Abraham Izak Perold, wingerdbouprofessor by Maties, het dit geteel uit Pinot noir (dikwels beskou as die “moeder” van Pinotage) en Hermitage (oftewel Cinsaut, die “pa”). Die eerste saad daarvan is in 1925 in sy tuin op die universiteitsplaas Welgevallen geplant. Die plantjies is byna vernietig deur goedbedoelende werkers wat die tuin moes skoonmaak, maar gelukkig het die dosent mnr. Charlie Niehaus net op daardie oomblik op sy fiets verby gery en ingegryp.
Die eerste Pinotage-wingerd is in 1943 kommersieel op Myrtle Grove, naby Sir Lowryspas, geplant. Daarna het Uiterwyk, Bellevue, Kanonkop en Meerendal sy voorbeeld gevolg. Die eerste gebottelde Pinotage – Lanzerac Pinotage – is in 1959 gemaak en in 1961 bekend gestel. Dit was ’n versnit van Bellevue- en Kanonkop-Pinotage.
In 1991 is mnr. Beyers Truter se Kanonkop Pinotage 1989 as die wêreld se beste rooiwyn aangewys op die internasionale wyn- en spiritualieëkompetisie in Londen, Engeland.
WÊRELD OP HOL OOR LIEBERSTEIN
In 1959 is ’n semisoet, natuurlike tafelwyn bekend gestel wat een van die grootste suksestories in die Suid-Afrikaanse wynbedryf sou word – en tot vandag nog nie weer nagedoen kon word nie. Binne vyf jaar het Stellenbosch Boerewynmakery altesaam 31 miljoen liter Lieberstein verkoop, wat dit in daardie stadium die wêreld se topverkoper-wynhandelsmerk gemaak het. Om te dink die wyn moes met die hand geëtiketteer word, daar was destyds nog nie tenkers beskikbaar om vloeistof (behalwe petrol) te vervoer nie, en botteleringsmasjiene het ook nie bestaan nie!
WYNTOERISME BEGIN
Tydens ’n vakansie in die Franse wynstreke het mnre. Frans
Malan van Simonsig en Neil Joubert (destyds van Spier) op ’n padteken met die woorde Route du vin (roete van wyn) afgekom. Dít was die vonk vir die stigting van die Stellenbosse wynroete in 1971, saam met hul goeie vriend mnr. Spatz Sperling van Delheim – die eerste tree na wyntoerisme in Suid-Afrika soos ons dit vandag ken.
Malan se seun, Johan, vertel in Landbou Boerekos (2014) hulle het nie soseer aan toerisme gedink nie, maar wou ’n mark skep vir hul wyn in ’n streng gereguleerde bedryf. En dit het gewerk, want Desembermaande het vakansiegangers die plase oorval, terwyl daar eintlik perskes en pruime geoes moes word (doerie tyd was gemengde boerderye ’n algemene gesig op Stellenbosch).
Sedert die stigting van die roete het die plase van krag tot krag gegaan en met allerhande slim planne vorendag gekom om besoekers te lok. Vandag bestaan die wynroete uit meer as 150 kelders (sommige met toprestaurante) en vyf kleiner roetes.
Simonsig is natuurlik verder bekend om Kaapse Vonkel – die eerste vonkelwyn wat volgens die klassieke metode aan die Kaap gemaak is – ook in 1971.
BETER KLONE INGESMOKKEL
In 1974 skryf mnr. Nicolaas Myburgh, eienaar van Meerlust buite Stellenbosch, van ’n “selfmoordbeleid” in die plaaslike wynbedryf en doen hy ’n beroep dat wingerdplantmateriaal in Suid-Afrika moet verbeter.
Myburgh was beslis nie die enigste gefrustreerde wynboer nie. Reeds sedert die vorige jaar het groot wyngeeste, soos mnre. Danie de Wet, Peter Finlayson, Sydney Back, Neil Ellis en Nicky Krone, planne beraam om stokkies na Suid-Afrika te smokkel – in alles van sokkies, sjokoladeboksies, wasgoed en selfs babadoeke.
