IAN PLAYER SE OPERASIE RENOSTER
Die bewaringspionier dr. Ian Player het Suid-Afrika nie net geleer om wild te vang en te verskuif nie, hy het in die proses die renoster van uitwissing gered.
Teen 1952 is Suid-Afrikaanse grootwild ál meer uitgeskiet om vir veeboerdery plek te maak. Daar was skaars 300 witrenosters oor toe Player begin het om hulle te vang en na reservate in KwaZulu-Natal te verskuif.
Teen 1970 het renostergetalle so goed herstel dat Player die wêreld vol gereis en renosters aan private reservate verkoop het. Só het die suidelike witrenoster die eerste dier geword wat van die internasionale natuurbewaringsorganisasie IUCN se lys van bedreigde soorte verwyder is. Teen 2014 het Suid-Afrika se witrenosterbevolking op ’n geskatte 20 000 diere gestaan.
Renostergetalle het egter begin daal toe die minister van omgewingsake in 2009 ’n moratorium ingestel het op die plaaslike handel in renosterhoring. Die onwettige jag van renosters het toegeneem. ’n Kenner, dr. Kobus du Toit, reken daar is tans waarskynlik minder as 3 000 renosters in die Krugerwildtuin oor.
Mnre. John Hume en Johan Kruger het ná ’n jare lange hofstryd daarin geslaag om die minister te dwing om die moratorium op te hef en in Augustus 2017 het Suid-Afrika sy eerste aanlyn-veiling van wettige renosterhoring gehou.
Die deur vir internasionale handel bly egter toe en hoewel Swaziland by die Cites-konferensie van 2016 aansoek gedoen het om in renosterhoring handel te dryf, reageer die Suid-Afrikaanse departement van omgewingsake nie op boere en bewaringsgroepe se pleidooie nie.