Landbou Weekblad 100 Ons veeboere 2019-05-01 - Die Britse spotprenttekenaar Charles Barry, wat ’n ruk in Suid-Afrika gebly het, het in die laat 1920’s gesiene skaap- en beesboere virLandbouweekblad geteken. Die ervare sakeman sir Lionel Phillips van Vergelegen, Somerset-Wes, het ’n Jersey-kudde uit louter liefhebbery begin en dit ’n goeie geldbelegging gevind. Sy kudde lewer bekende diere op. Mnr. W.J. Diesel van Dieseldene, Bloemfontein, is ’n kranige beesboer wat sy Rooi Poenskoppe elke jaar op die Sentrale Tentoonstelling vertoon. Hy is altyd gewillig om ander boere by te staan. LINKS: Mnr. H.J. Minnaar van Wanganella, Graaff-Reinet, kom uit ’n streek en dra ’n naam wat mens aan goeie skape laat dink. Hy meen egter dat niemand kan maai wat ’n ander gesaai het nie, en wy hom nougeset toe aan sy eie boerdery. BO: Mnr. L.J.S. van Jaarsveld van Droogefontein, Dordrecht, vertrou in die Bruin Switser. Hy is ’n boerseun in voorkoms en temperament en beskou alles kalm en bedaard, selfs groot teleurstellings. BO: Mnr. Lebo du Plessis van Fauresmith raai jong boere aan om skaapboerdery aan te pak al ondervind hulle moeilikheid. Swaarkry is onvermydelik. Maar die leuse bly geld: Aanhouer wen. Dit is alleen deur volharding dat Suid-Afrika se voorste skaapboere kon kom waar hulle vandag staan. LINKS: Kommandant J.J. Swanepoel van Juta, Smithfield, se diere, pragtige voorbeelde van Afrikaners, verskyn sonder name op die Bloemfonteinse tentoonstelling – net so van die veld aangekeer. BO: Mnr. H. Johan van Aarde van Delectus, Bloemfontein, was die eerste om Guernsey-beeste na die Vrystaat te bring. Hy sê dié ras is “’n sieraad op die werf, ’n goeie melkdier en so mak soos ’n lam”. Skalk W. Vorster van Buffelsvlei, P.K. Rosmead, het in 1911 met stoetteling begin. Hy het ’n oog vir die beste, soos die beroemde ram Klein Jan wat hy met die hand uitgesoek het.