De Wet het tot in 1981 daarmee volgehou, maar darem nie alles vir homself gehou nie – hy het ook stokkies aan die KWV voorsien! Anglo American het ook groot volumes ingesmokkel, baie daarvan uit Colmar, Frankryk, wat hy deur Swaziland ingevlieg het.
Mettertyd het daar verwarring oor kultivars en die identifikasie daarvan ontstaan. ’n Groot kwessie was toe Auxerrois as Chardonnay in Suid-Afrika aangekom het. In 1985 het landdros Chris Klopper die Klopper-kommissie gelei om dié jammerlike toedrag van sake te ondersoek.
De Wet moes in die hof getuig oor die oortreding van kwarantynreëls.
“Dit was vir my ’n sielkundige knock om in die hof te gaan staan en te getuig oor die één enkele onderwerp waaroor ek oortuig was dat ek die wynbedryf in Suid-Afrika ’n hupstoot gegee het,” het hy in 2015 aan Landbou Boerekos vertel.
Vandag bestaan daar geen twyfel nie dat hy die bedryf ’n groot guns bewys het. Toe die Chardonnay-golf oor die wêreld spoel, kon Suid-Afrika ’n aandeel daarin hê, danksy De Wet en Kie.
VRYSTATERS WIL WYNBOERE WORD
“Baie jare lank is wynbou as die geboortereg van Kaapland beskou, maar nou is hierdie tradisie stadigaan besig om te verval. Nou het die besproeiingsboere in die Suidwes-Vrystaat besluit dat hulle ook wil wyn maak,” skryf Landbouweekblad in 1972.
Die idee om in die Rietrivierskema wyndruiwe te verbou, het by mnr. Tobie Basson van Jacobsdal ontstaan. Die boere het natuurlik destyds gesukkel om kwotas te bekom, maar Basson het geglo as die boere organiseer in die Modder-Riet-druiwekwekersvereniging en daarop aandring, sou die “houding verander dat net in Kaapland wyn gemaak mog word”. Uiteindelik het die ringkoppe by die KWV die kwotas toegestaan.
In 1973 is die eerste vragte Vrystaatse druiwe aan ’n koöperatiewe kelder op Douglas gelewer. “Oor nog sowat vier jaar sal die groot vragmotors, hoog gelaai met die goue trosse, ’n baie algemene gesig op die paaie van die besproeiingskemas wees,” voorspel Landbouweekblad.
Destyds het die boere heelwat sultanas geplant wat vir wynbereiding aangewend, maar mettertyd aan die droogmark gelewer is.
Die rede vir die opbloei in dié gebied se wynbedryf was die hoë opbrengste en hoë wynprys – sowat R50 per ton. Die boere se somme het gewys teen daardie prys sou wyndruiwe die winsgewendste gewas in die skema wees. Dit sou beslis koring en aartappels klop.
Vandag word steeds wyn gemaak by die Landzicht-wynkelder op Douglas, wat druiwe aankoop van boere uit die Jacobsdal-omgewing (dit behoort aan GWK en is in 1975 gestig). Of die wynprys egter kan kers vashou by mielies en beesvleis, is debatteerbaar!
Deur die jare het Landbouweekblad ook verskeie artikels gepubliseer oor boere wat wyndruiwe met wisselende sukses in onder meer Namibië en Zimbabwe probeer verbou het.
SELDSAME WYNE ONDER DIE HAMER
Op die eerste Nederburg-wynveiling op 8 Maart 1975 is Nederburg Edelkeur saam met wyne van Delheim, Groot Constantia, Simonsig en Overgaauw opgeveil. Die gemiddelde prys per kis vir die 15 wyne was R19,21. In 2018 is 1 525 kiste wyn teen gemiddeld R3 444 verkoop.
Die Nederburg-veiling word deesdae in dieselfde asem genoem as Hospices de Beaune in Frankryk en Kloster Eberbach in Duitsland.
STOKKIESVEILINGS
Destyds was die jaarlikse stokkiesveilings ’n hoogtepunt op druiweboere se kalenders in die wintermaande.
Mnr. Nico Spreeth, uitvoerende hoof van Vititec, vertel die veilings is in ál die wingerdbou-distrikte aangebied en die kwekersverenigings en private kwekers het hul stokkies daar verkoop.
