Vasbyters vat die langpad
Van reg oor Suid-Afrika het hulle
gekom: Boerperde, Arabiere, vyfgang-skoumerries, kruisrasse, Volbloed-renperde, polisieperde, afstammelinge van wilde woestynhingste . . . De Aar toe, na die land se eerste perdemarathon. Heléne Booyens vertel.
Ou maat, kyk hoe lyk hierdie klip van ’n vosperd,” spog Hannes van Wyk van Riversdal oor sy kruisrasperd, Panchito. “Hy het ’n asem soos ’n span osse. Sy hele voorlyf is vol longe geprop. En kyk daai neusgate . . . jy kan ’n hele tamatie in elkeen druk.”
Só begin Suid-Afrika se perdeliefhebbers gesels en grootpraat in Landbouweekblad in 1965. Ná maande se oor-enweer-geskrywery oor die uithouvermoë van verskillende perderasse het die tydskrif met die samewerking van die Richmond-skougenootskap en die steun van die Boerperd- en Saalperd-telersvereniging die land se eerste formele perdemarathon gereël: ’n Tweedagrit van 126 myl (200 km) van Hanover, deur De Aar, tot by Richmond.
In die maande voor die wegspring reis Landbouweekblad- joernaliste reg deur die land om deelnemers en hul perde te ontmoet.
“As daar een ding is wat ’n perd se uithouvermoë toets, is dit om van die oggend tot die
aand springbokke aan te keer,” redeneer Thys Liebenberg van Verborgenfontein by Richmond oor sy Saalperd-renperd-kruising, Joodsak. “As hy ’n hele dag teen ’n stywe pas tussen die ysterkliprantjies kan uithou, is 126 myl gelykpad soos ’n verebed ná ’n plankvloer.”
Op die plaas Rhenosterfontein, naby Porterville, maak Isak Burger agt perde fiks, onder meer Japie, Springbok, Pollie, nog ’n Japie en Vrede, “’n knol van onbekende herkoms, maar jy kan hom van die môre tot die aand ry, en dan weet ruiter en perd geeneen dat daar gery is nie”.
En op Murraysburg waarsku sersant E.J.C. Smith dat ’n mens uit die pad van die gereg moet bly, want sy patrollieperd, Brandwag, kan 12 dae aaneen patrollie ry.
Nie almal is egter vol bravade nie. Willem Grobler, ’n jong vrygesel van die plaas Modderfontein by Charl Cilliers naby Standerton, ry ’n onervare Boerperdjie, Blydskap. “Ek het ’n spesmaas hy is te jonk en ek te swaar. En moenie vir my vra wie sy ouers is nie – sê maar sy ma was ’n sport en sy pa was ’n traveller.”
Willem het vroeër roem behaal op Standerton se skou toe hy homself as ’n damesruiter ingeskryf het – uitgedos in ’n rok, breërandhoed en rooi lippies.
Hy is nie die enigste bekende gesig nie. Jamie Uys-filmproduksies het ’n rolprentster, die 26-jarige Vonk de Ridder van Voor Sononder en Kimberley Jim- faam, ingeskryf. “As Vonk besluit om ’n ding te doen, het hy die deursettingsvermoë van ’n bosluis wat ’n kuilvoertoring uitklim,” berig Landbouweekblad.
Vonk (oorspronklik bekend as Danie van Rensburg) sou later die fotoboekie-held Ruiter in Swart word.
MET REWOLWER EN TIERVELHOED
Kort voor die Landbouweekblad- uithourit bied die Georgeskouvereniging, onder leiding van Awie de Swardt, in Februarie 1965 sy eie toetslopie aan. Dié strawwe roete oor 126 myl begin op George, steek die Outeniquaberg twee keer oor, kruis die Kammanassieberg en loop dan oor die ou Montagupas terug George toe.
Ná 75 myl loop drie bittereinders voor: Die 10-jarige Eben Jansen, sy ouboet, Koot, en Nic Jacobs. Nic, ’n jong boer en stenemaker van Renosterhoek, Rustenburg, was 17 jaar laas in die saal, en het ’n week voor die rit ’n ongeoefende kruisrasperd, Pirate, vir R150 gekoop. Hy ry met “’n tiervelhoed op die kop en ’n rewolwer aan die heup”.
