Slim jakkalse
Veeboere verloor ’n allemintige R2 miljard per jaar weens roofdiere, berig Landbouweekblad in 2018.
Dit is kwalik ’ n nuwe probleem: Die Khoekhoen moes al planne beraam om hul vee teen roofdiere te beskerm en Jan van Riebeeck kla in Maart 1654 in sy dagjoernaal oor hoe baie skape die luiperds, leeus en jakkalse elke dag “wegdra en verslind”.
Sedertdien is allerhande planne beraam om veral rooijakkalse en rooikatte uit te roei.
Dr. Lance van Sittert van die Universiteit van Kaapstad se navorsing toon dat daar vanaf 1889 tot 1908 ’n beloning betaal is vir meer as 350 000 jakkalse
en 23 000 rooikatte wat doodgemaak is.
Tye het verander. Daar is onlangs vir die eerste keer ’n gesamentlike ontleding oor roofdierbedrywighede deur kundiges in die vee- en bewaringsbedryf gedoen.
Toe die boek Livestock Predation and its Management in South Africa: A Scientific Assessment in Port Elizabeth bekend gestel is, het prof. Graham Kerley, hoofskrywer en direkteur van die sentrum vir Afrika-bewaringsekologie by die Nelson Mandela Universiteit, gesê daar is tot nou klem gelê op roofdierbestryding, maar die klem moet eerder verskuif na roofdierbestuur.
“Om jakkalse dood te maak, gaan nie jou probleem oplos nie. Jy moet jou vee op ’n manier van hulle kan skei.”
Die roofdierbestuursforum wat in 2009 gestig is deur die Rooivleisprodusente-organisasie, die Nasionale Wolkwekersvereniging, Wildbedryf SA en Sybokhaar SA, is ’n voorstander van “geïntegreerde roofdierbestuur wat voorkomende en herstelmaatreëls insluit”, skryf Landbouweekblad in 2017.
“Daar is talle wettige metodes om sukses te verseker. Die instandhouding van heinings is die belangrikste aspek ten opsigte van roofdierbestuur.”
Deesdae is daar veeboere wat snags hul diere in die kraal jaag.
RUITERS EN HONDE
In die beginjare van Landbouweekblad is daar feitlik elke week oor roofdiere geskryf. Toe was “die skaapvanger” – of “vossie”, soos jakkalse met ironiese deernis genoem is – veeboere se grootste vyand.
Brieweblaaie van die 1920’s het gewemel van planne met “jakhalse”: Of dit nou gif, honde of heinings was. “Die hond is die beste,” skryf M.J. Human van Stormvlei, en “gee vossie gif,” reken D.P.A. Coetzee van Swinburne. “Die beste plan om vossie dood te kry, is om vinke te skiet en gif daarin te steek. Ek het al ’n hele paar só doodgemaak. Pas net op vir honde.”
Rooikat van Zastron laat weet hy “stem teen die inkampsisteem”, terwyl Oom Wessels van In die Hoek meen “elke man moet vossie op sy eie plaas uitroei”. A.P. van Boetsap skryf “die stok werk ook op vossie”. Sy vriend se seun kan vossie met ’n (waterwys)stok uit die gate haal. “Hy kyk met die stok en sê: “Hier is hy.” Toe haal hulle hom uit.
’n Briefskrywer meen in 1920 omheining is te duur en onprakties. Dit sal ’n “abnorme onkoste op die land werp en ’n hele klomp geld uit die land jaag, want dit is mos nie die boere wat die proefdraad maak nie. Dit moet dus van die uitlander kom en die geld gaan weer in die hande van die uitlander, direk uit die sak van die boere.”
Hy reken proefdraad sal nie in Gordonia, die Hay-distrik en Betsjoeanaland werk nie. “Myle aaneen is dit sandduine. Hoedat die klippe daar sal kom om dit onder proefdraad te sit, is vir my en seker vir baie ’n groot raaisel.”
’n Bloeddorstige Labuschagne van Oudtshoorn skryf “gifgooi en proefdraad is uitgaf, plus verdriet sonder inkomste. Om vir vossie oor gelyk vlaktes en
Konflik tussen mense en diere woed al eeue lank. Landbouweekblad het elke skoot in veeboere se stryd teen
roofdiere aangeteken, skryf Amelia Genis.
gladde bulte met die honde te jaag en dood te maak, is lekker. Dan voel ’n mens lus om al dag jakhalse uit te roei. Ons wil graag die jakhals tot niet maak, maar met honde gaat dit moeilik. Is daar nie ’n slim man wat kan uitvind wat die oom of neef van chloroform is wat die jakhals aan die slaap kan maak wanneer hy dit in aas kry? Dan kan hy mos so slapend doodgeslaan word.”
As alle plase omhein is, “verval die moeilikheid” en sal daar gou nie meer ’n teken van jakkalse wees nie, skryf C.J. de Klerk van Graaff-Reinet. “Daar is wel die moeilikheid dat almal dit nie kan bekostig nie. As almal gelyk is, sal elke man maar vir die helfte van sy plaas moet betaal en die voordeel sal die onkoste vergoed.
