ONS BOERE EN HUL BYNAME
Hy ken amper nie ’n boer wat nie ’n bynaam het nie, skryf Johan van Wyk in 2007:
Eens op ’n tyd was ouer boere meer bekend aan hul byname as hul ware name en vanne. Deurdat dit van die een geslag tot die volgende oorgedra is, het familie-byname selfs ontstaan. Dié mooi gebruik het karaktertrekke, voorkoms, gewoontes, postuur en plaasname verewig.
Namakwaland, die Boesmanland, die ou Suidwes, die Groot-Karoo en verál die verre Noordweste van ou Kaapland, is natuurlik die mekka van byname in Suid-Afrika. Die wydheid van dié ongenaakbare, eensame wêreld, die stryd teen droogte en die noodsaaklikheid van ’n uitsonderlike soort humor, het waarskynlik baie daarmee te doen.
Hier is ’n paar voorbeelde “Afrikaner- clans” met beskrywende byname.
Van Wyk: Beenpense, Mollies, Braame, Poedels, Hoepels en Floorse. Almal so genoem om verskillende families, wat eintlik maar almal familie is, van mekaar te onderskei.
Visagie: Gonsies, Arke en Galtone.
Steenkamp: Sparkse, Arries en Maanse.
Nel: Hardehande, Bleeks, Blouvoëls, Dape en Strechers.
Van der Merwe: Blikkies, Russe en Vetbroeke.
Van Niekerk: Hoppiedaais, Tielies, Talies, Dik Janne, Osneuse, Bulkoppe, Broek se Gatte, Kollies en Bokkies.
Individuele byname: Karel Witbroek, Kruppel Eeljas, Kort Jannie, Rooi Daantjie, Bont Schalk, Wit Schalk, Dowe
Koos, Isak Bok, Jakob Erdman, Gerrit Haas, Jan Keb, Willem Karba, Willem Donkiebek, Willem Kortnek, Jakob Ponie, Koos Naald en Gert Perd.
Benewens persoonlike byname is boere se voorname natuurlik ook gekoppel aan hul plase. Jy het nie van Johannes van Wyk gepraat nie, maar van Johannes Sandkraal.
Selfs die name van boere se vroue was aan plaasname gekoppel: Marie Droëkloof was die boervrou van Droëkloof.
Engels was ook nie gespaar nie: Toe Willem Boom (Steenkamp) van die Roggeveld se vrou ’n oorsese reis as prys wen en hy saamry, het hy met sy terugkoms vertel die koningin van Engeland het hom tot ridder geslaan. Hy sou voortaan bekend wees as “Sir William Tree”!