Nic besef gou dat klein Eben se lae gewig ’n groot voordeel is, en praat hom bang met ’n storie oor al die luiperds in die Montagupas. Die seuntjie onttrek hom uit vrees.
Ná altesame 28 uur en 20 minute steek Nic die wenstreep oor, klim windmakerig van sy perd af, vat aan sy sitvlak, en vra om ’n glas water.
AANHOUER WEN
Uiteindelik breek die groot perdemarathon aan.
Altesame 145 perde is sowat 25 500 myl per spoor en 57 600 myl per vragmotor van oor die land aangery. Sieraad, Mossie, Kaaltoon, Klawer, Ben
Hur, Boesman, Rommel, Rooibok en dosyne ander spring op Hanover weg om eens en vir altyd te bepaal watter perderas die taaiste is.
Die Arabierperde het toe net-net geseëvier: Die volgende middag, ná altesame 13 uur en 9 minute in die saal, jaag Boet Ferreira van Patensie met ’n wit Arabiermerrie, Lorraine, oor die wenstreep, skaars ’n halwe lengte voor die 11-jarige Josef Huyzers van Derby.
PAD VAN DIE DOOD
Een jaar ná Landbouweekblad se eerste formele uithourit is nog ’n tweedag-perdemarathon op De Aar gereël. Altesame 97 perde het op die skouterrein bymekaargekom. Net elf sou ongeskonde huis toe gaan.
“Wie kon voorspel dat 7 en 8 Oktober 1966 gebrandmerk sou word as twee van die bitterste dae in ons perdewêreld se geskiedenis?” lui Landbouweekblad se nuusberig. “Die hartverskeurende tonele, die pyn, die woede – twee dae van afgryse was dit.
“Kort ná die eerste ryskof het die drama, wat reg deur die nag sou voortduur, begin toe die eerste perde siek geword het. Terwyl ’n warm suidewind fyn poeierstof laat neersif het, het ’n skimmelblou reun inmekaargesak en roggelend beswyk. Lank daarna het ’n vrou nog met sy kop op haar skoot gesit.”
Altesame 34 perde het omgekom. Dosyne ander was só afgetakel dat hulle “nooit weer perd sal wees nie”.
Wat was die oorsaak? Veeartse op die toneel het sabotasie deur nitraatvergiftiging of ’n soortgelyke middel vermoed; ander ’n gepeuter met die voer.
Een deelnemer, wat in die stalle geslaap het, het die aand voor die rit wakker geword toe sy perd ’n skielike snork gegee en hy ’n staldeur hoor oopgaan het.
Hy het ’n vuurhoutjie getrek en buite gaan kyk. Die staldeur, wat hy vroeër self toegemaak het, was van grendel af. Die perd in daardie stal het nie siek geword het nie, maar sy ander twee perde is kort daarna dood.
Kundiges van Onderstepoort het asoturie (Maandagmôresiekte) voorgestel, wat tipies voorkom wanneer perde ’n tyd lank goeie voer gekry het, dan ’n dag of twee rus, en dan skielik strawwe oefening kry. Die staatsveearts wat tydens die treurspel op diens was, het egter nie dié bevinding aanvaar nie – hy ken dié siekte, en die perde wat beswyk het, het nie dieselfde simptome getoon nie. Boonop is ’n hand vol perde wat nie eens weggespring het nie, óók dood.
’n Gerekende deelnemer wat vier topperde verloor het, het juis ’n week voor die wegspring sy diere De Aar toe gebring en hulle elke dag geoefen om Maandagmôresiekte te voorkom, want daarvoor “is hy so bang soos die duiwel vir ’n slypsteen”.
Die raaiseldood op De Aar is nooit opgelos nie, en formele nasionale uithouritte is eers jare later hervat. Manie, die anonieme rubriekskrywer van Landbouweekblad, het die treurspel só afgesluit: “Nou is die slag verby. Net die bitterheid en herinnering bly oor – om vertroetel en onthou te word totdat ook daaroor gras sal groei, want in hierdie perde se plek sal ander kom wat ewe diensbaar, edel en getrou is.”