“Jakkalsproefdraad dien nie net om jakkalse uit te roei nie, maar verbeter ook die vee se kondisie omdat hulle los kan loop,” skryf De Klerk. Aangesien vee nie gedurig kraal toe en teruggejaag word nie, keer dit ook dat die veld vertrap word. “Vee is ook baie gesonder en groei beter wol as wanneer dit opgepas word.”
JAKKALSVLEISRANTSOEN
In die 1950’s en 1960’s was jakkalsjagte ’n gewilde manier om van die roofdiere ontslae te raak. Heelwat is geskryf oor die regte hond vir die jag.
In 1959 was mnr. Pieter Conradie, sy ryperd en agt van sy 19 “jakkalshonde” op die voorblad. Conradie van Werda, Worcester, was toe “een van die land se beste jakkalsjagters en ook ’n goeie wynboer”.
Sy teelhonde, almal afstammelinge van Panfontein en die Kaapse Jagklub se honde, was gewild. Van hulle word by Vrolikheid, die hondeteelstasie van die Kaapse provinsiale administrasie naby Robertson, gebruik.
“Om by jong honde ’n smaak vir jakkalsvleis aan te kweek, word die jakkals se vleis, half gekook, saans saam met die honde se basiese rantsoen van vis- en garsmeel gevoer.”
Hy het teefhonde as jaghonde verkies, aangesien reuns “dikwels traag is om jakkalswyfies in paartyd te vang”. Sy hondespan het vinnige én stadige honde ingesluit. Stadige honde vir hul “groter uithouvermoë en geskiktheid om skelm jakkalse te betrap – veral dié wat op hul spoor omdraai”.
“Hierdie jakkalsjagter het reeds meer as 4 000 skaapdiewe op sy kerfstok – danksy die goeie jaghonde wat hy teel,” skryf Landbouweekblad in 1966 oor mnr. Johannes Breytenbach van Volksrust. Breytenbach glo daar is nie iets soos ’n skelm jakkals nie, slim wel.
“Daar is jakkalse wat baie slimmer as mense is.”
Só slim dat jakkalsdraad nie meer doeltreffend is teen ’n jakkals wat wil skaap vang nie. “Jakkals se kind bestorm daardie jakkalsdraad soos ’n Kalahari-sandduin – bo uit en anderkant af!”
JAKKALSE IS TOE OMNIVORE
Navorsing waarin die inhoud van jakkalspense by die S.A. Lombard-natuurreservaat by Bloemhof ontleed word, kry in 1963 aandag. “Uit alle streke stuur boere en lede van jakkalsklubs pense van jakkalse wat hulle doodgemaak het.”
Die navorsing kon vasstel jakkalse verkies verskeidenheid. Nadat 85 van die beoogde 500 jakkalspense ontleed is, vind hulle “hierdie vleiseter verorber sommer ’n groot hoeveelheid plantmateriaal”.
“In die pense het ons tot sewe verskillende soorte bessies gekry. Selfs grondbone en wilde vye is op sy spyskaart. En insekte! Mense, dit is miskruiers, rysmiere, duisendpote, krieke . . . In een pens het ons nie minder nie as 72 koringkrieke gekry,” sê mnr. N.R. Grafton, assistent-vakkundige beampte. In die jakkalspense is ook oorblyfsels van voëls, muise, hase, springhase, krimpvarkies, skilpaaie, akkedisse,
koggelmanders, slange en aas aangetref. “Slegs vyf of ses van die pense het ook skaapwol en kloutjies bevat.”
GOLWE VAN SUKSES?
Ou uitgawes van Landbouweekblad wys die probleem met roofdiere het in golwe gekom. Mnr. Koos Kearney, voorsitter van die Loeriesfonteinse probleemdierklub, sê jakkalse en rooikatte het die vorige 12 maande sowat 6 000 lammers in hul omgewing gevang, skryf Landbouweekblad in 2004. Hul probleme met roofdiere het ’n lang aanloop.
Met die verdeling van plase in kampe en die omheining daarvan met jakkalswerende heinings, is diere se bewegings beperk. Teen die 1930’s het hulle begin om probleemdiere te bestry en teen die vroeë 1950’s het dit gelyk asof hulle die probleem oorkom het.
Kearney sê boere het gerus geword en nie hul drade in stand gehou nie en ook nie klein veranderinge in die veld waargeneem nie. Twintig jaar later het die probleem opnuut begin. Teen die 1990’s was dit só erg dat hulle die probleemdierklub in 1992 gestig het. Hy sê daar is ander diere, soos dassies, hase en kleinwild, om te vreet, “maar ’n skaaplam is mos ’n baie makliker prooi as ’n haas wat ingehardloop moet word”.
