Chris Burgess, Landbouweekblad se redakteur, gesels oor sy eerste oesdag:
Dit was 2001. Ek was nog ’n groentjie in die landboujoernalistiek. Op die ekstensiewe veeplaas in die Oos-Kaap waar ek grootgeword het, was die bietjie mielies, aartappels en lusern wat ons wel geplant het, nooit genoeg om enige noemenswaardige masjinerie te regverdig nie. Die grootste werktuig wat ek kan onthou, was oom Beyers Naudé se ou, geel stroper wat my pa se koring op die ou plaas kom oes het.
Daar ry ek en my vriend Darren Taylor toe in my ou plaasbakkie van Johannesburg Bothaville toe. Met ’n tent, slaapsakke, ’n koelhouer vol bier en vleis, asook ons vlieghengelstokke met die plan om ’n paar geelvis in die Vaalrivier te gaan soek op pad terug.
“Ons slaap sommer by die dorpsdam,” stel ek vir Darren gerus. “Elke dorpie het tog ’n dorpsdam!”
Ons kom laat aan by Nampopark, en loop ons draaie.
Laatmiddag gaan soek ons tevergeefs die dorpsdam. Toe ons verby die propvol woonwapark langs Nampopark ry, besef ons dat ons dalk in die moeilikheid kan wees. Teen agtuur daardie aand, steeds sonder slaapplek, besluit ons om maar eerder iets te gaan drink en ons opsies te heroorweeg.
In Bothaville se hoofstraat staan die bakkies saamgedrom om ’n soort nagklub. Ons begin lekker kuier met ’n klomp manne van Hoopstad. Teen middernag besef ons dat ons stééds nie slaapplek het nie.
“Kom ons kampeer sommer op Nampopark se parkeerterrein!” stel Darren voor. Ná ’n rondgevallery in die donker met tentpenne en slaapsakke kom ons uiteindelik tot ruste.
Darren word die volgende oggend eerste wakker.
Daar is ’n eienaardige gedruis buite die tent, maar Darren moet ’n draai loop, en al doenig met sy broek strompel hy uit die tent, vas in ’n lang tou mense wat reg voor ons tent verbykronkel. Hy knip sy oë in die vroegoggendson.
Ons tent staan in ’n see plaasbakkies en viertrekvoertuie. In die donker het ons ons tent regs langs Nampopark se westelike hek staangemaak.
’n Skare mense staan verbaas en bekyk die petalje van ons tent en Darren met sy los broek.
Uiteindelik merk ’n oom droog op: “Ja, boetie, wanneer ’n man moet gaan, moet jy gaan.”
Binne die tent hoor ek hoe die mense in die tou skaterlag. Deesdae word ons verblyf darem al ’n jaar vooruit bespreek.