Van wildvang tot wegholpryse
Wild in Suider-Afrika het die afgelope halfeeu van ’n kantlynbedryf tot groot boerderye gegroei, skryf Jasper Raats. Landbouweekblad het dit van sy kinderskoene af gevolg.
In 1962 verskyn filmregisseur Howard Hawks se rolprent Hatari op die silwerdoek. Dit is John Wayne en sy span avonturiers wat in die noorde van Tanzanië wild vang vir dieretuine reg oor die wêreld. Dit is gevaarlike werk, maar die geld is goed en die leefstyl is enige buitelugliefhebber se droom.
Buiten ’n bietjie romanse toe ’n jong Michèle Girardon op die toneel verskyn, is die rolprent vol jaagtonele van Wayne en sy span wat met ’n oop vragmotor en Jeep wild agternasit en met vangtoue vastrek.
Toe Hawks die rolprent begin vervaardig het, het hy niks van wildvang af geweet nie en by die SuidAfrikaanse bewaringslegende dr. Ian Player gaan kers opsteek. Player het in daardie stadium bekendheid verwerf vir sy tegnieke om renosters te vang om in reservate te hervestig ( KASSIE op bl. 95). Die wild word ingejaag met ’n voertuig met ’n vanger wat op die enjinkap sit en die vangtou se lus met behulp van ’n lang paal oor die dier se kop haak.
Die wildbedryf was nog klein en pryse laag. Die bekende wildveearts dr. Kobus du Toit sê in 1965 was daar net vier toegespande wildplase (met toestemming om reg deur die jaar te jag) in die destydse NoordwesTransvaal.
DIE EERSTE VEILING
Dinge het begin verander toe die land se eerste wildveiling in 1965 op Hoedspruit aangebied is. Mnr. Willie Roux, die welbekende afslaer van Vleissentraal Bosveld, het die veiling vir mnr. Koos Giliomee aangebied.
Op 88 gesels Willie met nostalgie oor daardie dae. Oor die telefoon kan ’n mens die opwinding in sy stem hoor waar hy uit sy aftreehuis op Louis Trichardt vertel van sy eerste wildveiling.
“Dit was interessante tye en ’n moeilike plek om ’n wildveiling te probeer hou,” onthou hy. “Oom Koos het ’n helikoptervlieënier van Skukuza laat kom om die wild te vang en ek moes Pretoria toe ry om vir dr. Ted Edwards van veeartsenykunde toestemming te vra om die veiling aan te bied.”
Edwards was vanaf 1961 tot 1968 adjunkdirekteur van veeartsenykunde vir die Transvaalstreek en wou aanvanklik niks van die wildveiling weet nie. “Hy het gesê hy wil nie van homself in Londen se koerante lees nie.”
Edwards se kommer was dat bekenklouseer uit die gebied sou versprei saam met die wild wat verkoop word. Later het hy wel ingestem, maar op voorwaarde dat die wild vir 60 dae in kwarantyn gehou word voor dit na hul nuwe bestemmings vervoer word.
Roux vertel dat Giliomee toe maar wildkampe gespan het vir die kwarantyn.
“Daardie dae was daar nie die verdowingsmiddels wat wildveeartse vandag het nie. Dit was ’n gesukkel om die klomp diere in die kampe kalm te hou. Koos het my een oggend gebel om te vertel hy dink hy het uiteindelik ’n manier gekry om hulle te kalmeer. Hy het ’n amplifier met groot luidsprekers opgesit en vir die bokke musiek gespeel,” sê Roux laggend. “Nugter weet of dit regtig gehelp het.”
Willie onthou dat daar daardie dag baie mense op Hoedspruit was. “Die hele SuidAfrika was daar, selfs een koper uit Namibië (tóé nog SuidwesAfrika) wat met ’n vliegtuig aangekom het.”
Die man het ses rooibokke gekoop en voor hy hulle in die vliegtuig gelaai het vir die vlug terug Suidwes toe, het hy elkeen ’n skoot brandewyn ingegee en in ’n streepsak gedruk.
Daardie veiling, sê Roux, het die saadjie vir die wildbedryf geplant. Hoewel wildplase in daardie jare maar yl gesaai was, het hy al hoe meer versoeke gekry om wildveilings aan te bied. “Ek het later vir wildboere veilings gehou in die Vrystaat en in die Kaap, selfs in Namibië.”
Dit was moeilik om wild bymekaar te kry vir ’n veiling. Die plase was nog nie wildwerend
toegespan soos vandag nie en die verkopers was in die algemeen beesboere wat van die wild wou ontslae raak omdat dit met hul beeste om weiding meegeding het.
Roux het egter deurgedruk en die wildbedryf tot op sy kruin gedien. In 2012 het hy sy laaste lotte vir Thaba Tholo as genooide afslaer saam met mnr. Brandon Leer opgeveil.
KLEURVARIANTE MAAK HUL OPWAGTING
Tien jaar ná Giliomee en Roux se pioniersveiling, berig Landbouweekblad oor mnr. J.H. van der Merwe van die Karoo se “goudmyntjie” – ’n kudde van omtrent 300 swart springbokke.
