Ode aan die boorman
In 1970, Suid-Afrika se Waterjaar, gesels E.M. Botha met die boorman-waterwyser oom Maan van Rensburg, wat oor vyftig jaar meer as 4 000 gate aangewys en geboor het.
Egte waterwyser-boormanne is vandag nie meer so volop nie, want geoloë het ’n deel van hul werk oorgeneem. Maar vroeër was dit húlle wat in die soektog na bruikbare ondergrondse water die boer se vernaamste staatmakers was. Húlle het gesê waar geboor moes word, self die boormasjien daar staangemaak en self die water wat hulle aangewys het, gaan uithaal.
Sy eintlike kontrei is Smithfield, maar sy boormasjien het hom dikwels na ander plekke geneem. Hy is Johannes Hermanus van Rensburg gedoop, maar in sy vyftig jaar as boorman-waterwyser het hy reeds feitlik oral as oom Maan bekend geword. Boekgeleerdheid het hy nie. Toe hy die eerste keer die woord “geoloog” onder oë gekry het, moes hy in ’n woordeboek gaan naslaan om te weet wat dit beteken. Maar hy het ’n fyn kennis van die aardkors; hy weet waar die waterare is en hoe hulle loop. Dít het die natuur hom geleer.
Ondervinding was sy skool, en die vyftig jaar saam met die boormasjien het hom ’n waterkennis besorg wat nie in boeke opgeteken staan nie. Hy gebruik geen wiggelstokkie, waterbottel, beentjies, draad, pype of ander soort “goëlgoed” nie. Sy oë sê vir hom waar die waterare loop, waar hulle bymekaarkom en presies op watter plek die gat geboor moet word.
Oom Maan is al van sy sestiende jaar af met boormasjiene
deurmekaar. In die 1920’s het hy as handlanger by ’n boormasjien ingeval. Dit was die tyd toe stoom nog die dryfkrag aan die boormasjien gegee het. Sy werk was om snags eenuur op te staan en dan die vuur aan te pak sodat die stoomenjin teen ligdag kon begin loop.
Oom Maan wys self die plek aan waar hy wil boor. Sy oog is sy kompas. Hy glo daaraan dat vooraf ’n grondige en nougesette studie van die plantegroei en kliplae en - formasies gemaak moet word, omdat dít die dinge is wat aandui waar die ondergrondse water is.
Hy is nie haastig as hy na water soek nie. Hy sal dae lank met groot konsentrasie speur totdat hy op die terrein waar hy moet boor, die sterkste wateraar vind.
In 1951 het oom Maan vir hom ’n Jeep aangeskaf om makliker oor die weg te kom. Voor dit was ’n trapfiets sy vervoermiddel. Met die fiets het hy dikwels kortpaadjies deur die veld gekies en terselfdertyd waterare van die een plaas na die ander gevolg. Só het hy mettertyd die waterare op sommige plase soos die binnekant van sy hand leer ken.
Die boormasjien waarmee hy vandag nog werk, is dieselfde een waarmee hy jare gelede begin het. Hy glo aan dié boormasjien omdat hy hom ken en verstaan. “Die nuwe goed is mos pure blik,” sê hy.
As ’n onderdeel breek, vervang hy dit, maar sy boormasjien vir ’n nuwe verruil? Dit sal hy nie. Daarvoor is hy en sy boormasjien darem nie gister of eergister se spanmaats nie. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was onderdele onverkrygbaar en oom Maan was by geleentheid verplig om ’n gebreekte onderdeel uit hout te vervaardig.
Hy het die geduld van ’n bedrewe vakman en in sy werk kan hy pynlik presies wees. Hy sal sukkel tot hy die boormasjien haarfyn op die kolletjie het waar hy wil boor. Dit is bekend dat hy op een plaas die boormasjien met ’n koevoet feitlik duim vir duim verskuif het tot hy dit sekuur op die regte plek gehad het.
As hy sy lewe voor kan begin en weer kan kies, sal dit maar weer die reëlmatige gedoef-doef van die stamper wees, die spanningsvolle afwagting terwyl die boor die aarde dieper en dieper binnedring, en dan die opbruisende genoegdoening en vreugde as die gat uiteindelik sy water blinkstraal lewer.