DIE ‘SUPERJAKKALS’
Aangesien die swakste jakkalse en minder slimmes eerste uitgevang raak en die “nóg slimmer jakkalse” voortspruit uit die slimmes wat oorbly, het boere begin vrees dat ’n soort superjakkals geteel word “in die oorlog teen die rooijakkals”.
Dié kwessie is in 1998 weer te berde gebring. Mnr. Pat Marincowitz van Prins Albert sê jakkalse het nie natuurlike vyande nie, maar het ’n “fantastiese vermoë” om mense te uitoorlê. Hy dink dat die mens dalk al die dom jakkalse gaan doodmaak en net die superslimmes sal oorbly.
’n Naamlose boer sê daar kan feitlik net met kleinvee in die Karoo geboer word. Swakker vleispryse en ’n kleiner inkomste uit wol noodsaak groter produksievolumes om boere se inkomste te handhaaf. Maar dan móét skade weens probleemdiere so goed moontlik beperk word.
Dit is waar mnr. Peter Schneekluth, ’n voormalige natuurbewaarder van Prins Albert, in die prentjie kom. Hy meen ’n mens kan die stryd teen “ongediertes” net wen as jy behoorlik teen hulle oorlog maak. Die “enigste twee werklike wapens teen ongediertes” is die “korrekte toediening van die regte gif en ordentlike slagystertegnieke”.
Schneekluth het ’n video oor jakkalsjagtegnieke gemaak waarop hy wys “hoe slim en netjies” ’n mens ’n slagyster moet stel. In die 15 jaar voor 1999 bied hy ook 350 kursusse vir boere in Suid-Afrika, Namibië en Botswana aan.
Boere het mettertyd “sagter” maniere ontwikkel om jakkalse en rooikatte van hul vee weg te hou. Mnr. Klaas Louw van Loeriesfontein haal Landbouweekblad in 2004 met sy Dead Stop-metaalhalsbande om lammers teen probleemdiere te beskerm.
Mnr. André Theron van Merweville ontwikkel in 2009 ’n alarm met “flikkerende ligte en onvoorspelbare geraas” om rooijakkalse uit lamkampe weg te hou. Dit word in die veld geplaas. Die alarm laat ’n skril sirene en ’n hoë frekwensieklank met wisselende tussenposes afgaan, terwyl ’n wit flikkerende LED-stroboskopiese lig jakkalse verder afskrik.
21STE EEU
Die besef van klimaatsverandering en die tempo waarteen biodiversiteit vernietig word, het die afgelope drie dekades begin inslag vind en boere anders oor veld, vee en roofdierbestryding laat dink.
In 1998 skryf mnr. Piet van Wyk van Klaarstroom boere moet leer om met die natuur saam te leef en moet na die swak punte in hul eie bestuurstelsels soek. “Waar jy gereeld jou skape na ander kampe skuif, is jou probleem kleiner. Ons het sowat 40 kampe en ons skuif die skape elke drie tot vier dae. Boere is geneig om dit nie te doen nie. Sommige boere se skape loop 365 dae in een kamp.”
Ná 2000 tree mnr. Niel Viljoen, Merinoboer van Loxton, na vore as een van die voorste kenners van rooijakkalse en rooikatte. Hy spreek boere toe en was een van die skrywers van die roofdierboek.
In 2012 gee Viljoen wenke vir suksesvolle roofdierbestuur. Dit sluit in die identifikasie van kerngebiede op die plaas waar bestuur toegepas moet word, grensdrade wat “reg en toe” is en goeie waarneming en monitering.
“Die bestryding van roofdiere moet reg deur die jaar plaasvind. Gebruik slagysters, vanghokke en ander vangmetodes bykomend tot nagtelike roep-en-skiet en ander beheermetodes. Bly weg van gif. Verander bestuursen beheerstelsels: ’n Jakkals leer vinnig en bestuursprogramme moet gereeld afgewissel word.”
BOERE EN PARK HAAKS
Namate meer grond ná 1994 vir bewaring gereserveer is, het die uiteenlopende doelwitte van parkowerhede en boere begin duidelik word. Landbouweekblad skryf in 2005 en 2018 oor boere van Kamieskroon se stryd om die personeel van Namakwa Nasionale Park te oortuig om goeie buurmanskap aan die dag te lê.
Hoewel die boere nie gekant is teen bewaring of die bestaan van ’n park nie, kla hulle “steen en been” oor parkamptenare se laissez-faire-houding teenoor die instandhouding van grensheinings. Vir mnr. Cornelis van der Westhuizen, boer en destyds voorsitter van Agri-Namakwaland, is die ergste scenario dat die park dit vir hulle onmoontlik kan maak om ekonomies te boer. “Die park is vir my as kommersiële boer ’n bedreiging. Parkamptenare hoef nie ’n ekonomiese som te maak nie. My salaristjek lê nie iewers vir my en wag nie. Myne loop in die veld rond.”
Jakkals se kind bestorm daardie draad soos ’n Kalahari-sandduin – bo uit en anderkant af!”