Boer se beste vriend
Daar is waarskynlik nie ’n plaas in Suid-Afrika sonder ’n hond of drie nie — jaghonde, waghonde, skaaphonde, spoorhonde, stoephonde . . . Heléne Booyens vertel
van ’n paar Landbouweekblad- boere en hul honde.
Reeds vanaf die eerste uitgawes van Landbouweekblad praat boere saam oor hul honde. In die 1920’s is dit veral die deug van verskillende honderasse om jakkalse, oftewel vossie, te jag. “Ons beste en trouste honde sal ek geen geld ter wêreld voor vat,” skryf in A.C. Pretorius in 1920. “Want waar hulle vossie gekry het, haal hulle hom uit, al is dit in die gate, en dood is sy naam.”
Getroue jaghonde wat na die hiernamaals is, se prestasies raak oor die jare net beter. Sy ou Harrier Foxhound-kruis, Jumbo, word steeds “hoog geroem”, vertel P.S. de Klerk van East Poort in 1945. “Hy was kort op sy bene en het my altyd aan ’n likkewaan laat dink. Maar menige jakkals se slimstreke is deur ou Jumbo se neus en uithouvermoë uitgepluis.”
Jumbo, ’n stadige kêrel, kon nie ’n jakkals inhardloop nie, maar ná die ander honde uitge
sak het, het hy steeds ewe paraat agterna gewaggel. “Hy het aangehou tot die jakkals flou was. Een jakkals het tot in ’n dam gespring. Maar ook as swemmer was Jumbo sy tier.”
Party streke se honde is meer doeltreffend as ander, luidens Landbouweekblad se briefskrywers. In Hoopstad is die honde nie man genoeg om “vossie op sy plek te sit nie”, kla Philip Jacobs van Kareepan in 1920. “Ons het al sewe jagte gemaak en maar net een vossie se oë toegedruk.”
Landbouweekblad bring deur die jare ook nuus oor hoe om honde op die plaas te benut. Veral die skaaphondpionier mnr. Ron Philip, wat met vee by Burgersdorp en later by Bredasdorp en Caledon geboer het, skryf in die 1960’s en 1970’s gereeld artikels. Ron se seun, Andrew, vertel dat sy pa skaaphonde op 98 verskillende dorpe se skoue vertoon het om boere bewus te maak van hoe nuttig hulle is. “My pa was ’n ware showman. Hy het van kleins af vir die gesin se honde allerhande toertjies geleer. Sy pa, my oupa, het toe besluit om vir hom ’n kelpie te koop. Die hond se naam was Snogs. Snogs het die groot Romney Marsh-skape een kyk gegee, dwarsdeur hulle
gehardloop, en in die bosse verdwyn. My oupa, ’n vurige man, het die .22 gekry om die hond te skiet, maar die skoot was mis – dit het deur sy oor gegaan.
“My oupa besluit toe om die hond ’n tweede kans te gee. Snogs hardloop weer weg – deur die buurman se draad, wég. Hy roep en roep – en toe kom Snogs terug, met die buurman se skape wat hy bymekaargemaak het. Toe weet hulle, die hond gaan plaaswerk onder die knie kry.”
HONDESTORIES
Hondestories is amper so volop soos visstories, en Landbouweekblad het die afgelope eeu honderde gepubliseer.
In 1935 gaan jag P.H. de Necker van Fauresmith langs die Magalekwynrivier met sy broer Kobus, elkeen met ’n hond wat met ’n osriem aan hul lyf vasgemaak is. By ’n trop wildebeeste storm Kobus se hond met osriem en al tussen sy bene deur. “Ai, ek sien hom vandag nog hoe hy bene in die lug, kop na onder en geweer in die hand deur die lug trek,” skryf De Necker in 1979.
In 1978 voer mnr. Chipper Kingwill van Bredasdorp ’n teef, Maid, van Skotland in. Maid verstaan net Engelse bevele wat in ’n swaar Skotse aksent gegee word, en haar baas moet noodgedwonge ’n bandopname van haar bevele, fluite en woorde saamkry en leer praat met só ’n Skotse aksent sodat hulle mekaar met die skaapaanjaery sal kan verstaan. Einste Chipper is ’n paar jaar vroeër na die wêreldkampioenskap in Newark, New Jersey, waar die verrigtinge gestaak moes word toe een verbete hanteerder só hard vir sy hond gefluit het dat hy sy valstande uitgeblaas het – en dit eers op die grond moes soek.
In 1976 skryf dr. Lucas Potgieter, Landbouweekblad se vuurwapenkenner, hoe sy Bulterriër Taffie alewig geelwortels, druiwe, perskes, vleis, pap en tafelpote wil vreet, en ’n hekel het aan goed wat onnodig lawaai maak. “Sou ’n keffer in sy ore blaf, vat hy hom aan die keel en druk sonder seremonie sy blafpyp toe. Ja, ek is lief vir my Bulterriër — net jammer dat hy my so nou en dan laat skaam kry.”
In 2018 verdwyn mnr. BP Greyling van Wakkerstroom se basterhondjie, Tjommie, op die Nampo-oesdag, en almal is “in trane van blydskap” toe sy meer as tien uur later naby die silo’s opgespoor word. (Sy is daarna met twee skaaptjoppies bederf.)
Só kan ’n mens aangaan: Jaghonde, waghonde, werfhonde, “brakke vir gate”, spoorhonde, en sommer net vir geselskap. Waar daar ’n hond is, is daar ’n storie.