LANGASEMS OP FAURESMITH: DRIE DAE, 200 KM (EN ’N STOOMLOKOMOTIEF IN 1974)
Fauresmith 200, die jaarlikse “Comrades van die perdewêreld”, is vandag Suid-Afrika se grootste uithourit. Honderde deelnemers van reg oor Suider-Afrika ry 200 km oor drie dae onder die beskerming van die Uithouritvereniging van Suid-Afrika.
Dirk de Vos jr. onthou die heel eerste Fauresmith-rit in 1974, toe ’n filmspan toevallig ook daar was om ’n dokumentêr te skiet oor dié dorp en sy unieke hoofstraat, waar die treinspoor in die middel van die straat loop. Dit was ’n geleentheid om ’n besonderse drie-in-een-skoot te kry, het die filmmaker besef. Terwyl die kameraman in ’n helikopter oor die dorp vlieg, kan die perde in die hoofstraat nader staan, terwyl ’n skaapwagter en sy diere die spoor oorsteek én die stoomtrein nader dreun.
Die perde, topfiks en gevoer om te hardloop, kon nog tussen die skape kophou, maar toe die trein nader kom met stoomwolke wat uitborrel en die lokomotief skielik kliphard fluit, het hulle stalle toe laat spat, met ruiters wat klou om bo te bly.
Toe Pat Edwards met die grond kennis maak, het die ou skaapwagter uitgeroep: “Ag, jirre, daar trek die ouvrou ook!”
Die uithouritlegende Ami de Wet (83) het gelag toe hy in
1974 van die rit gehoor het, want “geen mens kan ’n perd so ver ry nie”. Hy het eers die volgende jaar besluit om self te probeer.
Ysreën en mis het op dag een neergedaal. Hy het eers ná donker die skouterrein gehaal, van sy perd afgegly en ’n hand vol pynpille by die veearts, dr. Hercu van Niekerk, gevra. Daardie aand kon hy nie uit die bad opstaan nie — hy moes die badprop met sy toon uitwoel, omrol en handeviervoet uitklim.
Vandag het hy Fauresmith al 35 keer voltooi en meer as 80 000 km mededingend te perd afgelê. — PAUL VAN DAM