Onstuimige vaarwaters
Die politieke oorgang van 1994 het verreikende gevolge vir die landbou gehad.
Jean du Preez, redakteur van 1999 tot 2007, onthou dit so.
Met die koms van demokrasie in 1994 was die onsekerheid in die landbou tasbaar. Immers het boere sentraal gestaan in die groot debat wat toe al gewoed het, naamlik die grondkwessie. Vreemd genoeg, was dit toe egter nie grond wat destyds gelei het tot ’n vertrouensbreuk tussen boere en die regering nie, maar die afskaffing van die beheerrade – daardie beskermende sambreel wat tóé al ’n leeftyd oor boere se koppe gehang het.
Ook vir Landbouweekblad was dié wending ’n reuse-uitdaging. Sy goue reël was immers nog altyd: Stuur sover moontlik weg van politiek en godsdiens, los dit vir die dagblaaie, stel jou lesers met praktiese, toepaslike inligting in staat om winsgewend en volhoubaar te boer.
Skielik was dié redaksionele benadering nie meer die kolskoot van ouds nie. Die wendings vanaf 1994 het die tydskrif daardie tyd letterlik by die politiek ingesuig.
Sentraal in die deregulering-era was die name Derek Hanekom (Nelson Mandela se keuse om as minister van landbou by Kraai van Niekerk oor te neem ná die kortstondige regering van nasionale eenheid) en Eckart Kassier, die legendariese landbou-ekonoom wat die aanvoorwerk vir die afskaffing van die beheerrade gedoen het.
Ek onthou goed hoe ’n klompie van ons landboujoernaliste Hanekom kort ná sy aanstelling as minister van landbou in ’n restaurant in die Waterfront ontmoet het om te hoor waarheen hy die landbou gaan vat, maar ook om ’n verhouding met hom te probeer opbou.
Op ’n vraag hoekom hy dink Madiba hom gekies het, was sy antwoord pylreguit: Hy weet nie
vreeslik baie van die landbou nie, hy dink dit is maar oor hy ’n baard het en Afrikaans kan praat. “Madiba het dalk gedink dit sal aanklank vind by boere.”
Die teendeel het toe ongelukkig gebeur. Hanekom se gewraakte Esta-wetgewing wat gehandel het oor plaaswerkers se sekerheid van verblyfreg, maar veral sy valbyl-benadering om beheerrade binne ’n jaar af te skaf, het spoedig gelei tot ’n onrusbarende kloof tussen die regering en boere.
FELSTE KRITIEK NÓG
Toe Hanekom vir Kassier om vieruur op Oukersdag van 1996 bel en sê: “Daar kom ’n nuwe bemarkingswet, jy moet op 1 Januarie 1997 in Pretoria aanmeld en ’n span saamstel om dit deur te voer,” was die sneller getrek vir seker die felste kritiek wat Landbouweekblad nóg op ’n minister van landbou en die regering gelewer het.
En Kassier het – nou met terugblik – eintlik onregverdig in dieselfde visier gekom. Wat in daardie onstuimige tye onbekend was, was dat hy en die destydse landbou-DG, Bongi Njobe, albei ernstige besware gehad het oor die spoed waarteen Hanekom die bedryf gedereguleer het.
Njobe het dit later so aan my verwoord: “I say this with reflection. I still believe if Hanekom wasn’t so hostile at the beginning to push through the Marketing Act, there could have been room to manage the process better; to enable the development of black farmers and make market access more effective for them.
“It was a horrendous piece of legislation. And we are still bearing the consequences of it today. We simply did not build a healthy relationship between government and the industry.”
Ek was nie ’n hoofredaksielid van Landbouweekblad in daardie jaar nie, maar die felheid van die kommentaar en veral die spotprente was opvallend.
Een spotprent bly my by: Kassier wat vrolik dans op die grafte van die Mielieraad, die Piesangraad en nog ’n paar ander. Dit was onvanpas, gegewe wat agter die skerms gebeur het.
Persoonlik het ek gedink Landbouweekblad het in sy hoofartikels en sy meningsrubriek, Manie, in die laat 1990’s te pessimisties geraak.
Dan weer, gegewe Njobe se opsomming van daardie tyd, moet ’n mens begrip hê vir my voorganger, Pienaar Smit, se benadering.
‘JY WORD
DIE REDAKTEUR’
Nietemin, einde 1998 ontbied Smit my na sy kantoor en sê ek word oor ’n maand Landbouweekblad se nuwe redakteur. Jy kon my met ’n veertjie omtik.
En skielik sit ek self midde-in een van die grootste storms wat toe steeds in die landbou woed.
Senior redaksievertrouelinge het besef Landbouweekblad kort ’n ander benadering in kommentaar en redaksionele posisionering, ’n meer versoenende een.
Uiteraard het dit nie oral ewe goed afgegaan nie. Landbouweekblad het nog altyd ’n uiteenlopende leserskorps gehad, naamlik ’n verligte sektor en ’n meer behoudende een.
Kort in 1999 begin die kommentaar toe inkom: Hulle sien Manie veg nou nie meer kaalvuis nie, hy dra handskoene. Die ontstellendste een was ’n koevert wat op my lessenaar beland het. Daarin was ’n foto van die kop van ’n wit wolf; in sy bek ’n bebloede stuk vleis. Met daaronder hierdie woorde: “Vir wat jy aan die Afrikaner doen, sal ons jou kry. Pasop!”