“Van der Merwe het uitgevind dat daar baie méér in steek as wat die meeste mense dink, veral as jy ’n verskeidenheid wild op die plaas het – én swart springbokke daarby!” skryf Jan Cilliers oor dié boerdery.
Van der Merwe het sy plaas, Skietkuil, by Drie Susters al in 1933 toegekamp. Daar was een swart springbok op die reusevlakte waarvan sy grond deel was. Die ram het vyf jaar later gevrek, kort nadat nóg ’n swart rammetjie aangekom het. Teen 1949 was daar 14 swart springbokke, almal ramme – en toe word die eerste swart ooi opgemerk. Daarná het die swart springbokke vinnig aangeteel. Teen 1954 was daar reeds meer as 100 van hulle.
Intussen het die Van der Merwes die gewone springbokke uitgedun. Hulle het ook ander wild, soos gemsbokke, elande, rooihartbeeste, sebras, swartwildebeeste, takbokke, blesbokke, basterwaterbokke en Lichtensteinhartbeeste op hul plaas gehad.
Pleks van die trop springbokke elke jaar self uitdun, het Van der Merwe besluit om trofeejagters na die plaas te nooi. Dit was onmiddellik gewild en sommer gou het omtrent tien jaggeselskappe uit die buiteland jaarliks op Skietkuil kom jag – almal miljoenêrs, volgens Van der Merwe.
SKAARS WILD WORD DUUR WILD
Giliomee word onthou as iemand wat nie omgegee het om jagters wat mooi vra, sommer gratis ’n springbok op sy plaas te laat skiet nie, maar ná daardie eerste veiling van 1965 het sy wild al hoe waardevoller geraak. Skaars wild het so duur geraak dat gewone boere hulle nie meer kon bekostig nie.
Die droogtejare van die vroeë 1960’s het Gravelotte se swartwitpensbevolking erg geknou. Die plaaslike landdros, John Nel, het toe ’n swartwitpensadvieskomitee op die been gebring,
waarin die wildboer mnr. Piet Warren se pa, John, gedien het. Hulle het aanbeveel dat swartwitpense en steenbokke tot kroonwild verklaar word en nie meer gejag mag word nie.
Piet vertel dat dié verbod nie die getalle weer laat groei het nie. Hoop het eers begin opflikker toe die diere só skaars raak dat trofeejagters bereid was om vir hul wild te betaal.
In 1975 het hy ’n versoek van ’n jagondernemer, mnr. Jimmy de Smit, gekry om ’n Amerikaanse kliënt na sy grond te bring om ’n swartwitpens te kom jag. Die R1 000 wat hulle vir die bok betaal het, was byna die prys van vyf beeste.
Namate die trofeejagbedryf ontwikkel het, het die behoefte aan diere met langer horings duidelik geword. Piet het ’n geleentheid gesien. “Ál meer jagondernemers en beroepsjagters het begin meeding om die diere met werklik groot horings.” Hy het sy diere se horings begin meet en min of meer in 2002 het hy begin om die land plat te ry op soek na swartwitpense met besonder lang horings. “By elke wildboer waar ek bokke gesien het wat vir my die moeite werd gelyk het, het ek twee tot vier diere gekoop.”
Hy het bekend geword vir sy swartwitpensteelmateriaal en in 2015 koop mnr. Barend Vorster ’n swartwitpensbul teen ’n rekordprys van R27 miljoen.
’N NUWE ERA
Daar was nog nie weer ’n swartwitpensbul wat naastenby soveel soos Mopanie op ’n wildveiling behaal het nie. Teen 2017 het die wildbedryf, wat ’n dekade lank ’n bloeitydperk van rekordpryse op veilings beleef het, begin taan.
Die wildafslaer mnr. Neil Swart stem saam dat die wildbedryf nou uitenuit op die jagter gemik is en dat daar net enkele van die telers oorgebly het wat tot 2015 nog wegholpryse vir wild op veilings betaal het.
“Buffels met harde horingbasisse en ander trofeebokke verdien steeds billike pryse,” sê Swart. Skaars wild en kleurvariante kry egter swaar. Die klem is weer op gewone wildsbokke, soos koedoes, gemsbokke en waterbokke.
Die bloeityd in die veilingsbedryf het SuidAfrika se jagbedryf egter baie van sy oorsese jagbesoekers gekos. Wild in SuidAfrika was duurder as wat jagters bereid was om te betaal en die land moet hard werk om jagters wat besluit het om eerder in Namibië te gaan jag, terug te lok SuidAfrika toe.
“Baie mense het oor die afgelope jaar uit die wildbedryf verdwyn. Die ouens wat oor is, is die ware wildboere,” sê Swart. Roux stem saam. “Wildboerdery is nou ’n bedryf wat op die kommersiële waarde van die diere geskoei is, net soos beesboerdery, en dit is eintlik baie gesonder.”