“Dit was ’n interessante era. Die stokkies is op die gras uitgepak, gewoonlik op die skouterrein, en dan deur ’n afslaer opgeveil, soos op ’n beesveiling. Daardie tyd was daar meer as ’n 100 kwekers in Suid-Afrika.”
In 1971 is ’n artikel gepubliseer oor die wingerdstokkiekwekersveiling op Worcester, waar mnr. Jannie van Rooyen as afslaer opgetree het. Met 700 mense wat dit bygewoon het en 1 miljoen stokkies wat suksesvol opgeveil is, was dit die grootste veiling van die jaar. Die hoogste pryse is behaal deur Frans op Jacques (R290 vir 1 000 stokkies) en Steen op Jacques (R280 vir 1 000 stokkies). Tafeldruifboere moes R390 vir Queen of the Vineyard op Jacques (1 000 stokkies) opdok. Die veilings het in die vroeë 1980’s tot ’n einde gekom. Die plantmateriaal was nie gekontroleer nie en die bedryf se sertifiseringskema is daarna ingestel.
WYNSKOUE BEGIN
Die Veritas-wynkompetisie, wat in 2018 ’n rekordgetal inskrywings van 1 677 wyne gelok het, het in 1991 ontstaan. Intussen is ’n kategorie vir brandewyn ook bygevoeg.
’n Ander plaaslike wynkompetisie, die SA Jongwynskou, is al in 1833 die eerste keer deur die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap (nou Agri-Expo) in die Tuine in Kaapstad aangebied. Dit word as die oudste wynskou ter wêreld beskou. Die Genl. Smuts-trofee is die kompetisie se hoogste eerbewys. Dis die eerste keer in 1952 oorhandig.
TOTSIENS AAN DIE KWOTASTELSEL
Die KWV, wat in 1918 gestig is, moes aanvanklik keer dat oorproduksie in die wynbedryf plaasvind en groot dalings in
pryse voorkom. Mettertyd het die KWV ál meer mag gekry en dekades lank basies die hele wynbedryf beheer – van plantmateriaal tot vloerpryse en kwotas vir wynproduksie.
In die grootste deel van die 20ste eeu was die mag in die KWV se hande gekonsentreer. Al wat boere moes doen, was om druiwe te produseer, wat aan koöperatiewe kelders verkoop is om mee wyn te maak. Die KWV sou dit dan bemark en verkoop.
Ongelukkig het dié stelsel hoeveelhede pleks van gehalte aangemoedig en nie die bedryf se beeld ’n guns gedoen nie. Boere se eie ambisie om met interessante kultivars of wyne te eksperimenteer, is onderdruk.
Dit het aangehou tot in 1992, toe die kwotastelsel laat vaar is. In 1994 is die minimumprysmeganisme ook laat vaar. Die KWV het in 1997 ’n private maatskappy geword. Ná die aanpassing van wetgewing is wynboere ook weer toegelaat om boetiekbrandewyn te maak.
NUWE LEWE VIR OU WINGERDE
Tans is daar tien wingerde in Suid-Afrika wat ouer as Landbouweekblad is! Dink net wat hulle die afgelope eeu moes deurstaan – wind, weer, oorloë . . .
Die ouwingerd-projek is in die lewe geroep om Suid-Afrika se sowat 2 618 ha ou wingerde te bewaar en vertroetel (’n wingerd moet minstens 35 jaar oud wees voor dit as ’n ou wingerd geklassifiseer kan word).
Die indruk bestaan dat heelwat van hierdie wingerde wyne oplewer met ’n unieke karakter en dimensie – en internasionale kritici stem volmondig saam.
Me. Rosa Kruger, wingerdboukundige wat aanvanklik na die bedryf se grootjies begin soek het, is veral trots daarop dat hierdie wingerde, wat dikwels baie klein oeste oplewer, ook die deur oopgemaak het vir beter druiwepryse vir wynboere. Dis die enigste manier hoe die wingerde in die grond gaan bly en die aandag kry wat dit verdien.
’n Belangrike deel van die projek se navorsing is om uit te vind waarom sekere wingerde so oud kon word en hoe om nuwe wingerd aan te plant sodat dit die potensiaal het om ou bene te maak (dis mos goed vir die sak ook!).