Nietemin, in 1999 verwyder
Thabo Mbeki Hanekom uit sy pos en stel Thoko Didiza aan. Skielik lyk dit asof nuwe lewe in die sektor begin opvlam. Ek het by geleentheid geskryf sy lyk soos die spreekwoordelike verpleegster wat boere se wonde moes kom heel nadat Hanekom sonder narkose ’n opehartoperasie op hulle uitgevoer het.
Haar voordeel was dat sy ’n rukkie onder Kraai gewerk het en toegankliker vir boereleiers was – soveel só dat hulle haar later selfs Sis Thoko genoem het. Sy’s ’n hoogs intelligente vrou, welsprekend en met ’n verstommende vermoë om iets in ’n oogwink op te som.
Vir my as redakteur was dit dus belangrik om te verstaan wat in haar kop aangaan. Kort ná haar aanstelling het ek tydens ’n onderhoud met haar die indruk gekry haar benadering word nogal goed verwoord deur die skildery van ’n bergpas met verskeie haarnaalddraaie wat in die ontvangslokaal van haar groot kantoor in Pretoria gehang het.
Onderaan was dié enkelsinwaarheid: A bend in the road is not the end of the road – unless you fail to make the turn.
My opsomming van haar was ’n eerlike soeke om boere deur daardie haarnaalddraaie te neem op pad na ’n verenigde, vooruitstrewende landbousektor.
Later daardie jaar besluit Landbouweekblad om vir die eerste keer in sy geskiedenis ’n landwye meningsopname te laat doen oor hoe lesers die tydskrif se inhoud ervaar, maar veral ook, hoe hulle die drastiese veranderings in die sektor, en spesifiek grondhervorming sien.
Die uitslag deur Markinor (deesdae Ipsos) het die nuwe redaksionele posisionering bevestig. Veral van belang was die bevinding dat die meeste kommersiële boere ordelike grondhervorming steun.
Dit het regstreeks ingedruis teen die openbare debat wat in daardie stadium gewoed het: Dat boere vasskop teen verandering. Uiteraard was dit hoofnuus in ons volgende uitgawe, maar ook in Rapport.
Die reaksie was oorweldigend optimisties, dermate dat ons versoek is om ’n Engelse opsomming van die meningsopname te maak en dit aan Mbeki en Didiza te stuur.
Dit het ek persoonlik gedoen – en ’n gloeiende epos van Mbeki terugontvang oor die belangrike rol wat Landbouweekblad in die bou van ’n verenigde landbousektor speel.
BAIE PLANNE, MIN UITVOERING
Dit het egter nie maanskyn en rose gebly nie, veral nie tussen my en Didiza nie. Sy was waarskynlik die beste van die ministers van landbou sedert Kraai, maar soos die jare aangestap het, het ek algaande begin opmerk hoe baie nuwe landbouplanne sy die lig laat sien – sonder tasbare uitvoering. Hulle had almal lang, indrukwekkende name, so lank dat almal maar op hul afkortings genoem is.
Daar was voortdurend werksessies – seker die grootste euwel van daardie tyd. Want staatsamptenare het geglo as hulle daar uitstap, is die werk gedoen. In ’n stadium skryf ek in Manie as Didiza só aangaan om nuwe planne uit te draai, gaan daar later nie meer letters in die alfabet oor wees om afkortings te maak nie.
En toe sy in ’n stadium vir boere sê: “It’s time for you to walk the talk”, het ek in kommentaar opgemerk dit voel vir my sy raak toenemend arrogant, sy’s lief “to talk the walk”, en dan die verantwoordelikheid op boere af te skuif. Oor dié teregwysings was sy woedend, het wyle Attie Swart, toe een van haar adjunkDG’s, my diskreet laat weet.
’n Week later loop ek Didiza by ’n landboukongres in Kimberley raak. Die onderonsie wat tussen ons twee op pad na haar ampsmotor gevolg het, het later só heftig geword dat haar motorbestuurder tussen ons kom staan het.
Dit is asof ek en ander redaksielede net nooit ’n vertrouensverhouding met haar kon opbou om waardevolle insig te kry oor die regering se planne vir die landbou nie. En dan was haar grootste Achilleshiel maar daardie euwel wat die regering nog al die jare gerem het: Goeie planne, gebrek aan uitvoering.
Ná Didiza moes die landbou ongelukkig voortploeter met stomp potlode, soos Lulu Xingwana en Tina JoematPettersson, met ewe min talent aan die grondsakekant.
Dat die sektor is waar hy vandag is, kan in ’n groot mate na die aanstelling van opeenvolgende treurige ministers – en ’n nóg groter wisseling in direkteursgeneraal van landbou – teruggevoer word. Daaroor het Landbouweekblad hom oor die jare met reëlmaat in sy kommentaar onomwonde uitgespreek. Ook dat boere voortdurend die skuld kry vir als wat verkeerd loop, terwyl die knoop elders lê.
Eers nou, met die oorverhitte grondkwessie, word boere uiteindelik nader getrek vir gesamentlike beplanning en skemer erkenning deur dat die regering die landbou jammerlik in die steek gelaat het.
En, soos hy oor dekades ’n rigtinggewende baken in onstuimige tye was, was Landbouweekblad nou weer die katalisator om ’n nuwe landboutoekoms te help uitbeitel. Insiggewend genoeg hier in sy honderdste bestaansjaar!
Jean du Preez is oudredakteur van Landbouweekblad (1999-2007).
Derek Hanekom se valbyl-benadering om beheerrade binne ’n jaar af te skaf, het spoedig gelei tot ’n onrusbarende kloof tussen die regering en boere.